praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Friday, 10. February 2012

Bygewerk op:05:30:08 AM GMT

Jy is hier: Feuilleton Kortverhale Hoedversierings innie die Namakwaland in

Hoedversierings innie die Namakwaland in

E-pos Afdruk PDF
Ouma-goed het van Mosselbaai se wêreld gekom. 'n Somer sonder die see sou tot haar dood ondenkbaar wees.

As jong afgestudeerde is haar eerste musiekpos egter op Nieuwoudtville, waar sy kort voor lank met die bankbestuurder, oupa Harry, afhaak. Oupa Harry het nie maklik aan sy geleerdheid – bankpapiere – gekom nie, en moes hom opwerk. Kort-kort is hy onder sy meisie uit verplaas. Pa-Jan sê hy het 'n raam gehad vir die meisie se portret. Trek hy, gaan die raam saam, en op die nuwe dorp kry hy 'n nuwe meisie wie se portret in die raam in kom.

So was hy nie meer heeltemal vandag se kind nie toe hy met 'n bloedjong ouma Lita afhaak. Vier kinders was gou op die toneel, maar die jongste is ongelukkig kleintyd oorlede.

Nou soos ek aan Pa-Jan verstaan het, self lankal saliger, was daar wat die see betref drie soorte Namakwalanders. Die soort wat vakansies see toe trek na plekke soos Hondeklipbaai aan die Weskus toe, ander wat nie juis erg aan die groot dam gehad het nie, en die wat na die warmer water by Mosselbaai uitgewyk het.

Maar die wegblyers was mense van hul eie. Soos oom Maans Louw wie se bure so aangedring het hy moet een kersvakansie ook saamkom see toe. Een jaar kry hulle hom omgeloop, en toe die ander nog so besig is om kamp aan die Weskus op te slaan, toe is oom Maans en sy vrou-goed, ta Mieta, en die kroos ook daar.

Ywerig help die gesoute kampenaars vir oom Maans-goed tent opslaan en die kampplek regkry.

Maar so deur die loop van die dag siet oom Maans maar hier kom mos nou moeilikheid. Die see is besig om vol te loop, en die branders spoel al nader en nader na sy kampplek toe.

Toe hy sien die bure merk nie die naderende gevaar op nie, gaan maak hy alarm. Hy het juis gehoor dit het so kwaai in Basotholand gereent en die Oranje kom so sterk af, Kanoneiland neuk al om te versuie. Die bure glimlag, en beduie van getye. Getuies is hofgedoentes en oom Maans bly lugtig.

Die aand gaan slaap almal na 'n heerlike fees van kabeljou. Die volgende dag is die Louws skoonveld – tente, kampbedjies, die hele lot. Net die spore oor die duine binneland in verklap daar is koers huis toe gevat.

Later verneem die ander, kon die Louws glo nie rus kry met die see wat so raas nie, en het toe verkas. Sommiges het bly meen oom Maans het die see wat so volloop nie gevertrou nie.

Die benoudheid moes regtig groot gewees het, want om terug by Nieuwoudtville te gekom het, moes Van Rynspas uit. En oom Maans had 'n Model T-Fordjie, en dié neuk met die opdraandes uitry uit. Die soort karretjies moes die pas agteruit uit "reverse" sodat die petrol met swaartekrag in die enjin kom inloop. En daai se tyd was die pas nog half soos sy agterent, en oom Maans moes goed benoud gewees het om daai pas so in die donkerte uit agteruit te ge- "reverse" het.

Maar oupa-goed het seevakansies, soos 'n klompie ander mense, teenoorgestelde kant toe gery om by die see te kom. Almal is nou al afgesterf wat betrokke was, maar smaak my daar is so Calvinia, Matjiesfontein om Mosselbaai toe gery. Land-in.

Of Oupa Harry se kar nou 'n Model T-Ford was, weet ek nou nie. Wat ek wel weet is dat die kar nie juis 'n bak gehad het nie. Die bagasie is met strêppe op 'n "carrier" op die kar se skuins agterkant vasgemaak.

Ook weet ek hoede was daai tyd hoog in die mode. Tot haar dood het Ouma nog sulke ronde kyste gehad. Vir die hoede.

Elke kys kon 'n hele lot hoede vat, en as die "carrier" klaar gelaai is, pryk daar 'n hele lot ronde kyste agterop. Vir elke dag omtrent 'n hoed, en vir party dae 'n spaarhoed of twee.

En so word die pad binneland toe aangepak. Oupa Harry en ouma Lita voor, en pa-Jan, sy kleinboet Rons en ous SC agterin, saam met nog 'n klomp bagasie want tot haar dood het ouma Lita enige moontlike spasie gebruik as verskoning om nog bagasie in te pak.

Om binneland in te ry het egter 'n lastigheid. Hekke. En nie sommer enige hekke nie, maar smoelslanerhekke. Oupa Harry bestuur, en hy kan nie die hekke oopmaak nie. Ouma sou nie droom om hekke oop te maak nie, en sy het eers jare na sy weduwee geword het, en die sestig al geslaan het, 'n liksens loop kry. Die kinders is nog klein en het te min murg in die pyp om smoelslanerhekke sonder die gevaar van ernstige ongevalle oop te maak.

Maar so is daar darem geleentheid vir vakansiewerkies vir die bruin kinders, wat gelukkig nog nie deur 'n verbod op kinderarbeid verfongfaai is nie. So ry so 'n bruin mannetjie buite op die spatbord saam 'n ent die binneland in, en hoop dan om weer so 'n geleentheid terug te kry. In ruil vir die geneuk met die smoelslaners kry hulle 'n ietsie.

Pa-Jan sê hulle was al dóér, toe oupa in die truspieël sien een van die ronde kyste moes oopgegaan het, want daar is besig om hoede te makeer. Oupa Harry slaan ankers aan, en hy en die kleingoed peul uit om die skade te gaan betrag.

Ja-nee, die een kys het oopgekom en al amper al die hoede makeer. Pa-Jan sê hy het nog so met die terugkykslag gesien hoe die naaste hoed soos 'n tolbos die bossieveld in hol tot dit teen 'n bossie gaan vassit het. Maar nie voor dit ordentlik ver van die pad af gerol het nie.

Oupa en die kleingoed reken daar is nog genoeg hoedens oor vir die vakansie, maar ouma Lita skop vas. Terug sal daar geterug word om die hoede te gaan bymekaar maak.

"Daai hoedens sal een een de lot getsjarra word," het sy beslis in haar aangeleerde Namakwalands gesê

Die bruin seun op die spatbord skop egter vas. Hy mag dalk nie 'n vakbond hê nie, maar hierdie wending, weet hy, is duidelik nie in sy werksbeskrywing ingeskryf nie. Hy staak. En hy bly ook sommer net daar.

Daar is toe g'n ander genade nie. Hulle ry terug, en pa-Jan en boet Ronsie moet saamspan om die smoelslaners oop te kry. Tot sy dood toe had pa-Jan 'n heilige respekte vir smoelslaners. Hy kon in sy Namakwalands in die fynste besonderhede uitlê hoe so 'n smoelslaner kan maak. Jy span al jou krag in om daai stok uit die lussie te kry. En wanneer dit gebeur moet jy klaar 'n hand los hê om die stok stewig te vat, anders hoor jy net WOER! soos daai stok gatskoonmaak om die paal om en WAP! soos dit jou teen die kop tref. En as jy uit die stof en gruis opstaan, moet jy weer die stok vasgetrek en deur die lussie kry, met die wete jy kom netnou weer hierlangs na die laaste hoed ingehol en gevang geraak het.

Pa kon nooit met sekerte sê hoeveel myl hulle teruggery het, en hoeveel hekke hulle mee moes spook nie, maar smaak my dit was baie.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: