“Suid-Afrika kan nie bekostig om een boer te verloor nie.”
So het die minister van Landbou, Tina Joemat-Pettersson tydens ‘n besoek aan ‘n Vrystaatse nuwelingboer gesê. Sy het voorts daarop gewys dat boere in effek weens die gevare waaraan hulle blootgestel is, uit die land vlug.
Plaasaanvalle is egter nie rasgemotiveerd nie, aldus die minister.
In teenstelling hiermee oorhandig Praag vandag ‘n brief aan verskillende afdelings van die Suid-Afrikaanse regspleging om daarop aan te dring dat aanhitsing tot volksmoord soos die volkereg en die plaaslike wetgewing bepaal, ook as volksmoord hanteer moet word.
Aan die bod is die ANC se appèl teen die verbod, as haatspraak, van die liedjie “Maak dood die boere.”
Die minister is reg as sy meen die afgesonderdheid van boere dra by tot die aanvalle op hulle. ‘n Mens kan hier byvoeg persepsies van wapens en geld wat die boere in hul opstalle sou aanhou.
Dit sal haar egter ook loon om kennis te neem dat haar eie party appèl aanteken teen die verbod op die sing van die liedjie, “Maak dood die boere.” Dit sal haar ook loon dat van haar kabinetskollegas hulle al aan uitlatings skuldig gemaak het oor boere wat hul werkers nie net swak behandel nie, maar ook mishandel. Iets wat die georganiseerde landbou ontken, en tevergeefs op bewyse van spesifieke voorbeelde wag. Trouens, ‘n paar ondersoeke deur die regering, sommiges peperduur, het dadels opgelewer.
Maar steeds kom hierdie uitsprake, wat in effek die boere vrybuit van plaasaanvallers maak.
Benewens die grootlikse afwesigheid van praktiese en doeltreffende meganismes om die land se landbouers te beskerm, hoekom so uiters selde plaasaanvalle, en selfs plaasmoorde te veroordeel? Wat het die meeste impak: Anti-boer-retoriek deur ministers en ander hooggeplaastes, of die seldsame veroordeling van plaasaanvallers? Een swaeltjie maak nie ‘n somer nie.
‘n Konsekwente duidelike boodskap gerugsteun deur praktiese stappe wat sal verseker dat nie net plaasmoordenaars nie, maar ook ander plaasaanvallers gevang word en aan die pen ry, is wat die land nodig het.
| < Vorige | Volgende > |
|---|
Plaasmoorde - Een swaeltjie bring geen somer




