praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Tuesday, 22. May 2012

Bygewerk op:07:38:23 AM GMT

Jy is hier: Feuilleton Opstelle Die uil van Minerva - 'n repliek oor Afrikanerpolitiek

Die uil van Minerva - 'n repliek oor Afrikanerpolitiek

E-pos Afdruk PDF
Artikel Indeks
Die uil van Minerva - 'n repliek oor Afrikanerpolitiek
Page 2
Page 3
Page 4
Page 5
Alle bladsye
Image
Image
  • Vorige
  • 1 of 2
  • Volgende

Ek wou nog vir Dan Fourie ná sy verdere kommentaar op Litnet geantwoord het, toe doen Blou Makou 1, 2 en 3 dit sommer namens my (én Pieter Mulder). Melt het my gevra om Mulder se boek, "Kan Afrikaners toyi-toyi" hier op LitNet te resenseer. Tot dusver is ek so halfpad daardeur en ek moet sê: ek is aangenaam verras. Uiteindelik is Pieter ook 'n Afro-realis (Stephen Smith van Negrologie-faam se term) en hy glo ons kan Suid-Afrika en Afrika 'n beter plek maak, mits ons besef dat ons nie in Europa is nie en dat ander reëls hier geld.

Maar daaroor later meer. Laat ek op Dan Fourie se punte van kritiek antwoord:

Dankie vir die kompliment oor my skryfstyl, maar lees ook wat Jelleke Wierenga hier skryf. Sy laat Afrikaans regtig klink soos Van Wyk Louw se beiteltjie, genoeg om die aardbol middeldeur te kloof.

Ek dink nie ek sweep mense emosioneel op nie. As jy dink wat Zille in die afgelope verkiesing gedoen het, is dit niks anders as swart gevaar nie: "Stop Zuma!" Vir haar het sulke emosionele opsweping goed gewerk en ongelukkig oortuig jy die gemiddelde kieser nie met 'n logiese verhandeling nie, maar met een of ander slagspreuk.

Anders as baie regse Afrikaners, was ek nog nooit teen Jode nie. Die ou storie van "onder my beste vriende tel Jode (en Jodinne). Een van my grootste bewonderaars tans is nog 'n Joodse dame wat besonder goed Engels skryf, Ilana Mercer, wat in die VSA woon, maar hier gebore is.

Wat die Engelse betref, geld dieselfde. Maar soos 'n Rus (wat nogal vlot Afrikaans praat!) nie lank gelede aan my gesê het nie: "Dis nie dat ons Russe nie van Engelse hou nie; die probleem is die Engelse hou nie van ons nie!" Dis ongelukkig 'n feit van die geskiedenis dat Brittanje, asook die plaaslike Engelse elite wat maar nog steeds pro-Brits is, die afgelope 200 jaar alles in hul vermoë gedoen het om ons en ons taal te vernietig. Selfs Zille, wat tans deur die meerderheid Afrikaners by die stembus ondersteun word, is nie eintlik anders as Somerset, Milner of Trevor Huddleston nie; sy sien ons as 'n lastige oorblyfsel wat in die groter, bowenal Engelse "Suid-Afrika" moet oplos.

Laas het ek na Byron verwys. Vanoggend ontdek ek dié mooi reël in een van sy gedigte, "Hints from Horace":

Birds breed not vipers, tigers breed not lambs.

Dis in die aard van die Engelse en hul geskiedenis om te wil heers en oorheers, selfs nou waar hulle eiland tot 'n taamlik bankrot middelslagmoondheid verval het.

Iets wat ek graag sou wou aanpak, sou 'n studie wees in die trant van: "Die 200-jarige oorlog: Brittanje se veldtog teen die Afrikaner". Niemand het nog spesifiek op daardie probleem gefokus nie, omdat daar al honderd jaar lank 'n politiek van wit nasionalisme gevolg word - wat nou in die DA natuurlik 'n uiters vreemde en skynheilige gedaante aangeneem het. Maar ons moet vir eens prinsipieel begin dink en nie meer "opportunisties" (jou eie beswaar) nie. Die Engelse rol in dié land en vanuit die Verenigde Koninkryk (darem 'n mooi naam daardie, nie waar nie, die Verenigde Koninkryk) was vanuit 'n Afrikaneroogpunt nog altyd negatief, vernietigend. Hoe kan ons ons nog verbeel dat daar iets van 1910 en die Boer-Brit-versoeningsprojek oorgebly het?

In dié opsig is die Ou Suid-Afrika, die 1910-staat, finaal verby. Et tant mieux! soos die Franse sê, soveel te beter. Dit bevry ons van die dubbelslagtigheid, tweetaligheid en die kruis van 'n dubbeldooridentiteit.

Die meeste Afrikaners, veral diegene wat in Afrikaanse gebiede woon, weet nie eintlik veel van Engelse en veral van Engeland af nie. Selfs dié wat daar gaan werk, ervaar die Brit as kollega, as amptenaar en selfs vriend. Maar hy sien nie die Brit in sy historiese en politieke dimensie raak nie, die Machiavelliaanse dienaar van die ryk of die kind van Churchill wat tydens die Eerste Wêreldoorlog uitgeroep het:

“I think a curse should rest upon me – because I am so happy. I know this war is smashing and shattering the lives of thousands every moment and yet – I cannot help it – I enjoy every second.”

Net so is daar vandag Engelse wat elke sekonde van die Afrikaner se gestadigde ondergang geniet, want dit was so beplan. Die Foreign Office en die Britse ambassade het geweet as hulle ons in dié eenheidstaat in kan snoeker en - in weerwil van ons spartelende magteloosheid - nog boonop die welvaart van veertig miljoen swartes ons verantwoordelikheid kan maak, dan verdrink ons in ellende.

Soos die ekonoom Tony Twine verlede week met groot genoegdoening op Classic FM opgemerk het n.a.v. Pieter Mulder se aanstelling as adjunkminister: "I think he did it to kill off the Freedom Front altogether." Die blote feit dat daar nog 'n enkele party in die parlement bestaan met vier skamele lede wat namens iets soos "die Afrikaner" wil praat, is steeds ongewens. Eers wanneer daar geen politieke party oorbly wat hoegenaamd enige gedagte aan Afrikanervryheid of -soewereiniteit in sy geledere koester nie, sal die Engelse projek in Suid-Afrika, die 200-jarige oorlog, volbring wees. Dis 'n oorlog wat met 'n groot verskeidenheid wapens geveg is en steeds geveg word: met staal en bloed, sekerlik, maar ook met etniese suiwering, met woorde, koerante, boeke, films, propaganda, ekonomiese middele, en as dit moet: met terroristegeweld of die aanstigting daarvan.





Verwante artikels: