Ek lees dat daar ver noord in Egipte die mense weer kwaad is vir die Farao en nou loop hulle en swaai hulle plakkate en dinge. Die Egiptenare lyk my is maar mense wat alles in oormaat doen en dalk sal daar 'n Moses kom om weer so bietjie orde te kry. Die mense het nou die kar gevang en weet nie lekker wat om daarmee te maak nie.
Maar ma, ons het 'n probleem met die oues van dae, Matewis en Otto. Ma sal hulle nog onthou van ma se laaste kuier. Ons twee wors honde. Altwee is RSG se "Iets vir iets" honde. Matewis het ons in Johannesburg gekoop nadat hy op "Iets vir Iets" adverteer is en Ollie hier innie Kaap ok nadat hulle hom op "Iets vir Iets" adverteer het. Dit was ou jare terug ma.
Matewis is eintlik 'n vrouhond. Haar naam kom van daardie ou toneelstuk "Matewis en Meraai" waar Meraai vir Matewis sê "Praat nou" en dan skrik Matewis hom boeglam want hy ken nie van praat nie en Meraai bedoel eigenlik sy wil vry. Toe Lenie Matewis so in die oë gekyk het, het sy gesê – haar naam is Matewis al is dit 'n vrouhond.
Otto kry sy naam nou weer van hoeka se ou springbok rugby speler Ollie le Roux want toe ons hom sien was hy so sterk en fris hondjie en Japie het gesê sy naam is Ollie. Ollie le Roux het ok mos vir die Vrystaat gespeel as ma sal onthou. Altwee is nou al in mense jare baie oud. Die slimmense sê mos een mense jaar = aan 7 honde jare. Soms voel ek ook so asof ek in een jaar sewe jaar ouer word. Matewis is dan 14x7 = 98 en Ollie 84. Matewis en Ollie is oud ma.
Eers het Matewis se oge so grys geworre en toe sien ons hy loop in alles vas en dat Ollie hom so stamp, stamp en in 'n koers in druk. Dis erg ma om nie te kan sien nie, want Matewis weet nie wanneer is oggend en môre nie. Toe kom ons agter dat hy ons gefluit nie meer kan hoor nie, stadig maar seker het hy toe doof geword. As ons hulle roep, dan gaan Ollie eers na Matewis se koers en druk hom met sy neus in ons koers. Hy kan darem nog so bietjie ruik en die ou tande is net sulke kort stokkies solat ons hom nou maar pap kos voer.
Maar ma, sy stertjie waai en as jy hom bad of vryf dan kreun hy van die lekkerte en dis net waar ons besluit het dat al is Matewis doof en blind, ons hom gat oppas solank Ollie ons help met die navigasie tussen die huis en hulle hok. Ma, Matewis is grys van kop tot tone, so silwer grys maar die stertjie waai en smiddae as ek hulle se koekies en BoB Martin pille gee, dan is hy so opgewonde want ek weet hy kan ons nog so in sy gedagtes sien. Ollie is ook oud ma, so om die kiewe raak hy ok al grys en deesdae is die ogies ook meer grys as blink.
Ons het toe huisvergadering gehou. Wat moet ons doen met die twee oues van dae? Hulle is so deel van ons, die twee "Iets vir Iets" honde – hoe nou? Die antwoord, solank die veearts sê dat daar nie pyn is nie, bly hulle ons twee oues van dae. Maar, wanneer Ollie nie meer hand kan bysit met die nuisdrukkery en stampery van Matewis as hy so tussen die blomme verdwaal nie, dan sal ons 'n groot besluit moet neem.
Ma, dit gaan goed met die twee oues van dae en ons hoop dat hulle nog so 7 honde jare vir ons gespaar sal bly, want hoe maak mens sulke waaiende stertjies stil ?
(Ware verhaal van ons twee word honde)
Groetnis ma : Bart
Liewe ma – van Bart is ook in boekvorm beskikbaar. Besoek www.woes.co.za > boekwinkel
| < Vorige | Volgende > |
|---|





