In die aspirasies van die Afrikanervolk vir selfbeskikking en vryheid, is dit belangrik dat die pad wat geloop word na daardie ideaal, aanvaarbaar vir die internasionale gemeenskap, en juridies korrek moet wees, anders is dit 'n doodloopstraat. Dit gaan geensins help as verskillende los groepe Afrikaners elkeen op sy eie probeer vryheid bekom, en as die vraag gevra word, op grond waarvan wil hierdie groepie mense onafhanklikheid eis as daar geen locus standi is op grond van aanvaarde internsionale, en volkereg nie.In die reg beteken locus standi natuurlik die reg om 'n aksie in te stel of voor die hof te bring, en om aangehoor te word in terme van die saak voor die hof.
Die saak van die Afrikaner kan tegelyk eenvoudig en kompleks wees. Dit is eenvoudig in die sin dat daar 'n aantal van ons mense is wat nie onder die ANC regering in Suid Afrika wil bly nie, en 'n behoefte het tot selfbeskikking. Met ander woorde ons is ongelukkig en dink ons kan beter af wees deur onsself te regeer. Maar daardie versugting, gee nog steeds nie vir jou locus standi in die internasionale reg of onder die volkereg nie. Daar is miljoene mense versprei in alle lande van die wêreld, wat oor een of ander rede ongelukkig is met hulle regerings, en eerder hulleself sal wil regeer.
Die meer komplekse kant van ons versugting tot selfregering, is die feit dat daar nog steeds verkillende groepe is, en dat daar nie identifiseerbare verteenwoordigers is nie. 'n Databasis van mense wat lid is van 'n organisasie, is nog nie 'n juridiese belangegroep in terme van die internasionale reg nie. En sou dit gegeld het, sal dit beteken dat daar argumentshalwe tien verskillende groepe is wat elkeen aanspraak maak op selfregering, terwyl hulle ingevolge die volkereg klassifiseerbaar is as een homogene groep – m.a.w. op grond van ras, taal en kultuur.
Sodra een groep homself wil probeer geld nadat daar nie ingevolge die reg locus standi is nie, het so 'n groep basies een keuse oor, en dit is geweldadige of gewapende verset.En dan is jy in die oë van die internasionale gemeenskap, 'n terroris, en dus onaanvaarbaar. Selfs die ANC besef hierdie begrip beter as ons eie mense.
Die kort opsomming van die bogenoemde relaas is dus:
1. Jy moet eers ingevolge die reg kan bewys dat jy eengesind is in jou strewe, dat jy demokraties verkose verteenwoordigers het wat namens jou kan praat en onderhandel, en dat daar eensgesindheid is hoekom jy glo jy 'n saak het, en wat jou behoefte is. Dan is jy beskerm onder die reg.
2. Daardie verteenwoordigers kan dan amptelik met 'n regering onderhandel vir die eise van die groep of volk, en sal daardie onderhandelings beskerm word deur internasionale en volkereg.
3. Is die onderhandelings suksesvol, gaan die groep of volk dan voort om uitvoering te gee, en kan geen regering dit verhoed of veroordeel nie.
4. Is die onderhandelings nie suksesvol nie, kan die groep of volk hulle saak na die toepaslike howe neem, tot sover as die internasionale howe, of kan hulle met wettige versetaksies begin, soos die weerhouding van belasting ens.
5. Die belangrike aspek is dat jy bewys moet kan lewer dat jy die letter van die aanvaarderegsvoorskrifte gevolg het – dan het jy locus standi.
Dit is belangrik vir die Afrikaner om kredietwaardig te bly voor die internasionale gemeenskap in sy strewe na vryheid en onafhanklikheid. Indien ons slaag, kan ons nie bekostig om met sanksies en boikotte teen ons te begin nie, want dan is die hele droom 'n skip sonder 'n aandryfskroef. Hy kan nêrens heen gaan nie.
Die VVK is nie 'n plan met 'n beskryfbare pad en einde nie, en is nie tot stand gebring omdat dit die uiteindelike utopia vir ons skets nie. Dit is die begin, waarsonder ons nie kan verder gaan nie.
Dit is lekker om te kla, en te kritiseer, al doen ons dit met reg, maar een of ander tyd moet die pad sinvol geloop word. En elke pad lei na 'n reis, en elke reis begin met die eerste tree. Die Volksverkiesing is daardie eerste tree – die koop van die wettige en geldige reiskaartjie.
Daardie reis behels dan die onderhandelinge, ens, tot die nuwe staat gevestig is. Die verskille tussen die Afrikanergroepe, word dan die nuwe staat se politiek, en kan die gevegte daarbinne voortgesit word. (Behoede ons)
Natuurlik is daar belangegroepe binne en buite Afrikanerdom wat nie die reis wil loop nie – wat hulle eie agendas het, of sommer net pleinweg dink hulle weet beter. In die verband word daar baie disinformasie en pleinweg kwaadpraatjies versprei, en almal moet baie versigtig wees om goedsmoeds alles te glo wat hulle hoor of lees.
Die feit is: Sonder die Volksverkiesing het ons as volk, of groepe binne daardie volk, geen juridiese gronde om op te staan, om ons vryheidsdroom te verwesenlik nie. As jy jou reg tot vryheid en/of verset wil wettig, gaan registreer by die VVK, en gaan stem as die verkiesing daar is. Dit is die regte ding om te doen.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





