praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Friday, 10. February 2012

Bygewerk op:09:59:45 AM GMT

Jy is hier: Feuilleton Opstelle Die verduideliking

Die verduideliking

E-pos Afdruk PDF

Die toneel baie jare gelede tydens ‘n opleidings- en begrotingsvergadering in een. Dit was een van my bestuurstegnieke om al die personeel by ‘n begrotingsvergadering te betrek, sodat hulle sommer vroeg die waarheid kan leer van baie behoeftes, en min hulpbronne.

Die een junior het groot, groot planne. Ons moet dit en dat doen, en sommer die ander ding ook.

Hy is pas afgestudeer met ‘n deftige graad, met beide ouers onderwysers. Sy graad by Vista Universiteit verwerf.

“En waar moet die geld vandaan kom?”

“From government. Government has unlimited sources.”

Weer val ek op my geykte modelletjie terug.

“Jy het een bees. Jy leen die bees vir Ntoko, en hy gee jou ‘n I owe you-papiertjie vir daai bees. Hoeveel is daai papiertjie werd?”

“Een bees.”

“En nou gaan Ntoko en hy gee nog so ‘n papiertjie vir Mpusella, met daai selfde bees as surety. Nou hoeveel is daai papiertjie van jou wat jy by Ntoko gekry het werd.”

“’n Halwe bees.”

“En nou gaan Ntoko nog en hy gee sulke papiertjies vir vier ander mense. Wat doen jy?”

“Ek donder vir Ntoko.”

Nou verstaan my pas-gegradueerde kollega van hoekom die destydse goewerment nie die paaie geteer en sommer met robyne ook uitgevoer het nie. Hoekom elke huis nie ‘n spoelêwwie en water verniet gekry het nie.

Hy het miskien verstaan, maar verstaan die ministers? Die LUR’e. Die Uitspattige Burgemeesters – dié weet ons al lankal, hulle het nie die vaagste benul nie.

Die Malema-verduideliking daarvoor dat die nuwe goewerment ook nie by alles kan bykom nie, na eers geld op hom gemors is soos R300 000 per maand vir beskerming, is eenvoudig. Dis oor die wit mense steeds met al die geld sit.

Nasionaliseer die myne, neem die wit mense se werk weg...

So gaan hierdie ontwykende Kruger-triljoene iewers vandaan kom en gaan die regering “unlimited resources” hê.

Al bestaan dit, en kry hulle dit, party hierdie regering dit binne ‘n dag uit.

Of koop vaal ballonne met die punte afgesny sodat dit kan pas.

Ek het al gewonder presies wat in “unlimited resources.”

Neem nou jou kroos na ‘n rugbywedstryd en sê vir hulle jy het “unlimited resources” en hulle kan soveel koeldrank, tjips en pette koop as hulle wil.

Voor die hoofvoorwedstryd, is jy gewaarborg om sonder sent te sit.

Dan wil ‘n mens nie eens praat van ‘n eendag-krieketwedstryd nie.

By geleentheid het ek ook gedink ek is amper by “unlimited.” Ek is met ‘n mediakaart by die rugby in, kleinman is te jonk en stap onder die kaartjieknipper se neus deur, en ouboet het buite ‘n kaartjie persent gekry.

Die uwe sit voor rustyd nog en wonder of hy hom die luukse van ‘n bier kan veroorloof, toe ‘n stemmetjie sê: “Maak net eers seker of daar genoeg bates vir die aanskaf van likiede bates is.”

Toe nou nie. Trouens, ‘n halwe Coke word gekonfiskeer om darem iets te hê om vir die karwag te kan gee – ‘n oulike knaap wat karre oppas om te studeer.

Want toe was die parkeergeld ook al in tjips of iets omgesit.

Iets klop nie, tot ek begin navraag doen wat kos wat by die rugby.

Ag nee man, die borge is ‘n rip off, besef ek. Die pryse wat die mense vir die “borge” se produkte moet betaal maak ver meer as vir die paar rand borgskappe op.

Omtrent, besef ek, soos om belasting en liksensiegeld en petrolheffings vir paaie te betaal, maar dan nog tolgeld ook te moet hoes. En steed nie ordentlike paaie te hê nie.

Ja nee, besef ek bitter. Daar is deesdae darem baie Ntoko’s wat I owe you’s loop en uitdeel. Wys hulle net vir my, ek het skielik ‘n onbedaarlike belusting om vir ‘n paar dinge te gaan verduidelik. So met ‘n opgerolde plat hand.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: