praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Friday, 10. February 2012

Bygewerk op:09:59:45 AM GMT

Jy is hier: Feuilleton Opstelle Afrikaners en vryheid

Afrikaners en vryheid

E-pos Afdruk PDF

'n Gesprek oor die toekoms, gelewer by die Diamantvleilandgoed, 15 Januarie 2010

Danie Goosen
Hieronder word aan die hand van enkele argumente oor die toekoms van ons as Afrikaners nagedink. Alhoewel ons as Afrikaners oor meer as net argumente beskik, moet ons ook argumenteer. Daarsonder sal ons nie ’n toekoms hê nie. Konkrete dade word van ons gevra. Maar dit is nie genoeg nie. Ons het ook denke nodig, nou meer as ooit in ons geskiedenis.

1. Dit is vir my ’n oorweldigende feit dat ons as Afrikaners nog nie deur ’n verbeeldingryke idee aangevuur word wat rigting aan onsself as kultuur-gemeenskap kan gee nie. Inteendeel, Afrikaners is op die gebied van idees en denkbeelde oor die toekoms verdwaal. Ons strompel tussen uiteenlopende toekomsverwagtinge rond. Soms is die enigste gemeenskaplike ding daaraan dat hulle donker van aard is. En dat hulle ’n soort kollektiewe moedeloosheid uitstraal.

Dit was natuurlik nie altyd so nie. In weerwil daarvan dat Afrikaners praktiese mense is wat ’n hand aan ’n ploeg kan slaan, is ons ook idealiste. Dit blyk onder meer uit die feit dat ons ganse geskiedenis eintlik in die teken van ’n dieperliggende idee verstaan kan word. Dit is ’n idee wat ons aangevuur het, wat ons verbeelding aangegryp het, wat ons magneties die toekoms ingetrek het.

Watter idee is dit? Hierdie idee was niks minder as die idee van vryheid nie. As ons ’n wesenlike antwoord op die krisis van Afrikanerskap vandag wil gee, moet ons hierdie ideaal weer ons eie maak. Dit is ook niks minder as dié idee nie wat weer ons verbeelding kan aangryp en wat weer ’n duidelike rigtingsbesef aan ons mense kan gee.

Ons is hartlik moeg van die patologiese vorme van selfvertwyfeling oor ons en ons toekoms, vir die moedeloosheid wat aan ons knaag, vir die penne optrek en padgee. ’n Duidelike beeld van onsself en ons toekoms kan dié antwoord hierop wees. Die wese daarvan lê opgesluit in die woord "vryheid".

2. Maar wat word met "vryheid" bedoel? Dwarsoor die globale wêreld maar ook onder Afrikaners word die ideaal van vryheid vandag op verskillende wyses verstaan. Ter wille van eenvoud kan ’n mens dit tot twee wyses beperk, naamlik die liberale en die republikeinse idee van vryheid. Daar behoort onder Afrikaners ’n veel groter gesprek hieroor te wees. Onder diegene wat reeds deur die vryheidsideaal aangevuur word, is daar nog te veel deurmekaar praat en te veel deurmekaar doen.  En dit dra by tot ons rigtingloosheid. Wat word met hierdie twee idees van vryheid bedoel?

Die liberale idee van vryheid is vandag die dominante een. Dié idee steun op die gedagte dat vryheid te doen het met die reg van die individu om self te besluit oor hoe hy of sy hulle lewe wil inrig. Dié idee van vryheid gaan uit van die gedagte dat dinge soos my familie, my etniese gemeenskap, my kultuur, my tradisie, maar ook die staat nie aan my mag voorskryf hoe ek my lewe mag inrig nie. Dié reg rus uitsluitlik by myself as individu. (Vandag is ekstreme voorbeelde hiervan die reg wat kinders teenoor hulle ouers opeis om self oor hulle lewe te besluit, maar ’n ander en meer algemeen aanvaarbare voorbeeld hiervan is die reg wat individue vir hulself opeis om enige skool of universiteit – ongeag die tradisie, ideale of waardes wat hierdie skole en universiteite oor geslagte gekultiveer het – by te woon).

Hierdie idee van vryheid is vandag ook onder – ek dink die meerderheid – Afrikaners aanwesig wat vryheid liefhet. Hierdie Afrikaners – en ek betwyfel glad nie hulle motiewe nie, inteendeel – is meestal Afrikaners wat hulle daarvoor beywer om die bestaande grondwetlike bedeling en al die instrumente eie daaraan, soos die grondwetlike hof, die howe en die staatsadministrasie in die algemeen, in beskerming te neem. Diegene wat hierdie idee van vryheid aanhang, gaan uit van die standpunt dat Afrikaners ten minste in beginsel reeds vry is. Daarom, sê hulle, is dit ook nie nodig om na vryheid te strewe nie, want ons is dit reeds. Vanuit dié kringe sal ’n mens daarom ook ’n vraag hoor soos: Waarom karring julle so oor ons vryheid, ons is immers ingevolge die grondwetlike bedeling reeds vry! As daar volgens hierdie definisie van vryheid na iets gestrewe moet word, is dit nie om ’n staat van vryheid in die toekoms waar te maak nie, maar eerder om die bestaande grondwetlike orde in beskerming te neem. Want, sê hulle, as dit sou val, sou die voorwaardes vir ons reeds bestaande vryheid ondermyn word.

Partypolities is die DA, waarin die meerderheid Afrikaners hulself bevind, tot hierdie gedagte van vryheid verbind.

Dit bring ons by die ander idee van vryheid, naamlik die republikeinse idee. Dit is die ideaal waarby ekself aansluit. Volgens die Klassieke republikeinse ideaal van vryheid is ons as mense vry wanneer ons as gemeenskappe deur middel van ons politieke, kulturele en andersoortige instellings in staat gestel word om die hoogste ideale – die hoogste goed – van ons tradisie op ’n voortreflike wyse na te jaag. Laasgenoemde sluit in ideale soos hardwerkendheid, pligsbesef, geregtigheid, vriendskap, wysheid, dapperheid en grootsheid. Wanneer ons hierdie ideale in die praktyk najaag en op ’n voortreflike wyse waarmaak, sê die republikeine, sal ons as gemeenskappe ‘floreer’.  En wanneer dit gebeur, is ons vry.

Hierdie idee van vryheid tree die sterkste na vore onder Afrikaners wat hulle daarop toespits om selfstandige strukture, instellings of forums te skep waarbinne en waarop ’n eie lewe in ooreenstemming met ons hoogste ideale moontlik is. Die mees radikale manifestasie van hierdie vryheidsideeal is onder dié Afrikaners wat óf territoriale selfstandigheid nastrewe óf poog om letterlik ’n staat binne ’n staat tot stand te bring.

Partypolities word die republikeinse ideaal van vryheid nie sterk verteenwoordig nie. Elemente daarvan is in die VF+ aanwesig.

Die twee botsende ideale van vryheid moet aan ’n dwingende gesprek onderwerp word met die oog op ’n meer verstandige verhouding tussen hulle. Want dit skep verwarring. So byvoorbeeld is daar vryheidsliefhebbende Afrikaners wat nie noodwendig die liberale idee van vryheid aanhang nie, maar wat tegelyk hulself op die grondwetlike bedeling en die howe beroep. Wat is die gevolge van hierdie optrede? Knoop dit hierdie Afrikaners, in weerwil van hulle strewe na ’n vrye ruimte, juis willens en wetens aan die bestaande grondwetlike bedeling vas? Of maak hulle optrede juis die ruimtes oop om sterker inhoud aan die republikeinse ideaal te gee?

Dieselfde ongemaklike vraag kan met betrekking tot die republikeinse Afrikaners gevra word. In weerwil van hulle strewe na die skepping van selfstandige ruimtes waar ’n eie en vrye lewe moontlik is, beroep hulle hulself ook dikwels op die grondwetlike orde, die howe, ensovoorts. Maar wat is die gevolge hiervan? Beteken dit onder meer dat die republikeinse strewe na vryheid nie sonder ’n bepaalde afhanklikheid jeens en gebruik van die bestaande orde gestalte gegee kan word nie?

M.i. is hierdie vrae dinge waarop ons ’n antwoord moet gee. As ek ’n suggestie kan waag: Ons moet na ’n toestand strewe waarin hierdie twee benaderings nie ervaar word as vyande van mekaar nie, maar eerder as twee strategieë waarmee ons die saak van die Afrikaner in beskerming kan neem. Ons moet as te ware leer om met twee hande te veg: Met dié hand wat die instrumente van die bestaande orde gebruik, maar ook met dié hand wat vir ons eie ruimtes van vryheid kan oopmaak.

Partypolities beteken dit gewoon dat die geveg tussen die DA en ’n kleiner party soos die VF+ glad nie sin maak nie. Inteendeel, dit verhoed dat ons ’n duidelike fokus kry op wat ons as Afrikaners wil doen.

3. Dit bring my by ’n verwante vraag onder Afrikaners. Dit hou nogmaals met die twee uiteenlopende idees van vryheid verband. Die ondersteuners van die liberale en die republikeinse idees van vryheid dink elkeen anders na oor die politieke en institusionele ruimtes waarbinne hulle onderskeie idees van vryheid op ’n konkrete wyse gestalte gegee moet word. Omdat Afrikaners nie koherent hieroor is nie (maar eerder tussen twee uiteenlopende idees van vryheid rondval), val ons ook in die praktyk tussen twee stoele deur. Ek verduidelik.

Volgens die liberale tradisie kom die vryheid van die individu tot sy reg wanneer hy byvoorbeeld self kan besluit na watter skool of universiteit hy sy kinders wil stuur. Op grond hiervan het ’n Engelssprekende Xhosa in Brooklyn die reg om sy kinders na die Afrikaanse Anton van Wouw-Laerskool naby hom te stuur, dit is nou as hyself so sou verkies. Die vooronderstelling waarop hierdie liberale argument rus, is dat die staat nie ’n verpligting jeens enige gemeenskap het om vir hulle die institusionele ruimtes (soos skole en universiteite) te skep waarbinne hulle hul hoogste ideale op ’n voortreflike wyse kan kultiveer en najaag nie. Inteendeel, die liberale argument rus op die vooronderstelling dat die staat juis volledig neutraal ten opsigte van enige gemeenskap se hoogste ideale moet wees. As enige individu hierdie ideale wil nastrewe, staan dit hom of haar natuurlik vry. Maar, sê die liberale orde, die individu moet hierdie ideale in sy of haar private wêreld kultiveer (min of meer na analogie van ons president wat in sy private lewe die Zoeloe-tradisies met betrekking tot die huwelik kontinueer). Die staat selfs staan egter onder geen die verpligting om hierdie ideale by wyse van instellings soos die skole en universiteite van gemeenskappe in beskerming te neem nie. Inteendeel, die staat is neutraal.

Die bestaande politieke orde rus volledig op hierdie liberale uitgangspunte. Ons verwys weldra na een of twee probleme eie daaraan verbonde.

Nou, die republikeinse tradisie het presies die teenoorgestelde standpunt. Daarvolgens kom ons vryheid as mense nie anders tot sy reg as in en deur gemeenskapsinstellings soos onder meer skole en universiteite nie. Volgens die republikeinse tradisie kan die staat daarom ook nie neutraal ten opsigte van die ideale van gemeenskappe staan nie. Inteendeel, die staat is slegs ’n staat in die mate waarin dit juis die ruimte vir sy gemeenskap of gemeenskappe skep waarbinne hulle hierdie ideale kan najaag en kultiveer. Dit is ook waar van instellings soos skole en universiteite. Die staat moet skole en universiteite voorsien waarin gemeenskappe hulle tradisies as gemeenskappe kan uitbou en beskerm.

Maar hier lê juis ons krisis: Alhoewel die Afrikaners as individue die reg het om hulle kinders na welke skool of universiteit ook al te stuur (en daaraan herinner liberale woordvoerders ons gereeld), het Afrikaners nie die reg om hulle kinders in ’n staatsondersteunde Afrikaner-skool of -universiteit te sit waar die Afrikanerlewe gekultiveer en uitgebou kan word nie. G’n wonder nie dat republikeinse Afrikaner die huidige orde as ’n wesenlike hindernis op die weg na ’n werklik vrye en florerende gemeenskapslewe ervaar nie.

Hierdie toedrag van sake is ’n direkte gevolg van die powere grondwet van 1994/96. Sy powere aard lê opgesluit in die feit dat hy – in weerwil van allerlei patetiese gebare ten gunste van gemeenskappe – juis nie institusioneel vir gemeenskappe voorsiening maak nie. Hy kan nie, want sy fundamentele uitgangspunt is liberale uitgangspunte: Dit is uitgangspunte ingevolge waarvan die individu en sy keusevryheid die kern is waaromheen alles draai.

Die liberale orde word m.i. deur wesenlike kontradiksies gekenmerk. Dit is kontradiksies waarop ons voortdurend moet wys. Alhoewel die liberale staat homself teoreties as neutraal ten opsigte van die ideale van gemeenskappe voorhou, is hy in die praktyk juis nie neutraal nie. Die staat is veral nie neutraal ten opsigte van een spesifieke gemeenskap nie. Terwyl hy homself met ’n beroep op die grondwet as neutraal voorhou, bevorder hy in alle opsigte die wil en wense van die meerderheid. Soveel so dat die wil en wense van die meerderheid as dié wet van die land geld. Niks mag voor sy gesag en wil standhou nie. Op alle terreine van die lewe. So byvoorbeeld word die wil van die meerderheid – nogal in naam van die individu – reeds demografies op alles afgedwing! Wat met Afrikaanse skole die afgelope dekade gebeur het, skreeu hierdie feit uit. In naam van individuele regte het die meerderheid eenvoudig hulle wil as meerderheid op Afrikaanse skole afgedwing.

Daarby, en dit is waarskynlik sy skreiendste kontradiksie, is hierdie staat – in weerwil van sy pretensie om neutraal te wees – freneties tot die ‘swart’ meerderheid verbind. ‘Swart’ is sonder twyfel sy voorkeur kleur, ‘wit’ iets wat veel laer in die rangorde van sy voorkeure beweeg. Om die waarheid te sê, in die hande van sy Malemas is ‘wit’ juis iets wat – sagkens gestel – maar opsy geskuif moet word. Nou, ekself reageer nie op ’n liberale wyse hierop nie. Inteendeel, dit is vir my as republikein met my republikeinse klem op gemeenskappe die staat se reg om homself tot die belange van die swart meerderheid te verbind, maar dan a. Moet hy nie voorgee dat hy neutraal is nie, en b. Dan wil die Afrikaners dieselfde reg op dié instellings hê waarop hulle hul eie vryheid kan kultiveer.

4. Die vierde en laaste punt hou verband met die vraag na die "hoe". Hoe kan Afrikaners vandag weer inhoud aan die republikeinse ideaal op ’n oortuigende wyse gee? Ek los slegs enkele wenke:

a. Ons sal die gesprek oor Afrikaner-vryheid op ’n veel dwingender wyse moet voer. Met onsself, maar ook met die meerderheid, met die regering, met die buiteland. Dit sal ’n gesprek moet wees wat nie deur intellektuele luiheid nie, maar deur intelligente, verbeeldingryke en prakties werkbare denke gekenmerk word. Tegelyk moet dit deur geen sweempie van hunkering na ’n sogenaamde goeie verlede gekenmerk wees nie. As dit die geval is, gaan ons niemand se verbeelding aangryp nie, veral nie ons eie verbeelding nie. Dit moet ’n gesprek wees wat vanuit die republikeinse tradisie toekomsgerig is.

Ons sal in die besonder die grondwetlike gesprek – of die gesprek oor ons grondwetlike toekoms – moet opneem, met krag en verbeelding. Die vraag na die Afrikaners se grondwetlike stand is nog nie beantwoord nie. Inteendeel, die antwoord daarop lê nog in die toekoms. Om te praat van ’n andersoortige staatkundige bedeling vir Afrikaners klink op die eerste oogopslag onmoontlik. Maar ek dink die omstandighede waarbinne ons nuut oor die toekoms kan dink, is nou gunstiger as tydens enige tydperk vanaf die 1994-oorgang. Vanweë die onwrikbaar falende staat – onwrikbaar, omdat daar geen einde in sig is vir die faal van die staat nie – word daar onder Afrikaners m.i. vir die eerste keer op ’n redelik dwingende wyse na grondwetlike alternatiewe gevra. Uiters betekenisvolle bakens in hierdie gesprek is redelik onlangse uitlatings in die media van wyd uiteenlopende figure soos wyle Chris Louw, Breyten Breytenbach, Lawrie Schlemmer, Koos Malan en – interessant genoeg – Pik Botha. Hierdie figure het met verskillende grade van intensiteit en teen die agtergrond van die falende staat te kenne gegee dat die grondwetlike gesprek hervat moet word.

b. Die punt hou verband met die verhouding tussen die idee en die praktyk. Nou, ’n mens kan natuurlik baie geleerde dinge daaroor sê. Laat ek volstaan met die gedagte dat daar ’n baie verwikkelde verhouding tussen hierdie twee dinge is. Sonder idees is ons praktyke leeg, maar sonder praktyke is ons idees ook leeg. Hulle impliseer mekaar, het mekaar nodig.

Maar wat beteken dit? As ’n mens dit in baie konkrete terme kan formuleer, kan ons sê dat dit belangrik is om sowel die idee van vryheid as die praktyk van vryheid uit te dra. Enersyds moet ons die idee-gesprek oor vryheid voer, onophoudelik, met intensiteit. Maar dit is nie waar dit ophou nie. Ons moet tegelyk ook die praktyk/e van vryheid beoefen, met intensiteit en oorgawe. Hoe? Deur praktyke van selfstandigheid onder ons mense te vestig, dit wil sê praktyke ingevolge waarvan ons beheer oor ons eie gemeenskaplike sake neem. Ek verwys na praktyke soos selfstandige skole, selfstandige universiteite, selfstandige hospitale en howe, selfstandige veiligheidsinstansies, ensovoorts, maar ook – om effens groter te formuleer – selfstandige strate en woonbuurtes, selfstandige dorpe, selfstandige stede en selfstandige gebiede.

As ons die stryd rondom idees knoop aan die stig van selfstandige praktyke, sal ons reeds ’n ver pad geloop het in die verwesenliking van die republikeinse vryheidsideaal. Om die waarheid te sê, wanneer ons dié dinge doen, is die republiek van vryheid reeds tussen ons.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: