praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Tuesday, 22. May 2012

Bygewerk op:07:38:23 AM GMT

Jy is hier: Feuilleton Kortverhale My oupa het dit vir my gegee

My oupa het dit vir my gegee

E-pos Afdruk PDF
My Oupa is op sekere maniere my lewe, en hy het my dalk nie met geskenke oorlaai soos ander Oupas met hulle kleinkinders doen nie. Tog het my Oupa vir my iets beter en baie meer belangrik gegee.

My Oupa het geveg vir die land waarin ons bly. Op die grens het hy sy familie as jong man agtergelaat en baklei vir vryheid en geregtigheid in ons land. Hy was ʼn man wat my geleer het hoe om braaf te wees.

My Oupa het geveg vir die taal van Afrikaans en was by toe die Taalmonument opgerig is. Hy het my geleer om trots te wees op my taal. Om my taal te laat groei en hom te praat, al word hy ook in die grond in getrap en verdruk. Hy het my geleer om dit nie net te sien as ʼn middel van kommunikasie nie, maar as ʼn erfenis en geskiedenis van my mense. Hy het my geleer dat jy moet opstaan vir dit waarin jy glo en om aan te hou veg, selfs al lyk dit of daar gee geloof, hoop of moed oor is nie. Hy het nog altyd geglo dat sy land, taal en mense die grootste geskenk in die wêreld is. En hy het daardie geskenk aan my gegee. In sy oë, die grootste geskenk wat hy ooit vir my kon gee. Hy het my ʼn herkoms gegee en my hierdeur laat verstaan dat dit beter as geskenke is. Dis nie iets aards nie, en juis daarom kan ek dit wat hy my gegee het op ʼn daaglikse basis saam met my dra.

My Oupa het ook seker gemaak dat ek geloof het in die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Hy het my geleer om kinderlik te glo. Hy het my die geskenk van geloof gegee, wat nog iets is wat niemand ooit van my kan wegneem nie. Hy het my die geskenk gegee om te glo in God, maar ook om te glo in myself.

Hy het my die geskenk gegee deur my te leer dat ʼn mens nie gemeet word aan hoeveel keer jy val nie, maar hoeveel keer jy opstaan. Hy het gesê dat al is dit ook hoe donker, en al reën dit ook hoe hard, sal die son weer skyn.

En ek is dankbaar. Dankbaar vir die feit dat my Oupa aan my geskenke gegee het wat niemand van my kan wegneem nie. Hy het my die een ding gegee wat altyd blywend sal wees. Hy het geloof, hoop, liefde, trots, geskiedenis, herkoms en kennis aan my gegee. Dankie Oupa, ek kon nie vir ʼn beter geskenk gevra het nie...


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: