| Artikel Indeks |
|---|
| Taalaktiviste en transformasies: DF Malherbe, Jan Rabie en Dan Roodt |
| 1. Transformasie ná 1902 |
| 2. Transformasie ná 1948 |
| 3. Transformasie ná 1994 |
| Alle bladsye |
Dit is gebruiklik dat ‘n mens in tye van verandering en veral transformasie voortdurend poolshoogte neem van die stand van sake. Soos die titel van hierdie lesing aandui, staan transformasie sentraal, en dis dus noodsaaklik dat vooraf gesê word wat ons daarmee bedoel.
Oor die algemeen assosieer ons in Suid-Afrika “transformasie” met begrippe soos “regstellende aksie”, “gelyke geleenthede”, “verteenwoordigendheid” en dergelike, en heel tereg. Onder meer impliseer dit alles dat die rassesamestelling van instellings, rade en organisasies die demografie van die land moet weerspieël, en dat “aangewese” of voorheen gemarginaliseerde groepe die meerderheid in sulke instellings moet vorm. Dit lei tot voortdurende vergelykings en speletjies met getalle.
Transformasie is egter ‘n politieke begrip met ‘n wyer toepassing, en dit dui op ingrypende verandering, gewoonlik sonder die geweld wat ‘n revolusie kenmerk, maar ook veel vinniger en dringender as ‘n evolusionêre proses. Politieke transformasie, sê André Duvenhage, verwys na ‘n snelle, omvattende en fundamentele verandering van die gemeenskap, wat plaasvind in die vorm van sentrale beplanning, dit wil sê sosiale en politieke ingenieurswese, met die klem op die bestuur van verandering in die algemeen en konflikbestuur in die besonder. Dit impliseer ‘n totale herskikking van ‘n samelewing met veranderings op haas elke terrein met ‘n politieke en/of ideologiese uitgangspunt as dryfkrag (Duvenhage, 2004).
In die Suid-Afrika van vandag bekyk ons transformasie taamlik eenogig, sonder om te let op ander tye van transformasie. In hierdie lesing wil ons die huidige tyd van transformasie vergelyk met twee ander transformasiegeskiedenisse – die era direk ná die Anglo-Boereoorlog en dié ná die bewindsaanvaarding van die Nasionale Party in 1948 en die instelling van die apartheidsbeleid. Dis opmerklik dat die aanvangstye van hierdie transformasies ewe ver van mekaar lê: 46 jaar het verloop tussen 1902 en 1948, en 46 jaar tussen 1948 en 1994, telkens twee generasies.
Ons wil verder die drie transformasiegeskiedenisse bekyk aan die hand van verteenwoordigende taalaktiviste wat op hierdie prosesse gereageer het. En dit doen ons met die wete dat sodanige historiese oorsigte “hoe hard hulle ook daarna mag streef om die feite te respekteer en kontroleerbaar te wees, onvermydelik ’n interpreterende en hipotetiese geaardheid het, deel word van ’n histories-onvoltooide diskoers” (Olivier, 1992: 157).
Wat is taalaktivisme? Du Plessis grond sy definisie van taalaktivisme op ‘n definisie van aktivisme deur Martel (1999). Sy omskryf aktivisme as ‘n regte-georiënteerde proses deur middel waarvan druk uitgeoefen kan word sodat sosiopolitieke praktyke en strukture kan verander. Taalregte-aktivisme, of taalaktivisme, definieer Du Plessis dan as ‘n vorm van aktivisme waarby die rolspelers deur taalregte werk, of selfs teen taalregte werk om ‘n verandering teweeg te bring in die sosiale praktyke, ideologieë en strukture wat die instandhouding en ontwikkeling van taalgemeenskappe beïnvloed. Aktiviste wend bepaalde instrumente aan waarmee hulle hul kampanjes vir verandering voer. Martel noem die instrumente van aktivisme, wat volgens haar ook betrekking het op taalaktiviste, naamlik litigasie, drukgroepe (“lobbying”), ondersoeke, gemeenskapsmobilisering, mediadekking en selfs geweld. Laasgenoemde is die uiterste vorm daarvan, maar dit kom nietemin voor (Du Plessis, 2004: 169-170).
‘n Mens sou ook nog kon uitwei oor die redes vir taalaktivistiese aksies. Die doel kan wees die bemagtiging van mense wat as gevolg van bepaalde taalpraktyke benadeel word, en ‘n ander oogmerk kan wees om die voortbestaan te verseker van ‘n taal wat as gevolg van bepaalde praktyke en strukture bedreig word.
Aktiviste, én nie-aktiviste én anti-aktiviste moet in tye van groot verandering steeds keuses maak – ‘n keuse om niks te doen nie, of om iets te doen, en indien iets, wát dan presies? Sulke keuses is in tye van groot historiese keerpunte nooit maklik nie.[1] N.P. van Wyk Louw skryf in sy bekende opstel “Die ewige trek” van “die waagspel van die keuse”. Hy sê dat daar ‘n “volkome ewewig” van argumente kan wees wat ‘n mens na die een of ander kant kan aanvoer (Van Wyk Louw, 1986: 99). Mense wat duidelike keuses maak, oefen altyd ’n invloed uit op ander. Hulle is voorbeelde wat gevolg word of anders as waarskuwing dien. Soos D.J. Opperman sê in die gedig “Negester en stedelig”: “aan jou dade grens ‘n ewigheid”.
By identiteitsvorming, asook in enige politieke omwenteling, is veral die rol van elites deurslaggewend as agente van verandering óf verset. Hulle is voorbeelde, of, in ’n veel gebruikte woord van ons tyd, “rolmodelle”, vir die massas (kyk ook: Louw, 2004: 47).
Wat ons hier wil doen, is om die essensie te gee van die drie transformasiegeskiedenisse, onder meer die gevolge daarvan vir universiteite, en in samehang hiermee, drie gevallestudies van taalaktiviste wat daarop gereageer het. Louw (2004: 44), ’n taalkundige aan Queensland-Universiteit in Australië, identifiseer ook drie tydperke in die geskiedenis van Afrikaans wat ooreenkomste met ons indeling vertoon. Hy praat van die eerste fase (1902-1947) as die “struggle against Anglo cultural imperialism”, die tweede fase (1948-1990) as “a peculiarly South African form of nation building associated with apartheid” en noem die derde tydperk (ná 1994) “a political process geared to ‘black empowerment’”. Vooraf wil ons beklemtoon dat hierdie transformasieprosse nie parallelle van mekaar is nie; dit sou betreklik maklik wees om groot verskille uit te wys. Die aktiviste wat ons behandel, het dikwels nie die steun van mede-aktiviste geniet nie. Hulle is selfs in eie geledere by tye gesien as mense wat die kragte verdeel en hul medestanders verswak. Maar, soos Van Wyk Louw in die reeds vermelde opstel opmerk: “’n Groot historiese beweging gaan ook deur allerhande persoonlike motiewe, verwarring en tallose kleinlikhede voort.” Hy wys ook daarop dat dit in ons geskiedenis dikwels die mense is wat skynbaar die naïefste, mins rasionele keuse gemaak het, wat geseëvier het. (Van Wyk Louw, 1986: 99-100).
| < Vorige | Volgende > |
|---|





