In hierdie stuk gebruik ek die terme van "beskawing" en "ryk" uitruilbaar. Ek weet dis nie tegnies uitruilbaar nie, maar die twee gaan dikwels hand aan hand. Elke ryk in die geskiedenis het met een of ander vlak van beskawing gepaard gegaan. Verstaan "beskawing" in die konteks van omstandighede toe die ryk in die geskiedenis bestaan het. Die Romeinse Ryk was nie beskaafd soos wat ons dit vandag verstaan nie, maar in die konteks van die wêreld soos die Romeine dit verstaan het, was hulle "beskaafd."
Alle beskawings het deur die millenia tot 'n einde gekom. Hierdie beskawings gaan basies deur drie fases: 'n Bloeitydperk, 'n tydperk van stagnasie en 'n tydperk van verval. Die proses duur tipies eeue om te voltooi. Die bloeitydperk gaan gepaard met 'n oplewing in die kunste, uitbreiding van handel en nuwe uitvindings. Die tydperk van stagnasie tree in wanneer mense sag word. Hulle wil deel hê aan die welvaart van die samelewing sonder om daarvoor te werk. Hulle eien die reg tot 'n aandeel in die welvaart op, bloot omdat hulle bestaan. Hierdie "slapgat" houding lei onvermydelik tot die verval van die beskawing.
Die Song-Dinastie van Sjina het oorleef van die jaar 960 tot die jaar 1279, ongeveer 300 jaar. In hierdie tyd het Sjina 'n bloeitydperk beleef. Hulle het ongekende hoogtes bereik in die kunste en tegnologie, soos die gebruik van buskruit in wapens teen die Mongole, en die uitvinding van die eerste kru vorms van proselein. Maar die Sjinese hat sag geword. Die hoeveelheid staatsamptenare wat basies niks produseer nie, maar aanspraak gemaak het op 'n groot deel van die nasionale welvaart het drasties toegeneem en uiteindelik is Sjina oorweldig deur die Mongole. Sien ons vandag 'n parallel in die Westerse wêreld? Mense wat niks produseer nie, maar hulle deel opeis van die nasionale welvaart? Sien ons dit spesifiek in Suid-Afrika?
Die Romeinse Ryk het veel langer oorleef. Meeste geskiedkundiges sê dit het begin in die jaar 27 VC toe Augustus keiser geword het, alhoewel sy voorganger, Julius Caesar, 'n groot aandeel in die totstandkoming van hierdie ryk gehad het. In die Weste het die Romeinse ryk oorleef tot die jaar 476 en in die ooste tot die jaar 1453, toe dit deur die Moslems uit Turkeie oorweldig is. Op sy piek het die Romeinse mense so sag geword, dat hulle verwag het dat die regering hulle moes voed. Kos is gratis op die straathoeke van Rome uitgedeel. Soldate het hulself vermink, deur hulle eie vingers af te kap, sodat hulle nie 'n swaard kon hanteer nie, en dus nie vir militêre diensplig opgeroep kon word nie. Die uiteinde vir die Romeinse Ryk was onvermydelik!
Die Westerse Beskawing het in Europa begin tydens die Renaissance in die 14de eeu. Dit was weereens gekenmerk deur 'n geweldige oplewing in die kuste en nuwe uitvindings, wat vandag tot 'n mate nog voortgaan. Maar vandag beleef ons die piek van hierdie beskawing. Die westerlinge het sag geword. Hulle wil nie meer werk nie. Daar is oproer in Griekeland omdat die mense op 61 jaar wil aftree. Daar is oproer in Frankryk omdat hulle op 60 jaar wil aftree. Mense wat te lui is om vir hulself te sorg, word dwarsdeur die westerse wêreld deur die staat onderhou. Om hierdie sosialistiese programme te finansier, leen die regerings meer geld as wat hulle ooit kan terugbetaal. Amerika se nasionale skuld beloop nou meer as $14 triljoen! Dit is ongeveer R300,000 vir elke man, vrou en kind in die land! Amerika kan nie meer die rente op sy skuld betaal nie. 'n Groot deel van die geld wat hulle nou leen, gaan om rente op ou lenings te betaal.
Maar waar staan Suid-Afrika in hierdie globale verval wat tot die einde van ons beskawing gaan lei? Ek is bevrees dat u op die voorpunt staan. Kyk na die massiewe hoeveelheid amptenare van die onderskeie vlakke van die regering wat weinig produseer, maar groot salarisse verdien. Kyk na die verval van die Suid-Afrikaanse stede. Kyk na die unies wat mense verteenwoordig wat nie hard wil werk nie, maar steeds meer geld eis. Waar dink u staan Suid-Afrika?
Dit lei tot die volgende vraag: Watter land of groep gaan die volgende beskawing of ryk wees? As ek moet voorspel gaan dit Sjina wees. Sjina besit feitlik reeds Amerika en Europa. Sjina is besig om beheer te bekom oor die wêreld se strategiese minerale. Waarom dink u daar is so 'n groot toestroming van Sjinese in SA? Suid-Afrika is die bron van vele strategiese minerale vir die wêreld. Die Sjinese werk hard, is intelligent, en daar is baie van hulle! As ons nie wakker skrik nie, gaan ons agter-kleinkinders in fabrieke sweet om skoene vir die ryk Sjinese te maak! Dit geld vir die hele Weste.
Word wakker westerse wêreld! Julle skip lek water. Hou op om op te offer ter wille van die onbevoegtes en luies in jul samelewing. Raak meer selfsugtig en sorg eerste vir die mense wat werk en presteer. Daar is eerbaarheid in sulke selfsug, want jou oorlewing hang daarvan af.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





