| Die R3,90-plan - en hoekom dit miljoene gekos het |
|
|
|
| Geskryf deur Gustav Venter | |||||
| Dinsdag, 13 Mei 2008 02:09 | |||||
JPAGE_CURRENT_OF_TOTAL
"By die inboorlinge van die intellektuele oerwoud en vlakte wat vir 'n regering in ons land deurgaan, is daar min gedaantes wat meer ontsag afdwing. Vandag se Afrikaan in landsregering het vir die liberale akademikus, veral die ekonoom, dieselfde wanhopige en bygelowige respek as wat sy voorsate eeue gelede gehad het vir die bwana met sy khaki-helm, rybroek, lang stewels en 'n stok wat vuur spoeg." Lees Gustav Venter se eerste aflewering, waarna Harvardmanne en die ekonomiese raad wat hulle gee nooit weer dieselfde sal wees nie. Deel IEn vir ons president: 'n bottel met 'n blou etiket, 'n pyp en 'n HarvardmanHulle móés van Harvard kom, jy sien, Harvard en nêrens anders nie, en die bendeleier kon nie net nóg 'n ekonoom, nóg 'n akademikus, maar net nóg 'n syferkrakende statistikus wees nie. Hy moes, hy moes eenvoudig 'n Harvardman wees. As jy iemand 'n bloedige som geld betaal vir 'n jarelange studie waaruit: -A- Jy 'n hoop dinge leer wat jy reeds weet; -B- 'n Paar dinge uitvind wat jy nie wou weet nie en -C- niks te wete kom wat jy móés nie, dan beter hy van Harvard kom. Yale is goed maar nie goed genoeg nie en Oxford, wie steur hulle deesdae aan wat uit Oxford kom? Daarom, toe dit tyd geword het, het die pyprokende, Shakespeare-prewelende president hom na die akademiese grofgeskut gewend. Hy het die Harvardman laat kom. Die president het 'n oud-kameraad wie se gedienstige politieke onttrekking met 'n paar miljard rand gekoop is. Die ander dag koop hy vir hom 'n Maybach-limousine, 'n soort van 'n peperduur über-Mercedes Benz. Hy doen dit volgens die stelreël dat as jy dit kan bekostig, is daar geen rede om 'n ander motor as 'n Maybach te koop nie. Dit hét nie styl nie. Dit ís styl. Net so, as jy die president van die vier-en-twintigste grootste ekonomie in die wêreld is, en jy soek 'n groep internasionale deskundiges om die regering te adviseer, is daar geen rede om iemand anders as 'n Harvardman te kry nie. Hy hét nie styl nie. Hy ís styl. Sy elke beweging, sy presiese denke, sy algehele uitsprake, dit is alles so, so Harvard. Kyk net na hom: Die Harvardman dra 'n wit hemp en polkakolletjiestrikdas saam met 'n tweed-baadjie met leerwerk oor die elmboë, langbroeke met hondetandweef en skoene wat nooit bloot as skoene bekend staan nie. Hulle is altyd “brogues” of “loafers” of iets ewe uitlands. Die Harvardman ry niks so selfbewus ernstigs soos 'n BMW-sedan of 'n Cadillac nie. Hy ry 'n sestigs-SL-klas Benz of 'n pre-’67-Alfa Romeo Spyder – afslaankap natuurlik – en as hy tussen die boomryke kronkellane van die kampus deurswiep, wapper 'n wolserp om sy nek. Terwyl hy ry en oplossings vir die wêreld bedink, trommel sy vingers op die diepverniste houtstuurwiel terwyl hy na 'n Bach-klawesimbelkonsert luister. Maar in die aande, in sy woonkamer, wanneer die ernstige slaphaar-, kweperlatlyfiedames en ander intense studente na sy dicta profunda – effe geskakeer met 'n poleerlagie ironie – luister, sit hy plat op die diep mat, een been effe onder hom ingekrul en die ander een reguit langs die sofa af, sy elmboog op die sitplek, sy kop in sy handpalm gestut terwyl hy sy Cognac – nooit brandewyn nie! – in 'n knoetsige kristalglas stadig teenkloksgewys roteer. Dan speel die Bang en Olufsen-hoëtroustel die twaalftonale musiek van Arnold Schönberg. En al klink dit vir jou soos 'n meubeltrok met 'n vrag klaviere wat teen 'n berg afrol, sal jy dit nie sê nie. Want jy is by die Harvardman. Kan ons hierdie gestalte op vandag se Harvardman afdruk? Is vandag se weergawe nog steeds 'n tweed-en-brogues-tipe wat 'n Pagodadak-Benz ry en belangrike uitsprake met 'n Cognac-asem op die begeleiding van Schönberg maak? Ja, nee, miskien, dít is nie wat belangrik is nie. Dit is die status wat Harvard in vandag se wêreld het, wat belangrik is. Die heersende Westerse staatsfilosofie is grotendeels 'n maaksel van Harvard. As sosiale liberalisme 'n godsdiens is, is politieke liberalisme die liturgie daarvan en die Harvardakademici die hoëpriesters. Geen ander opvoedkundige stelsel het soveel bygedra om die vryemarkstelsel te balanseer met onbesonne, selfdienende filantropie nie. Levi-jeans en MacDonald-burgers is toe na alles nie Amerika se invloedrykste kulturele uitvoerprodukte nie. |
|||||
| Laas Opdateer op Dinsdag, 13 Mei 2008 02:31 |
| Verwante artikels: |
|---|
|





