praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Sunday, 05. February 2012

Bygewerk op:05:27:19 AM GMT

Jy is hier: Johann Wingard

Rubrieke van Johann Wingard

Die tyd vir net praat is verby

E-pos Afdruk PDF

Onlangs het Solidariteit aangekondig dat hulle toekomsnavorsing gedoen het na verskilllende scenarios van die politieke en maatskaplike omstandighede wat vir Afrikaners voorlê.

Die doel van hul ondersoek is baie lofwaardig en is daarop gemik om 'n strategie te ontwikkel waar Afrikaners 'n positiewe bydrae tot die nuwe Suid-Afrika kan maak.

Op hul webwerf kondig Solidariteit aan dat meer as halfmiljoen Afrikaners die sogenaamde Delarey-scenario ondersteun. Ongelukkig is die lys organisasies wat die vergadering bygewoon het, die sogenaamde pre-1994 'jurassic park' organisasies wat binne die nuwe bestel hul relevansie verloor het en nou sukkel om 'n nuwe 'raison d'être' oftewel voortbestaandsdoel, te herontdek.

Die getalle lyk egter baie na die name van siele waarvan Nikolai Gogol, die Russiese skrywer in sy werk 'Dooie Siele' vertel; lang lyste name van mense wat reeds verdwyn het...

Die Afrikaner Burgerlike Netwerk, oftewel die ABN is gestig met Flip Buys van Solidariteit as voorsitter. Die ABN is dus de facto Solidariteit in 'n nuwe baadjie getooi. Net soos in die geval met die FAK, sal dit waarskynlik ook deur die vakunie-inkomstestroom befonds word.

Dit skemer egter duidelik deur dat die waarskynlike doel van die ABN is om die reste van die 'jurassicpark'-groepies in 'n meer moderne gewaad van 'fatsoenlike toekomsgerigte organisasies' saam te snoer en om hulle weer 'n bestaansdoel te gee.

Jacques van der Elst het reeds amptelik laat weet dat die Akademie vir Wetenskap en Kuns die ABN-stigtingsvergadering slegs as waarnemer bygewoon het. Ek vermoed hy was nie die enigste nie.

Met die die stigting van die ABN kan Solidariteit met reg die sprong van 'n vakunie na 'n Afrikanervolksbeweging maak en dit befonds sonder om sy inkomstestroom van sy veelrassige vakunielede op die oog af in gevaar te stel.

Hierdeur wil ek nie enigsins fout vind met dit waarmee Solidariteit besig is nie, maar wel met die vermoede dat die strategie 'n aksieplan van Solidariteit en sy trawante is wat die sogenaamde regse groeperings spesifiek daarvan uitsluit. Dit is jammer en tragies dat PRAAG, die die Afrikanerfront, die Afrikaneralliansie, en vele ander, spesifiek van toekomsbeplanning van die Afrikanervolk uitgesluit word en soos die destyde Broederbondbesluite namens die Afrikaner geneem is. Dit is ook jammer dat Solidariteit alle uitnodigings van samewerking met ander Afrikanerorganisasies op hooghartige wyse ignoreer.

My ontleding is dat die oorlewing van die Afrikanervolk nie sonder die daadwerklike ondersteuning en bydrae van behoudende Afrikaners moontlik sal wees nie. Hulle is nie manteldraaiers nie, maar die die stille standvastige meerderheid wat hulle nie deur gereelde mediareklames en TV-saamtrekke laat mislei nie.

Die ABN se hoofdoel, volgens die Solidariteit webblad is:
"Die ABN fokus op Afrikaanse onderrig en opleiding van ʼn hoë gehalte; ʼn burgerlike nie-partypolitieke strategie teen die gevolge van die ANC se Nasionaal Demokratiese Revolusie; die vestiging van landswye belasting- en gemeenskapstrukture; projekte om die Afrikaner se geskiedenis in perspektief te stel en sy erfenis te bewaar; die skep van ʼn regsplan om burger- en kultuurregte te beskerm; die oprigting van selfdoeninstellings op sleutelgebiede; en die formulering van ʼn plan om buitelandse steun te werf vir groter kulturele vryheid vir Afrikaners in lyn met moderne VN-standaarde."

Dit is die onderstreepte woorde wat hier van belang is, want vandag word daardie taak aangespreek deur 'n groep mense wat buite die Solidariteitdampkring staan.

Regdenkende Afrikaners sal die ABN se breë oogmerke fisies, moreel en finansiëel kan ondersteun. Die knoop lê egter met die uitvoering van die onderstreepte sin.

Reeds voor 2000 werk die Nasionale Belastingbetalersunie, onder leiding van mnr. Jaap Kelder van die NBU, aan die vestiging van belastingbetalersverenigings regdeur die land en tans is daar bykans 200 aktiewe BBV's stewig gevestig. Hulle wil nie deel van die ABN se planne wees nie, nog minder will hulle by Afriforum aansluit. Hulle wil hul eie ding op hul eie manier doen en wil nie aangesê word deur ander nie. Om nuwe Afriforumbeheerde gemeenskapsrade op dorpe te stig sal nie net waansinnig wees nie, maar ook totaal verwarrend omdat dit verdeling op plaaslike vlak tot gevolg sal hê.

Die kern van die BBV's is die begrip van direkte demokrasie waar geen politieke party of kwasie-politieke bewegings enige rol speel nie, maar slegs die belangepolitiek van die plaaslike inwoners.

Wanneer politieke partye of sogenaamde nasionale volksbewegings betrokke raak word die breë ideaal om inwoners te bemagtig en betrokke te kry, ondergeskik gestel aan die eng fokus van party lojaliteit en organisasiebelang.
'n Langdurige spanning ontstaan onvermydelik tussen belastingbetalers en politieke partye, wat in belastingweerhouding, hofsake, dispute en antagonisme manifesteer.

Derdevlak regering wat volgens politieke partylyne funksioneer, skep 'n onhoudbare situasie deurdat die lojaliteit van partykandidate vir eie oorlewing noodwendig by hul party lê. Die belange van die belastingbetalers is dus ondergeskik aan die belange van die regerende party.

Dit is met hierdie doel voor oë dat die Nasionale Raad vir vir die Bevordering en die Beskerming van Grondwetlike Burgerregte op die Plaaslike Owerheidsvlak Saterdag, 12 November in die Lynnwoodse NG Kerksaal gestig gaan word.
Die doel van die NBR is die beskerming van grondwetlike regte op die plaaslike owerheidsvlak. Dit sal as die Nasionale Burgerregte Raad of NBR bekend staan. Daar is geen oorvleueling tussen wat die NBR beoog en wat die ABN in gedagte het nie, behalwe dat die rolspelers nie lede van die ABN is nie, maar gewone bewese plaaslike leiers wat die rol reeds vervul wat die ABN vir homself wil toeeïn.

'n Handves van burgerlike regte, wat streng volgens die land se grondwet opgestel is, sal help dat gemeenskapsregte op die Plaaslike Owerheidsvlak beskerm sal word. Die Raad sal a-polities wees, sal onafhanklik van Solidariteit of enige ander groepering wees, en sal sy befondsing suiwer van sy plaaslike gemeenskapsrade, sakeondernemings en internasionale agentskappe verky. Geen politieke ampsdraer mag op die Raad dien nie.

Die Raad sal 'n statutêre Raad, geregistreer by die 185-Kommissie wees, wat volgens die bepalings van die land se grondwet opgerig is om die regerende partye te oortuig dat die plaaslike inwoners die mees bevoegde persone is om na hul eie sake om te sien.

Daardeur sal alle grondwetlike middele tot sy beskikking gebruik word en sal die Raad hom slegs in uiterste gevalle tot die land se howe wend.
Die uitdaging wat nou aan die ABN gerig word is om hierdie lofwaardige saak moreel en fisies te steun en om dit as 'n hoeksteen van die breër prentjie te beskou.

 

Laas Opdateer op Maandag, 07 November 2011 07:13

Demokrasie of pigmentokrasie?

E-pos Afdruk PDF
'n Pigmentokrasie kan nie 'n demokrasie wees nie, al sou so 'n land al die strukturele eienskappe besit soos verkiesings wat met 'n liberale grondwet gepaard gaan. 'n Pigmentokrasie kom voor in lande waar die nuutgevonde vryheid op politieke gebied binne 'n vrye mark omgewing verkry word en waar markdominante etniese minderhede bestaan.

Suid-Afrika is nou volledig 'n pigmentokrasie.

In haar boek 'World on Fire" skryf Amy Chua ondermeer oor markdominante etniese groepe. Haar werk het my laat dink aan die dringende waarskuwing wat JH du Toit aan Afrikaners in sy onlangse artikel," Volksmoord: dit gebeur" gerig het.

Chua se familie is Filipynse Sjinese. Laasgenoemde is 'n etniese minderheidsgroep wat die ekonomie van die Filipyne oorheers. Hulle word dus, volgens haar, as 'n markdominante etniese groep beskou. In haar doktorale studies probeer sy ondermeer vasstel wat die dryfvere agter die etniese haat is wat Sjinese sedert 1960 van die inheemse Filipyne ervaar. Om vas te stel of etniese haat teenoor markdominante minderhede 'n unieke verskynsel was, het sy impiriese gegewens van reg oor die aardbol versamel en ontleed.

bevindings laat 'n knop in my maag en bevestig grootliks wat du Toit in sy artikel waargeneem het.

Dominante etniese minderhede kom in die meeste lande voor. Voorbeelde is Jode (vroeër in Duitsland en tans in Rusland), Indiërs (Afrika), Sjinese (Filipyne en die VSA), Blankes (Zimbabwe en Suid-Afrika) ensovoorts.

Markdominante minderhede se verblyf in die gasheerland word deur die plaaslike bevolkings beskou as tydelik van aard, ofskoon hulle reeds vir baie geslagte daar sou woon.

Regdeur die wêreld word etniese haat hoofsaaklik deur demagoë gewek wat markdominante etniese minderhede teiken en as politieke sondebokke gewetenloos brandmerk om kiesers op te sweep of om onresalistiese verwagtings te skep. Demagoë is sodoende in staat om ondersteuning te werf "teen" 'n skynbaar florerende vyand, in plaas van "vir" hulself. Dit verbloem hul onvermoë om weens persoonlike gebrek geen toegevoegde waarde aan die gemeenskap te aanbied nie.

Wanneer die sogenaamde liberale demokrasie dan in 'n vryemark omgewing op 'n land losgelaat word, word dominante minderhede die natuurlike prooi van gewetenlose politici om hul eie politieke loopbane te bevorder. Chua bevind dat die kombinasie van 'n liberale demokrasie in kombinasie met die vrye mark hoofsaaklik verantwoordelik is vir die uitbreek van etniese haat wat tans regdeur die wêreld voorkom en in sommige gevalle op volksmoord uitloop.

Sy bevind dan ook dat die sogenaamde lydende massas nooit beter daaraan toe is nie, maar inderdaad aan groter swaarkry blootgestel word vanweë die feit dat die nuwe "inheemse" eienaars van die ekonomie hulself tydelik verryk en die ekonomie onvermydelik daarna in duie laat stort.

Dan raak Chua ook aan die feit dat markdominante minderhede deel uitmaak van 'n uitgebreide sakestelsel en sakevennote regdeur die wêreld; iets wat die meerderhede dwars in die krop steek. Hul politieke ego's word daardeur aangetas en dit speel reg in die hande van opswepende politici.

Sy konkludeer dat demagoë deur die demokrasie toegelaat word om op die snaar van etno-nasionailsme te tokkel terwyl hulle voorgee dat hulle na die belange van die verarmde, gefrustreerde en uitgeslote massas van die land omsien.

Sou mens haar bevindings nou op Suid-Afrika van toepassing maak, dan sal u meegevoel met die knop op my maag gevoel hê nadat ek Du Toit se artikel gelees het.

In Suid-Afrika is daar verskeie markdominante etniese minderheidsgroepe.

Die blankes domineer die groot sake, banke, myne, versekering, kommersiële landbou, motorbedryf ensomeer.

Afstammelinge van Indiërs, Arabiere, en Sjinese domineer die kleinsake sektor wat met swartmense handel dryf.

Dan is daar die Grieke, Libanese, Portugese en Italianers wat hoofsaaklik met die witmense op kleinhandelsgebied skakel.

Deur apartheid te demoniseer en die skuld vir hul eie mislukkings te gee, selfs sewentien jaar na die magsoorgawe, kan die massas se aandag op die minderheid gevestig word wat vir apartheid verantwoordelik was. So kom die die myne, grootsake, Landbou en Banke in hul visier.

Met sy twee nasies toespraak het Mbeki die eerste salvo in die rigting van blankes afgevuur:

"...ons waag dit dus om te sê dat Suid-Afrika'n land van twee nasies is. Een van hierdie nasies is wit, relatief gegoed; die tweede en groter nasie van Suid-Afrika is swart en arm; ons is nie een nasie nie, maar twee nasies. En ons is ook nie besig om een nasie te word nie..."

Daardeur het Mbeki 'n demagoog geword om die valbyl op Mandela en Tutu se illusie van die reënboognasie te laat val, die land in twee nasies te verdeel en die slagordes vir sy opvolgers op te stel. Die vyand van die swart massas is nou amptelik die ander nasie, die nasie wat nie soos ons swart nasie lyk nie.

Daardeur het die aandrang op grondhervorming in heftigheid toegeneem en het die nasionalisering van die myne 'n toekomstige beleidsopsie geword.

Die antwoord op die vraag waarom die ANC soveel vrye teuels vir Malema gee word hierdeur ook duidelik:

Deur 'n jong turk soos Malema as demagoog te gebruik kan die ANC-leierskap met die nuutgevonde internasionale verering van hul demokratiese werkswyse hul opsies oophou om hom óf te repudieer óf te verswyg. Repudieëring sal vir die oorsese pawiljoen wees, terwyl verswyging ondersteunend vir die swart pawiljoen moet wees.

Stappe om Malema te dissiplineer word nie geneem nie, maar slegs aangekondig en uitgestel. Die dominante minderheid sal vir jare nog handig te pas kom as bron van belasting inkomste, as gemeenskaplike vyand om steun te verenig en om as sondebok vir hul eie mislukkings te dien.

Maar of daardie etniese haat in toom gehou sal kan word sodat dit nie op volksmoord uitloop nie, sal net die toekoms ons leer.

Is daar 'n draaipunt? Die DA glo hulle kan sonder 'n gemeenskaplike vyand soos byvoorbeeld die dominante blanke groep aan bewind kom. Ek betwyfel dit sterk, want etno-nasionalisme is die mees potente politieke gom om die massas mee saam te bind. Wat kan die DA daarsonder aanbied? Beter bestuur deur regstellende aksie beter toe te pas? Asseblief.

Etniese haat vier tans hoogty in meer as veertig oorsese lande en word gevoed waar 'n vrye mark wat met die nuwe demokrasie gekombineer word. Suid-Afrika kan die onvermydelike gevolge van hierdie Molotov-mengsel dus nie ontsnap nie; dit is endemies in die psige van die massas regoor die aardbol wanneer 'n nuutgevonde 'vryheid' sonder verpligtings en kitsrykdom utopies aan hulle voorgehou word.

Daarom vind ek dit verstommend dat die Kodesa-onderhandelaars hierdie basiese wetenskaplikheid nie eers nagevors het nie. Sou hulle dit gedoen het, sou 'n beter onderhandelde skikking waarskynlik moontlik gewees het.

En daarmee wil ek met JH du Toit saamstem dat Afrikaners 'n werkbare en praktiese gebeurlikheidsplan agtermekaar moet kry.

Winston Churchill het glo eendag gesê, "...hoe verder ek in die geskiedenis ingaan, hoe beter kan ek die toekoms lees."

Laas Opdateer op Dinsdag, 27 September 2011 07:39

Selfbeskikking deur Plaaslike Owerheid

E-pos Afdruk PDF
Hierdie gesprek gaan nie oor 'n volkstaat nie, maar oor die mate waartoe belastingbetalers se ekonomiese oorlewing gaan afhang van seggenskap oor hul eie sake.

Ek verwys spesifiek na Afrikaners wat buite 'n volkstaat sal woon. My hipotese berus op die stelling dat ekonomiese oorlewing van Afrikaners buite 'n volkstaat nie deur rasse-ideologie of godsdiens verkry gaan word nie, maar deur effektiewe derdevlak bestuur. Ek wil dan ook konkrete voorstelle aan die hand doen om die proses na plaaslike selfbeskikking aan die gang te kry.

Afrikaners het nie 'n veertig jaar horison nie, maar minder as tien jaar, want hulle woon vandag in 'n disfunksionele staat wat nie volhoubaar is nie. Laat my toe om kortliks 'n opsomming te gee van die gemors waarin ons verkeer:

• Veiligheid: In Suid-Afrika is niemand meer veilig nie, veral nie as jy 'n wit boer is nie. Die prys in menselewens is lankal te hoog. Ons verkeer in 'n staat van anargie waar misdaad lonend geword het. Slegs 10% van kriminele sake kom voor die hof. Die duisende polisiebeamptes agter die tralies is afdoende bewys dat die polisie self deels vir die heersende anargie verantwoordelik is. Waar die ANC die land moet regeer, tree dit soos 'n georganiseerde misdaadsindikaat op.

• Landsgrense bestaan net op die kaart. Miljoene insurgente bevind hulle reeds in die land. Aan die Lesotho-grens vind veediefstalle daagliks plaas. Die weermag is disfunksioneel en sy onvanpaste krygstuig staan ongebruik. Die swak gehalte van sy offisierskader en HIV besmette manskappe beteken dat die staat sy burgers nie kan beskerm nie. Die beelde op die TV skerms van betogende soldate by die Uniegebou vertel die hele verhaal.

• Derdevlak dienste het totaal ineengestort en belastingbetalers moet daardie dienste self verrig in byna 82% van die land se munisipaliteite. As 'n staat nie daardie basiese dienste kan lewer nie, waartoe is hy dan in staat?

• Die land se onderwysstelsel is die swakste in Afrika. Skoolverlaters uit die meeste skole is ongeletterd. Minder as 17% van die onderwys-begroting kom by die klaskamers uit. Die res word deur die amptenary soos 'n spons opgesuig.

• Infrastruktuur: Hoe minder daar van die paaie gesê word hoe beter. Daar bestaan nóg die kundigheid nóg die wil om die huidige paaiestelsel in stand te hou, om die eens te praat van om nuwe paaie en brûe te bou nie. Die privaatsektor moet telkens tot die redding van die land kom.

• Navorsing en ontwikkeling word onderwerp aan die beperkings van swart ekonomiese bemagtigingsmaatreëls wat ten doel het om navorsingsfondse na swartes te gekanaliseer. Die WNNR, landbounavorsing en mediese navorsing is 'n effense skadu van die eertydse vermoëns van die betrokke instansies. Relatief tot sy mededingers gaan die land jaarliks agteruit.

• Slegs die inkomstediens, wat die belastingbetalers se geld insluk is oënskynlik op standaard.

Voeg daarby die ernstige korrupsie en geldvermorsing waar miljarde rande jaarliks vermors word.

ANC se politieke ondersteuners verryk hulself vandag deur Afrikaners te verarm.

Mens kom dan tot die onvermydelike gevolgtrekking dat die sogenaamde demokrasie, oftewel meerderheidsregering, die Afrikaner se grootste vyand geword het.

Met hierdie verdoemende getuienis voor ons vra ons: Hoe lank kan dit nog so aanhou? Waarom verdra ons hoegenaamd nog 'n disfunksionele staat? Waarom gaan ons willens en wetens toelaat dat ons dieselfde lot tegemoetgaan as die blankes elders in Afrika?

Getallegewys is ons 'n permanente demografiese minderheid. Die meeste belastingbetalers is nie lede van die regerende party nie, tog moet hulle sy maatskaplike programme sonder enige inspraak befonds.

Demokraties gesproke kan Afrikaners die ANC nie by die stembus verslaan nie.Watter ander opsies het hulle om onder hierdie neerdrukkende bestel uit te kom?

1. Hulle kan hul vaderland verlaat.

2. Of hulle moet beheer oor hul eie toekoms neem.

Vanuit 'n morele en realistiese standpunt kan Afrikaners vandag aanvoer dat daar geen sinvolle politieke of ekonomiese toekoms vir hulle in die huidige bestel meer bestaan nie.

Dit gaan lankal nie meer oor 'n rasse-ideologie nie, maar oor bewese swak regering en die risiko dat Afrikaners ekonomies en fisies nie sal oorleef nie.

Afrikaners wil nie langer in 'n staat van anargie leef nie. Hulle hunker ook nie terug na apartheid nie, maar na wet en orde en na 'n skoon, oop en doeltreffende regering, 'n veilige omgewing en 'n ekonomiese toekoms.

Hulle eis derhalwe hul internasionaal erkende reg op self-beskikking om ekonomies te kan oorleef.

Hiervoor wend hulle hulself nou na die praktyk van direkte demokrasie soos in 'n kantonstelsel.

Maar wat beteken die begrip van selfbeskikking? "Dit is die keuse om volgens eie vrye oordeel en sonder enige inmenging of dwang te handel. Selfbeskikking is dus die reg van die mense wat 'n spesifieke gebied beset om sy politieke status en regeringsvorm self te bepaal."

Eksterne selfbeskikking is die politieke onafhanklikheid van 'n nasie wat in 'n soewereine staat woon en deur ander lande aanvaar en erken word.

Interne territoriale selfbeskikking kan ook verkry word wanneer deelstate federatief teenoor mekaar staan, soos die Switserse kantonne of Duitsland se state.

Maar daar is ook ander vorms van interne selfbeskikking, soos: "Die begrip dat bevolkingsgroepe met 'n onderskeidende kultuur en identiteit hul eie politieke sake en gemeenskaplike heil self kan bepaal." Dit is veral van toepassing vir bevolkingsgroepe wat diaspories in 'n land verspreid is.

Terloops, om 'n volkstaat te probeer opeis oor 'n gebied wat nie tans of histories deur die eisers beset was nie sou egter strydig met die volkereg wees. Orania met sy onmiddelike omgewing self is vandag Afrikanergebied, maar nie die Noordwes Kaap nie. Die huidige Khoi-San, wat verreweg die meerderheid daar is, het eerste historiese aanspraak op daardie gebied.

Ek het vantevore geskryf dat 'n nuwe volkstaat in 'n leë gebied ekonomies gedrewe moet wees, en dat dit waarskynlik deur middel van 'n reusagtige eiendomsontwikkelingsprojek ontwikkel sal moet word. Met enkele uitsonderings na was die reaksie daarop verstommend negatief.

Die rede was waarskynlik dat ek tot die kern van die probleem deurgedring het.

Verreweg die meeste Afrikaners is nie bereid om agter 'n ideologie te trek nie, maar beskou ekonomiese oorlewing as baie belangriker.

Daarom wil ek dus voorstel dat 'n federasie van plaaslike owerheidsbestuur opgerig moet word. Ek glo dat laasgenoemde 'n werkbare model vir ekonomiese oorlewing sal wees.

Die uitgangspunt is dat Afrikaners in elk geval nie na 'n ander gebied sal trek nie omdat hulle nie die finansiële vermoeë het om vir die nuwe huise en nuwe infrastruktuur te betaal nie.

Dit, plus hul huidige ekonomiese belange, veroorsaak dat hulle wil bly waar hulle tans woon.

Vir plaaslike selfbeskikking moet hulle bloot die bestuursfunksies van die onbekwame plaaslike stadsrade wetlik kan oorneem. Daarna kan hulle derdevlakdienste self verskaf wat deur hul eie belastingsgeld befonds word.

Van die ongeveer 285 munisipaliteite in die land doen meer as 250 dit reeds.

Deur middel van erkende hofprosedures, wat deur die plaaslike belastingbetalersverenigings (BBV) gereël word, word 'n dispuut met die munisipaliteit verklaar en erfbelastings word in 'n trustfonds gestort om die werk deur ervare en behoorlik opgeleide mense mee te befonds.

Tans is die fokus van die BBV's op derdevlak dienslewering, veral mbt paaie, water en riolering.

Deur legitimiteit en erkenning te verwerf word interne selfbeskikking dan 'n harde werklikheid. Vir dienslewering aan die swart woonbuurte buite die vermoeë van die plaaslike belastingbetalers, sal die dorpsraad gedeeltelik deur die staat befonds moet word. Die huidige munisipailteite is so te sê almal bankrot.

Op 'n federatiewe wyse skakel die 350 of meer Kantonne, wat ook Orania en Kleinfontein insluit, deur 'n federale bestuursfunksie vir skakeling met die nasionale regering.

Die voordeel van hierdie stelsel is dat die bestaande bates van belastingbetalers vir hulle behoue sal bly, dat die dorpe waarop hulle 'n historiese reg het, nie tot niet gaan nie en dat daar onder andere met die plaaslike stamowerhede geskakel word vir wet en orde en ekonomiese ontwikkeling.

Met so 'n werkbare plan kan hul ekonomiese vryheid trapsgewys verseker word. Daarmee word Afrikaners op voetsoolvlak gemobiliseer, en hul ekonomiese omgewing meer leefbaar gemaak.

Die nadeel is dat hulle steeds burgers van die NSA sal bly, hoewel daar deur onderhandeling beheer oor veiligheid, onderwys, hospitaaldiense, ens, verkry sal kan word.

Die Kantonfederasie is dus bedoel om Afrikaners wat buite 'n volkstaat woon staatkundig en ekonomies te akkommodeer.

Dit vervang nie 'n volkstaat nie en is ook nie in kompetisie daarmee nie. 'n Volkstaat word op 'n heel ander vlak en 'n heel ander span leiers nagejaag om die langtermyn toekoms van die Afrikaners te verseker.

'n Volkstaat mag selfs etlike kantonne insluit. Waar die volkstaat sal wees, is dus nie vir ons nou van belang nie.
Die tyd het nou aangebreek dat 'n federale bestuursfunksie amptelik sal meewerk met die departement van Ko-operatiewe en Plaaslike Regering om dienslewering op plattelandse gebiede te verseker.

Met hierdie struktuur in gedagte wil ek nou die volgende konkrete voorstelle aan die hand doen en sal ek dit waardeer as die voorsitter sal toelaat dat dit vandag gedebatteer kan word sodat die vergadering dit gedeeltelik of in geheel kan ondersteun.

1. Dat 'n Federasie van Ko-operatiewe Plaaslike Bestuursliggame tot stand gebring word wat hoofsaaklik uit die bestaande Belasting Betalersverenigings sal bestaan. Dit sal die beginpunt van die evolusie van plaaslike selfbeskikking wees.
2. Dat die NBU as federale bestuur verkies word met magte van ko-optering.
3. Dat die federale bestuur wysigings aan die nuwe wet op plaaslike owerhede sal opstel met die doel om omgekeerde regstellende aksie aan die belastingbetalers, wat die dorp finansiëel moet dra, te verseker.
4. Die voorgestelde wetswysigings sal dan aan die Dept. van Ko-operatiewe en Plaaslike Regering asook aan die Speaker van die Parlement voorgelê word.
5. Dat die stelsel van plaaslike bestuur sodanig gewysig sal word dat 50% van die setels vir plaaslike belastingbetalers gereserveer word. Politieke partye sal op die normale wyse meeding om die ander 50%.
6. Dat die hele amptenary, insluitende die pos van Munisipale Bestuurder, apolitiese en tegniese poste sal wees.
7. Om die regskoste m.b.t. die opstel van die nuwe wet te dek word versoek dat elke BBV 'n eenmalige R500 tot die regsfonds van die NBU sal bydra.
Die gevolg sal wees dat elke BBV outonoom sal bly met sy eie plaaslike owerheid en leierskap. BBV's skakel egter federatief met 'n federale bestuur vir ekonomiese en tegnologiese samewerking en sinergie tussen stadsrade.
Mens sal egter daarteen moet waak dat instansies, soos politieke partye, wat op nasionale vlak opereer, die BBV's nie sal kaap nie.

Ek wil nie nou politiek praat nie, maar ons weet dat veral die DA daarop uit is om plaaslike regerings oor te neem om die party te versterk. Hulle mag dus inherent vyandiggesind staan teenoor die kantongedagte of enige ander vorm van selfbeskikking, en mag dus die nuwe wetgewing heftig teenstaan omdat politieke patye nooit weer oor dorpe sal regeer nie, maar deur plaaslike inwoners.

As 'n orgaan van die burgerlike samelewing staan die Federasie vir Plaaslike Bestuursliggame dus buite die land se magspolitiek en is geen bedreiging vir die regerende party van die dag nie.

Die voorstelle voldoen ook aan alle tersaaklike grondwetlike voorskrifte. Die Federasie vir Plaaslike Bestuursliggame sal samewerking met die owerhede najaag om derdevlak dienslewering, ekonomiese ontwikkeling, skoon bestuur en omgewingsbewaring vir plaaslike inwoners te verseker.

Die Federasie sal nie ideologies of polities gedrewe wees nie en is waarskynlik die enigste manier om stadsrade uit die huidige finansiële moeras sal verlos.

Banke vra altyd: "Wie is die jokkie wat gaan sorg dat ons geld veilig is?"
Met die Kantonfederasie konsep, wat deur die Parlement gewettig sal word, kan die banke rustig slaap omdat die dorpsbestuur in veilige hande sal wees.

Tot dan moet die huidige belastingweerhouding voortgaan en deur middel van hofgedinge te sorg vir beter dienslewering.

Ek voorspel dat die terminologie kort voor lank na 'n Kantonfederasie aanvaar sal word. Deur bemiddeling van 'n Federale Kantonraad kan dan met die staat geskakel word vir groter magte en groter selfbeskikking oor eie sake.

Ek dank u.

(Toespraak gelewer voor afgevaardigdes van Afrikanerorganisasies in die Centurion Munisipale Raadsaal op 3 September 2011)

Laas Opdateer op Maandag, 05 September 2011 08:31

JPAGE_CURRENT_OF_TOTAL