praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Friday, 10. February 2012

Bygewerk op:09:59:45 AM GMT

Jy is hier: Herman Toerien Hoe reageer tale onder druk?

Hoe reageer tale onder druk?

E-pos Afdruk PDF

Die paar harde klappe wat Afrikaans toegedien is in ‘n beëdigde verklaring deur die DG vir Kuns en Kultuur, nogal met die goedkeuring van die president, het nie net regsimplikasies nie.

Die eerste vraag wat gevra kan word is of Engels so ‘n uitsonderlike status verdien soos wat die regering graag daaraan wil toeken?

Dit kan ten beste met “miskien” beantwoord word. Engels, met al sy variante, is waarskynlik die taal ter wêreld wat die meeste gepraat word. Dit is nie so ‘n eenvoudige antwoord nie, omdat baie van die mense wat as “Engelssprekers” getel word, in werklikheid ander huistale het, en baie van diegene wat aandui dat hulle Engels magtig is, se vaardigheid hierin so gebrekkig of ontbrekend is dat dit nie betroubare resultate oplewer nie. Die moedertaalsprekers wat Mandaryns en Kantonees (twee Chinese tale wat onderling verstaanbaar is) is moontlik meer as die werklike aantal Engelssprekendes.

Wat die aantal lande betref waarin ‘n mens jou met Engels kan behelp, sal in alle waarskynlik minder wees as die lande waar Spaans bruikbaar is. Weer eens is dit ‘n grys gebied omdat byvoorbeeld aanvaar word dat Engels wyd in Indië en Sri Lanka gepraat en verstaan word, wat hoogstens kol-kol die geval is.

Boonop word projeksies gedoen wat daarop dui dat Spaans weldra meer moedertaalsperkers in die VSA sal oplewer as Engelspsprekers (die jaar 2050 word byvoorbeeld gereeld genoem).

Hoewel Arabies in baie lande gebruik en verstaan word, is hierdie lande in die reël yl bevolk, met meer as die helfte van die Arabiessprekendes wat byvoorbeeld in Egipte woon.

Teenoor ‘n minderheidstaal in Indië en Sri Lanka, Tamil, met sowat 65 miljoen moedertaalsprekers, is Afrikaans met waarskynlik nie meer as agt miljoen moedertaalsprekers nie, ‘n klein taal.

Maar gaan krap aan die waardigheid van ‘n taal, en daar is bykans altyd ‘n groot teenreaksie.

Nie baie lank gelede nie was daar ‘n taamlike beweging in Nederland om minstens by sommige universiteite Engels as ‘n taalmedium in te voer. Toe hou ‘n groep immigrante optogte en dring aan om Engels as kommunikasietaal, eerder as Nederlands te mag gebruik.

Fout.

Min of meer dieselfde tyd is daar ‘n debat oor welke taal die Europese Parlement se amptelike taal moet wees, en toe dit blyk dat Engeland soort van as vanselfsprekend aanvaar dit moet Engels wees, is daar ‘n skerp teenreaksie. Oornag verdwyn Engels van ‘n rits politieke partye in Europa se webtuistes. Van hierdie partye, soos die Duitse CDU en die Nederlandse CDA het omtrent volledige Engelse weergawes naas die lande se eie tale gehad, maar selfs noudat Engels weer beskeie in daardie webtuistes kom nesskop, is slegs ‘n klein deel van die inhoud in Engels te lese. Ook in Swede waar die inwoners taamlik gesteld is om Engels onder die knie te hê, het Engels uit politieke partye en selfs toerisme-webbladsye verdamp.

Van die Duitse ministers is ook stram om Engels te praat, selfs al is hulle vlot Engels magtig. Weer eens het ‘n betreklik nietige saak die ding aangevuur – die BBC wat ‘n joernalis wat slegs Engels magtig is stuur om die nuuskonferensie na afloop van die Duitse verkiesing te gaan dek, en toe aandring om vrae in Engels te vra en beantwoord te word. Dit, terwyl die BBC ‘n korrespondent in Berlyn het wat Duits vlot magtig is.

Daar is egter ook ‘n verwikkeling op ‘n ander vlak. Enkele jare gelede was dit nog taamlik maklik om Friesies via ‘n kennis van Nederlands te lees. Of so het ek tot my verbasing gedink, synde ek op skool geleer het Friesies is nader aan Engels as aan Nederlands verwant. Vir seker minder as ‘n jaar het ek nie iets in Friesies gelees nie, en toe ek weer daar gaan oplees as deel van spesifieke navorsing, kry ek ‘n groot verrassing. Ek kan dit beswaarlik volg, en eintlik ook net bietjie volg omdat ek vir stamboeknavorsing myself redelik bedrewe moes maak om Sweeds te lees.

Miskien nie so verrassend dat Friesies en Sweeds na mekaar trek nie, synde beide van Skandinawiese herkoms is, met die Friese wat verwant is aan die Angele en Saksers wat in Engeland gaan vestig het.

Toe onthou ek dat daar beslis iets gebeur het. Omtrent elke Nederlandse korrespondent wat ek het, kondig skielik aan dat hulle eintlik Friesies is. Selfs al kan hulle nie ‘n woord Friesies verstaan nie.

Maar duidelik het daar ‘n Friesiese bewuswording plaasgevind, wat tot die herontdekking van die Friese taal en gebruik daarvan gelei het. Dis ook nie so eenvoudig nie, want Friesies het verskeie weergawes wat dalk meer soos afsonderlike tale as net dialekte van mekaar staan.

So sterk was hierdie oplewing in ‘n stadium dat staatkundiges in Nederland en België selfs die opsie genoem het dat, sou België uitmekaar spat, Vlaandere aansluiting by aangrensende Nederlandse provinsies sou vind, en dat Friesland, of liewer, die Friesiese gebiede, nie deel hiervan sou uitmaak nie. ‘n Variasie was om voor te stel dat die Friesiese gebiede dan by Denemarke, ook ‘n Skandinawiese land, sou inskakel.

Toe die taal / dialek, Groningins, onlangs sy eie amptelike Bybelvertaling in gebruik neem, was Friesiese eregaste duidelik meer welkom as die Nederlandsprekers, hoewel ook selfs ten opsigte van hierdie “broeders in taalverdrukking” ‘n ligte afstand gehandhaaf is.

Onlangs het ‘n aantal Katalaanse stede en dorpe in ‘n nie-bindende referendum vir volkome Katalaanse onafhanklikheid van Spanje gestem. Katalaans is na berig word nader aan Italiaans as aan Spaans.

Die werklike interessante geval is egter Baskies.

Omdat Baskies ‘n baie ou taal is (met onseker taalverwantskap) is dit erg dialekties wat stremmend op die aanwending van die taal as amptelike taal of akademiese taal inwerk. Baie Baske, hoewel Baskies hul moedertaal is, het ook ‘n Spaanse identiteit vir “hoër” funksies en is van die grootste koerante in die selfregerende Baskiese provinsies Spaans.

Trouens, ‘n gestandariseerde vorm van Baskies vir amptelike en hoër gebruik, Batue, is eers in taamlik onlangs ingevoer. ‘n Eens groot taal, Occidan, word nou net deur ‘n klein aantal mense in Frankryk gepraat waar dit eens sowat 10 miljoen sprekers gehad het. In Frankryk word net Frans amptelik erken. Occidan word ironies in dele van Katalonië as amptelike taal erken, en het ook meer amptelike status in Monaco en Italië waar dit ook in dele gepraat word. Die mate waarin hierdie taal oornag amper verdwyn het, word gereeld as argument gebruik hoekom ‘n taal behoorlike amptelike erkenning behoort te geniet.

Dit lyk egter of daar in Europa – ook Frankryk – ‘n horde oertale en Romaanse variante is wat ten spyte van bitter min sprekers, ook verseg om heeltemal die handdoek in te gooi. Selfs binne die Baskiese gebied is daar ‘n magdom klein taaltjies, en word juis as een van die redes aangevoer hoekom Baskies so gesukkel het om homself bestendig te kry.

Wat kan van Afrikaans verwag word as dit nie amptelike erkenning kry nie, of erg afgeskaalde erkenning?

Ten eerste kan verwag word dat die sprekers wat meen Afrikaans is cool  en ‘n taal wat lekker as gig-taal by shows gebruik kan word, deurlopend teenspoed by taalpuriste sal kry.

Die generasie wat betreklik onlangs nog op skool deurgeloop het omdat hulle na hul gesin as familie verwys het, of dit op die skoolterrein gewaag het om van die skoolgronde te praat, of na hul pa se besigheid in plaas van onderneming te praat, moet maar in afsku toesien hoe Engels sy “kolonisasie” van Afrikaans voltrek.

Eers wanneer die sportlui besef dit is uncool om coaches in plaas van afrigters te hê, sal Afrikaans kan voel hy weer hierdie aanslag van binne af.

Dan is daar die Afrikaanssprekendes se skryfvermoë. Sien ‘n mens dit wat buite-om die gedrukte media in skrif verskyn, wonder ‘n mens gewoon of daar nog ‘n onnie los rondloop wat weet wat in Afrikaans vas, en wat los geskryf word. Die taalgebruikers oor die algemeen het nie ‘n benul nie, selfs nie eens van die voorste taalbulle nie.

Word daar nie op die staatkundige front hard geveg vir die regte van ‘n taal wat van binne in elk geval gerysmier word nie?


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: