praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Tuesday, 22. May 2012

Bygewerk op:07:38:23 AM GMT

Jy is hier: Johann Wingard Bernie Madoff: Die grootste swendelaar van alle tye

Bernie Madoff: Die grootste swendelaar van alle tye

E-pos Afdruk PDF
Image

Bernard Lawrence "Bernie" Madoff het die twyfelagtige eer as die grootste swendelaar van alle tye verwerf. Hy kom van 'n gewone Joodse familie in New York. Sy pa, Ralph, was eers 'n loodgieter voordat hy aandelemakelaar geword het. Dinge het beter gegaan en sy seun Bernie kon sy höerskoolloopbaan voltooi en universiteit toe gaan. Bernie behaal 'n graad in politieke wetenskap aan die Hoffstra-universiteit.

Hy trou met Ruth Alpern, sy eertydse skoolnooi by wie hy twee seuns, Andrew en Mark het. In 1960 stig hy die Wallstraatse firma Bernard L. Madoff LLC en mettertyd word hy die voorsitter van die NASDAQ-aandelebeurs. Sy firma word een van die topmarkmakerfirmas van Wallstraat. Sy broer, dié se kinders en sy eie twee seuns werk naderhand vir sy firma wat as een van die suksesvolste en invloedrykste beleggingshuise in New York beskou was.

Honderde duisende beleggers het hul geld aan sy firma toevertrou, min wetende dat hy besig was om die heel grootste piramideskema (Amerikaners praat van 'n Ponzi-skema) van alle tye te bedryf. ('n Piramideskema is een waar later beleggers se geld gebruik word om vroeër beleggers met buitensporige opbrengste mee terug te betaal.) Tydens die hofsaak vroeër vanjaar is onthul dat nagenoeg $65 miljard van slagoffers se swaarverdiende spaargeld, pensioenfondse en liefdadigheidsorganisasies se trustgeld so by hom belê was.

Op 10 Desember lig hy sy seuns in dat hy etlike miljoene rande vroeër as beplan aan bonusse wou uitbetaal. Sy seuns wou egter weet hoe hy kon bekostig om bonusse te betaal as hy nie sy beleggers kan betaal nie. Hy het toe glo gebieg dat sy batebestuursmaatskappy "een groot leuen" is. Geskok bespreek hulle dit met hul prokureur, wat die saak die volgende dag by die owerhede aanhangig maak.

Madoff word deur die FBI gearresteer en van sekuriteitebedrog aangekla. Die ironie is dat die sekuriteitsowerhede (die SEC) sy firma reeds in 1999 ondersoek het nadat klagtes deur ontleders ontvang was, maar hulle kon destyds niks ongerymds vind nie.

Tydens ondervraging kom dit aan die lig dat Madoff sy piramideskema in 1991 begin het. Hy erken dat by nooit enige geloofwaardige of legitieme beleggings met sy kliënte se geld gemaak het nie, maar dat hy dit eenvoudig net so in sy eie besigheidsrekening by die Chase Manhattan Bank gestort het, waaruit hy opgeblase opbrengste aan sy kliënte betaal het, selfs tydens die latere ekonomiese resessie. Hy het in die hof erken dat hy vals handelstransaksies, buitelandse oordragte en geldwassery gepleeg het om sy aktiwiteite teenoor die owerhede te verbloem.

Madoff besef toe uiteindelik dat sy hele kaartehuis inmekaar getuimel het. Die resessie het te diep gesny en nuwe beleggers kon nie meer gevind word om die kontantvloeistroom te bestendig nie. Hy het geen ander keuse gehad as om met die hele sak patats vorendag te kom nie.

Einde verlede maand, op 29 Junie, vonnis regter Chin vir Madoff tot 150 jaar tronkstraf. Met vonnisoplegging het Madoff aan al sy slagoffers verskoning gevra: "Ek laat 'n nalatenskap van skande aan my familie en kleinkinders na. Dit is iets waarmee ek vir die res van my lewe sal moet saamleef."

Regter Chin het daarop gewys dat hy geen pleidooie of briewe van enige familie of vriende ter versagting van vonnis ontvang het nie. "Dit sê vir my iets," was die regter se kommentaar.

OP 71-jarige leeftyd word Bernie Madoff, die bekende New Yorkse filantroop, miljardêr, gesinsman en finansiële leier weggelei as eensame gevangene nommer #61727-054 na New York se Metropolitan Correction Center.

Soos die winter ongewenste plante, insekte, kieme en peste uitroei, het 'n resessie die neiging om onwettige skemas uit te roei wat tydens voorspoedjare wortel skiet en opbloei.

Lees gerus: http://en.wikipedia.org/wiki/Bernard_Madoff


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: