praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Tuesday, 22. May 2012

Bygewerk op:07:38:23 AM GMT

Jy is hier: Herman Toerien Gaan na die Armeniërs en word wys

Gaan na die Armeniërs en word wys

E-pos Afdruk PDF

In April vanjaar herdenk Armeniërs wêreldwyd ‘n gebeurtenis in hul antieke geskiedenis, wat ten nouste met die Christendom verweef is. Dit sal dan presies 95 jaar wees sedert meer as ‘n miljoen Armeniërs in een van die ergste volksmoorde aan die hand van Turkye omgekom het.

Wat die afgelope paar jaar se herdenkings meer opvallend maak as wat tevore die geval was is dat dit nou vir Turkye as verleentheid opduik in sy pogings om lid van die Europese Unie te word. Dit, terwyl Turkye die volksmoord amptelik ontken.

Die talle Armeniërs in diaspora het egter nié vergeet nie, en het met volgehoue pogings daarin geslaag om hierdie gebeurtenis uit die vergetelheid te herroep, en wêreldwyd ondersteuners verwerf, wat ook lustig per e-pos en op ander maniere meedoen om ‘n gebeurtenis waarvan die mensdom wou vergeet, lewend te hou.

Van vergeet en vergifnis is geen sprake nie, veral omdat Turkye steeds ontken dat dit ooit plaasgevind het. So volledig is die Armeense bevolking verdelg en verdryf uit hul oorspronklike kerngebiede, dat ensiklopedieë oor die algemeen nie eens verwys na Armeens as ‘n minderheidstaal in Turkye nie.

‘n Armeense staat het wel weer verrys met die ontbinding van die Soviet-Unie. Hierdie staatjie, vasgeknyp tussen Georgië, Turkye, Iran, Azerbadjan en die Russiese Federasie is ‘n arm en klein oorblyfsel van ‘n eens magtige staat wat lank voor die Oos-Romeinse Ryk (Bisantium) as bolwerk teen Moslem-indringing uit die Ooste gedien het. Afgesien van die Georgiërs (wat deur die Armeniërs gekersten is), is al die omringende lande Moslemstate, en veral Azerbadjan is Armenië besonder vyandiggesing. Die Tsjetsniese Republiek binne die Russiese Federasie grens boonop ook aan Armenië.

Die berg Ararat in dié landjie is moontlik meer bekend as die land self, en is vir baie van die toeriste verantwoordelik.

Kort na onafhanklikheidswording is die herrysende staat boonop deur ‘n verwoestende aarbewing geref, en sowat 30 000 mense het gesterf.

Afgesien van die ou Armeense koninkryk het ‘n tweede Armeense staat in vervloë dae tot stand gekom. Hierdie staat is gestig na ‘n lang trek deur ‘n prins en sy volgelinge, en die staat is aan die Middellandse See, ook binne die grense van die teenswoordige Turkye, gestig. Hierdie staat, wat dikwels op ou kaarte as die Kruisvaarder-koninkryk van Armenië aangedui word, het veral met Frankryk noue bande gehad. Toe dié staat verdwyn het, het baie van hierdie inwoners hul weg na Libanon gevind, en die Christenbevolking daar nie net in getalle versterk nie, maar ook met hul hoë opvoedingspeil gehelp om ‘n hoogs-ontwikkelde staat, wat eens as die Switserland van die Midde-Ooste genoem is, te vorm.

In Libanon het ‘n groepie met van die radikale Palestynse groepe deurmekaar geraak, en is die organisasie, Armenian Secret Army for the Liberation of Armenia, Asala, gevorm. Asala het die wêreld in die laat 70ger en vroeg 80ger jare deeglik van die Armeense lot aan die hand van die Turke laat kennis neem deur verskeie Turkse teikens soos ambassades en lugdiensbelange aan te val.

Hierna was die veldtog om erkenning en herstel vreedsaam.

Onlangs het ‘n bekende Turkse geskiedskrywer vir die eerste keer erken dat die volksmoord plaasgevind het. Dit word as belangrike deurbraak beskou, maar nie alle Turke is hiermee ingenome nie.

Die sand loop egter uit vir Turkye. Die gebeurtenis verkry internasionaal al hoe meer aansien, en in Nederland het die Tweede Kamer, op inisiatief van die ChristenUnie, die volksmoord amptelik erken. Turkye het al óm die gebeurtenis aan die voorvereistes vir deelwording van die EU begin voldoen. Die doodstraf is byvoorbeeld afgeskaf, wat beteken het dat Koerdiese opstandelinge nie meer die doodstraf opgelê kon word nie. Belangriker egter, het Turkye die amptelike onderdrukking van ander inheemse tale, byvoorbeeld juis Koerdies, opgehef. Vir die paar oorblywende Armeniërs – wat meesal ter wille van hul lewens verturks en Moslems geword het, bied dit egter min troos juis omdat hulle amptelik nie bestaan nie.

Indien Turkye meen die Armeense kwessie sal weggaan, misgis die land hom heeltemal. In Nederland en ander Wes-Europese lande kry die bewing om die ontkenning van volksmoorde ‘n strafbare misdryf te maak algaande momentum. Anders as wat ‘n mens sou verwag, handel dit nie soseer oor die uitwissing van Jode nie, aangesien dit, miskien met die uitsondering van die Iranse president na, nêrens amptelik geglo word nie. Met die Armeense volksmoord is dit anders. In Nederland moes verkose parlementslede van Turkse afkoms al van die opneem van hul setels afsien omdat hulle vas glo dat die volksmoord nooit plaasgevind het nie.

In die VSA is ‘n sterk Armeense lobby wat die Wit Huis sal herinner, deeglik herinner wanneer die 100-jarige herdenking oor vyf jaar aanbreek, of wanneer Amerika met te sagte hande teenoor die Turke begin optree. Verder woed ‘n inligtingsoorlog op die internet. Aan die een kant Armeniërs en simpatiseerders wat die stryd baie lewend hou, en aan die ander kant die Turke met teen-propaganda en verwysings na die “sogenaamde” volksmoord.

Turkye moet kennis neem – dwars oor die wêreld is daar mense met ‘n sagte plekkie vir minderhede, veral as hulle onderdruk word. Sulke minderhede het verbasende oorlewingsdrange, soos die groep Assiriese Christene wat hulle in Australië bevind, en noue bande met die Christen-Demokratiese Party aldaar handhaaf.

Dwars oor die wêreld is geskiedenisboeke taamlik rof met die Amerikaners oor hul hantering van die Rooihuid-kwessie, en word oor die algemeen ‘n beeld geskep van klein groepies mense wat in erbarmlike omstandighede in reservate krepeer.

Hoe om die Afrikaner se beeld in die buiteland ten beste te bemark kan moontlik ook een van hierdie volk se belangrikste voortbestaansmiddele wees. Daar kan nie maar agteroorgesit word en gereken word op die wêreld se heroïese herinneringe aan die Anglo-Boere-oorlog nie, en daar kan nie op gereken word dat Julius Malema en ander hier deurlopend en genoegsaam begrip vir Afrikaneronwilligheid om te assimileer sal skep nie.

Gaan na die Armeniërs en word wys.

 


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: