Die datum van hierdie konferensie maak dit opvallend. Dit is net mooi honderd jaar nadat die kragtigste en mees deurslaggewende pleidooi ooit vir Afrikaans gelewer is. Dit was op die Nasionale Konvensie, wat 'n Grondwet vir die nuwe Unie van Suid-Afrika moes opstel.
Die pleidooi van honderd jaar gelede is so belangwekkend dat dit die moeite werd is om dit weer onder die aandag van Praag-lesers te bring.
Eers iets oor die historiese konteks. Ná die Tweede Vryheidsoorlog het die Britse regering, Engelssprekende leiers en die Engelse pers Engels as die enigste amptelike taal van die land beskou, en was hulle ook van mening dat dit só moet bly.
Toe 'n vergadering van Vrystaters die Britse regering in 1904 vra om hul taal saam met Engels as offisiële taal te erken, het die Britse regering geantwoord dat Engels die enigste offisiële taal moes wees hoewel kennis van Hollands onder amptenare op plaaslike vlak aangemoedig moet word. Dis interessant dat die 1904-kongres deur die "hendsoppers" (wapenneerleggers) van die oorlog gereël is; hulle het egter die "bittereinders" ook genooi, en die twee groepe het ewe sterk vir die herstel van hul taalregte gepleit.
Die Engelse koerante het in dié tyd dikwels geskryf dat Engels die enigste amptelike taal moet wees: die nuwe magsverhoudinge noodsaak dit, is betoog. Bowendien was daar volgens party meningsvormers twyfel of Afrikaans sal kan voortbestaan -- en indien 'n taal gaan uitsterf, behoort dit nie "kunsmatig" deur wette aan die lewe gehou te word nie.
Engels is die taal van beskawing en geleerdheid, is gesê, die "superior" taal, en dié moet gekies word. Ten slotte is betoog dat ware eenheid amptelike eentaligheid noodsaak. Die Natal Mercury het op 20 Maart 1909 geskryf: "There can be no true union, the nation will never become one, which speaks with two voices".
In 1908 het die politieke leiers van die vier Britse kolonies - die Kaapkolonie, Transvaal, die Oranjerivier-kolonie oftewel die Vrystaat, en Natal - begin met die opstel van 'n Grondwet.
Die Vrystaatse leiers soos pres. M.T. Steyn en genl. J.B.M. Hertzog was net bereid om tot unifikasie van die Britse kolonies in te stem indien "Hollands" 'n offisiële taal sou word. So sterk het pres. Steyn oor die taal gevoel dat hy aanvanklik nie die eerste sitting van die Konvensie wou bywoon nie omdat hy bang was dat dié liggaam die taal sou misken. Hy was eers gewillig om te gaan ná 'n versekering van genl. Botha.
By die begin van die sittings van die Nasionale Konvensie is petisies uit verskeie dele van die land voorgelees waarin gevra is dat Hollands en Engels gelyke regte sou geniet. Daar was onder meer petisies van die Afrikaanse vroueverenigings.
Die eerste vergadering van die Nasionale Konvensie was op 12 Oktober 1908 in Durban. Die eerste belangrike vraag was of Suid Afrika 'n federasie of unie moes wees, en die konvensie het tot laasgenoemde besluit.
Onmiddellik ná die debat oor die staatsvorm is op 19 Oktober die taalkwessie bespreek. Genl. Hertzog het die debat ingelei met 'n voorstel wat in oorleg met pres. Steyn opgestel is: "Engels en Hollands sal erken word as die nasionale en amptelike tale, en op 'n gelyke voet behandel word en gelyke vryheid, regte en voorregte geniet in al die verskeie kantore en dienste van watter soort of aard ook aI, en elke aanstelling sal gemaak word met in agneming van die gelykheid van die twee tale. Elke burger sal die reg hê om hom van enige taal te bedien en enige taal as medium van kommunikasie te gebruik. In aIle publikasies van die owerheid sal in Engels en Hollands gebruik word."
President Steyn se toespraak
Hertzog het sy standpunt met erns en gevoel bepleit. Dit was egter veral pres. Steyn se toespraak wat indruk op die afgevaardigdes gemaak het. Al sy toesprake in die konvensie het hy in Hollands gelewer, maar hy het besluit om sy toespraak oor die taalvraagstuk in Engels te hou sodat daar by geen lid enige misverstand kon wees oor wat hy oor taalgelykheid wou verklaar nie.
Sy uitgeskrewe toespraak het behoue gebly, en sy biograaf, N.J. van der Merwe, het dit in Afrikaans vertaal. Die toespraak het op die afgevaardigdes 'n diepe indruk gemaak, en het verseker dat genl. Hertzog se voorstel aanvaar word. Die woord ras het destyds 'n ander betekenis gehad, en daar is dikwels van die Afrikaners en die Engelssprekendes as die twee blanke "rasse" gepraat.
President Steyn se toespraak het gelui:
"Ek is die Voorsienigheid dank verskuldig dat Hy my gespaar het om ook my weinige by te dra tot die groot werk om die Kolonies van Suid Afrika te verenig; om by te dra tot die verwerkliking van die geliefkoosde ideaal van meer as een deurlugtige voorganger.
"Maar, menere, ons kan die werk maar net so sowel ongedaan laat soos dit is tensy ons ook tegelykertyd probeer om die twee blanke rasse van Suid Afrika te verenig of te herenig. Sonder dit kan daar geen egte vereniging tot stand kom nie.
"Die taak is nie 'n onmoontlike nie. Kyk na die twee rasse. Hulle stam oorspronklik af van dieselfde voorgeslagte. In karakter is daar groot ooreenkoms. Daar is geen godsdienstige hindernisse in die weg nie, en tog het hulle vir 'n hele eeu saamgelewe en steeds geskei gebly. Daar moes iets verkeerd geloop het. Sonder om weer in die asse van die verlede te krap en sonder om iemand te beskuldig of te verontskuldig, wens ek slegs te sê dat met 'n blik op ons verlede is daar veel om oor jammer te wees, veel om te betreur. Ons sien hoe een fout op die ander begaan was, en een misverstand op die ander gevolg het. Eindelik het die klimaks gekom. Die oorlog met al sy ellende het ons almal ondervind. As die vrug van al hierdie smarte waaragtige versoening en vereniging gaan wees, sal ek die eerste wees om te sê dit was die opoffenng werd.
"Laat ons dan, meneer die Voorsitter, 'n les van die verlede leer. Laat ons hierdie kostelike geleentheid nie laat verbygaan sonder om die duiwel van rassehaat, wat vandag die vloek van ons maatskaplike en politieke lewe is, vir eenmaal en altyd uit die land te jaag nie.
"Ons kan dit doen, meneer die Voorsitter, as ons uit 'n versiende staatsmansoogpunt die situasie bekyk. Ons moet besluit om in die Konstitusie die twee rasse op absolute gelyke voet te plaas. As ons dit nie gaan doen nie, dan kan ons net so wel die res van die werk laat staan. Daar kan geen vereniging van state wees sonder 'n vereniging van harte nie. Daar kan geen vereniging wees nie sonder gelykheid. So lank één ras voel dat hy 'n onderdanige plek naas die ander moet inneem, so lank is daar die gevoel van onreg en hierdie gevoel sal altyd 'n skeidsmuur tussen die twee rasse vorm
"Ek het gesê die twee rasse kom in meeste dinge ooreen. Die taal vorm die grootste uitsondering. Hier moet daar absolute gelykstelling kom - in die Parlement, in die geregshowe. skole en publieke diens -- oral. Met ander woorde, Hollands moet saam met Engels die offsiële taal van Suid Afrika wees.
"Ons vra dit nie as 'n guns nie. maar as ons reg. Hollands het op een of ander tyd in die verlede die offisiële taal van al die Kolonies gewees. Dit is 'n Europese taal wat die oudste in Suid Afrika is. Dit word vandag gespreek deur verreweg die grootste gedeelte van die bevolking. Ons taal het sy offsiële karakter alleen deur geweld verloor. Voor geweld moes ons swig.
"Die Konstitusie wat ons nou gaan opstel, sal ons eie daad wees, en niemand kan verwag dat ons vansself ons taal en ons ras in 'n ondergeskikte posisie sal gaan plaas nie. As ons dit sou doen, sal die volk nimmer sy goedkeuring daaraan heg, en in plaas van vereniging sal ons Suid Afrika nog meer verdeel.
"Dit is die taal van die Voortrekkers. Waarlik hulle dade vir Suid Afrika en die beskawing verdien erkenning.
"Ek eis dit nie alleen as 'n reg nie: ek pleit daarvoor as 'n versiende staatsbeleid. As u my wenk aanneem, sal u met een pennestreep al die gesukkel oor die taal in u parlement vermy. U plaas die taalkwessie bokant en buite die politiek. U vermy dat in die toekoms die partyverdeing op rasselyne sal geskied. Want as die rasse eenmaal verseker is dat wie ook al aan bewind van sake kom. daar geen gevaar of skade die een of ander ras as sodanig kan bedreig nie, sal partye op 'n meer verstandige en nuttige basis as dié van rasseverdelinge gevorm word.
"As hierdie politiek van gelykstel1ing 'n eeu gelede gevolg was. dan het Suid Afrika vandag miskien net een taal gehad. Dit sou nie Hollands gewees het nie. Maar nou het die twee tale wortel geskied: ons kan nie een opsy sit nie. Altwee moet langs mekaar ontwikke1. Laat dit goed wees. of laat dit kwaad wees." (N.J, van der Merwe, Marthinus Theunis Steyn, 'n lewenskets, deel II (1921), 228-229).
Taalgelykheid gewaarborg
'n Kaapse politikus en oudredakteur van Ons Land, adv F.S.Malan, sê dat, terwyl pres. Steyn die toespraak gelewer het, die oë van meer as een afgevaardigde betraan was. Hy self moes die trane herhaaldelik afvee. Toe pres. Steyn gaan sit, was dit eers doodstil, en daarna is hy staande toegejuig.
Een van die Engelssprekende politici, dr. L. S. Jameson van die berugte Jameson-inval van 1895, het gesê hy erken dat hy en ander die saak in die verlede nie reg begryp het nie. en besef dat dit nodig was om 'n nuwe bladsy om te slaan.
Ná Jameson het nog 'n paar lede aan 'n kalme bespreking deelgeneem wat nie langer oor die beginsel van taalgelykheid gegaan het nie, maar slegs oor die bewoording van genl. Hertzog se voorstel. Ná enkele wysigings is dit op 20 Oktober 1908 aanvaar.
Die besluit het Hertzog laat neerskryf: "Groote overwinning" en daarby: "10.27 dezen morgen -- 20 Oct. 1908 -- besluit algemeen aangenomen verklarende beide de Hollandsche en Engelsche taal als officieele talen der Unie te woden behandeld op gelijke voet en te genieten gelijke vrijheid, rechten en voorrechten, ens."
Die taalbepaling is op 20 September 1909 vasgelê in die "South Africa Act/ An Act to constitute the Union of South Africa", 'n wet van die Britse Parlement. Artikel 137 lui dat "both the English and Dutch languages" offisiële tale is.
Waarom "Hollands"?
Om die benaming Dutch te vertaal was destyds nie so maklik as wat dit vandag lyk nie. Die woordkeuse sou van kardinale belang wees vir 'n taalstryd wat daar onder Afrikaners aan die gang was. Dit het gegaan oor die vraag wat die skryftaal, dus die kultuurtaal, van die Afrikaanstaliges moes wees: Afrikaans of Nederlands.
Sewentien prominente Afrikaners het op 5 Januarie 1909 in Kaapstad byeengekom 'n paar dae voordat een van die sittings van die Nasionale Konvensie in Kaapstad gehou is. Onder hulle was voorstanders van Afrikaans soos W.A. Hofmeyr, dr. D.F. Malan en J.H.H. de Waal, asook vegters vir Nederlands, proff. A. Moorrees en W.J. Viljoen, adv. F.S. Malan en dr. G.G. Cillié.
Die betekenis van die benaming Hollands is deeglik bespreek en die vergadering het ooreengekom dat Hollands die regte term vir artikel 137 is omdat dit sowel Afrikaans as Nederlands insluit. In die amptelike vertaling van die "Zuid-Afrika Wet" is Dutch dus met Hollands vertaal: "De engelse alsmede de hollandse talen zijn officiële talen van de Unie".
Hollands was in elk geval die wetlike benaming van die taal wat in Transvaal as "officiële taal" en in die Vrystaat as "hoofdtaal" gegeld het.
Hertzog het op die Kaapse vergadering voorgestel - en dis gesekondeer deur Viljoen -- dat 'n liggaam vir die bevordering van die "Hollandse taal en letterkunde" gestig word.
So 'n sentrale organisasie is op 2 Julie 1909 in Bloemfontein gestig. Dis De Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst. Die doel daarvan was die bevordering van die "Hollandse Taal en Letteren" en die Suid-Afrikaanse geskiedenis, oudheidkunde en kuns. In die statute is verklaar dat onder Hollands verstaan word "de beide taalvormen gebruikelik in Zuid-Afrika". Die Akademie het so gehelp om die twee taalpartye te versoen. Die taalkenners het die taalpolitieke vertaling van Dutch bevestig.
Maar daardie "amptelike" betekenis van Hollands was 'n kompromis. Voor en ná die tyd het mense met Hollands soms verwys na Nederlands (of Hooghollands), soms na Afrikaans, soms na albei. Tot in die 1940's het sommige partyleiers en koerante van Hollandssprekende en Engelssprekende Afrikaners gepraat.
Maar die meeste mense het Nederlands en Hollands as sinonieme beskou. Dit het twyfel laat ontstaan oor die status van Afrikaans. Om dié twyfel weg te neem, is 'n verklarende wetsontwerp in Mei 1925 aangeneem. Dit was Wet No. 8 van 1925, wat bepaal: "Het woord 'hollandse' in artikel honderd zeven en dertig van de Zuid-Afrika Wet, 1909, en elders in die Wet waar dat woord voorkomt, wordt hierbij verklaard het Afrikaans in te sluiten". Hierdie wet is beskou as van krag te gewees het van 31 Mei 1910.
Gevolge van artikel 137
Die taalartikel het binne enkele jare 'n belangrike gevolg vir skool- en universiteitseksamens gehad, en daardeur ook vir die voertaal van albei. Tot dan was Engels die enigste eksamentaal van die eerste eksamineringsliggaam vir skole en universitêre inrigtings. Dit was die University of the Cape of Good Hope (UCGH) wat eksamens waargeneem het vir die "university school higher" (later junior sertifikaat), matrikulasie, die "Intermediate B.A. Examination" ('n diploma gelykstaande aan 'n eerstejaar-Baccalaureusstudie) en gevorderde universiteitseksamens.
Die besluit van die Nasionale Konvensie om Hollands te erken, het daartoe gelei dat die UCGH-raad besluit het om van 1911 af ook Hollands vir die juniorsertifikaateksamen toe te laat. Van 1912 af is die reël uitgebrei na die seniorsertifikaat- en matrikulasie-eksamen. Die UCGH het die universiteitskolleges in 1916 verlof gegee "to allow candidates to use Dutch as their medium in answering questions in the B.A. Pass and Honours Examinations in and after 1916 in all subjects except English".
Hierdie aanpassings het die taalbeleid van universiteite en skole die hele twintigste eeu beïnvloed. Toe die Universiteit van Suid-Afrika in 1918 die UCGH opvolg, is Hollands, later Afrikaans, as eksamentaal erken. Die eindeksamen sou nie meer 'n rede vir skole bly om NET Engels as onderrigmedium te gebruik nie.
Ook die voertaal op skool is in ooreenstemming met artikel 137 gebring - in Transvaal is in 1911 en die Vrystaat en Kaapland. Die sogenaamde moedertaalordonnansies het bepaal dat die huistaal van die leerling tot en met standerd 4 die verpligte voertaal sou wees, hoewel die ander ampstaal as voertaal ingevoer kon word waar die ouers dit verlang.
Groot en belangrike toesprake is ná 1908 oor Afrikaans gehou - onder andere deur C.J. Langenhoven. Dis op sy inisiatief dat Kaapland, die Vrystaat en Transvaal in 1914 die moedertaalordonnansies so gewysig het dat Afrikaans in plaas van Nederlands as medium van onderwys gebruik mag word tot en met standerd 4.
Maar dit alles was slegs moontlik omdat in 1908 besluit is om "Hollands" as amptelike taal te aanvaar. En vir hierdie besluit het pres. Steyn die deurslaggewende argumente aangevoer.
Die wiel het heeltemal gedraai. 'n Eeu gelede het Afrikaans aan die begin van sy ontwikkeling tot staatstaal gestaan. Vandag beleef ons die einde daarvan in hierdie hoedanigheid, en moet sy sprekers veg om ruimte vir Afrikaans te skep of te behou op terreine soos die onderwys en die elektroniese media.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





