praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Tuesday, 22. May 2012

Bygewerk op:07:38:23 AM GMT

Jy is hier: Feuilleton Opstelle Hoe ry die trein...

Hoe ry die trein...

E-pos Afdruk PDF

Oom Sarel was ‘n treindrywer uit die ou dae toe daar nog meer treine as soustreine te siene was. Nou, afgetree, bou hy en ‘n destydse kollega nostalgies modelle van die treine van destyds.

Dis egter die staaltjies van toet wat fassineer, en meestal verlore sal gaan want oom Sarel se hande staan vir niks verkeerd nie, behalwe skryf.

“Destyds” vertel oom Sarel, “het dit nog dikwels gebeur dat lyke met die trein vervoer is. Die kis het in die pakruimte naas die kondukteur se kompartement gereis.

“Soms het die oorledene se familie ‘n begeleier afgevaardig, wat die lyk na sy bestemming moes vergesel.”

Oom Sarel se verhaal speel hom in die bitter hoëveldse winterkoue af. Iewers, onderweg in die middernagtelike ure, los ‘n kondukteur by ‘n stasie die een af wat die lyk aan boord geneem het. Die kondukteur wat blaaskans kry, lig sy maat in oor die lyk wat saamry. Dié is vreeslik bang vir lyke, maar sy werk is sy werk.

Die trein vertrek weer, en nie lank nie, of die nuwe kondukteur besluit hy gaan sy fles koffie inspan en toebroodjies eet om die koue te verdryf.

Die geur van warm koffie versprei na die pakruimte langsaan, waar die begeleier self erg verkluim op die kis sit. En hy raak net erg lus.

Die kondukteur het net begin suie aan die vuurwarm koffie, toe die deur na die lyk oopgaan, en iemand beleef vra: “Goeie naand, kan ek dalk ook asseblief koffie teen die koue kry?”

Die kondukteur is wel oor die lyk wat saamry ingelig, maar nie oor die begeleier nie. Toe hy dus nou stemme hoor, keer hy die warm koffie op homself om, en sonder sy toebroodjies is hy met een duikslag deur die toe venster die nag in.

Synde ‘n goederetrein, is daar net mooi niks wat die begeleier kon doen om die drywer en stoker oor die ongeval ingelig te kry nie. Eers by die volgende halte, gaan breek hy die vreeslike nuus.

Die lokomotief word afgehaak, en so agteruit loop soek hulle die kondukteur. Uiteindelik kry hulle hom toe sleg beseer in die donker.

Pa Jan het self ‘n interessante storie vertel. Treine uit die binneland wat kus toe kom by George, het gewoonlik bo-op die berg vir oulaas water ingeneem. Heel dikwels het daar water gemors, en dus het daar ‘n plaat veldblommetjies om die tenk gegroei.

Met so ‘n water innemery, besluit die kondukteur om blommetjies te pluk, en so ingedagte raak hy, dat hy nooit bemerk die wag trek hom ‘n streep, en waai die vlag dat die trein kan vertrek nie. Die masjinis speel saam, en die trein begin byna geluidloos wegrol af na George toe.

Teen die tyd dat die kondukteur iets agterkom, is die trein al effe op spoed, en die masjinis trek al die ketels oop. Net-net haal die kondukteur dit nie.

Die spoor krink heen en weer af George toe, en die kondukteur kies kortpad, reg af see se kant toe. Kort voor lank sal hy die spoor kruis, en dan sal hy die spulletjie die leviete voorlees!

Maar toe hy die spoor kruis, is die trein net flussies verby, en hy moet verder af. Maar ook daar verpas hy die trein net-net.

Of daar nou ‘n haltetjie voor George se stasie is, en of die trein op George se stasie self ingetrek het, dié kan ek nou nie uit Pa-Jan se vertelling onthou nie, maar toe die trein die eerste stasie onder die berg intrek, kom die brieskende kwaad kondukteur kort op sy hakke aangehardloop.

 


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: