Deesdae kan aangehoudenes ook stem. Maar stem is nie al wat dié manne kan doen nie.
‘n Koshuismaat het regte geswot, en vakansies tuis by Worcester gehelp aankla. Een van sy bekendste “kliënte” was Jafel. Dié het so gereeld in die beskuldigdebank gepryk, hulle kon daai konstruksie al “Jafel se tafel” noem.
Hoe Jafel aan sy naam gekom het, is ‘n storie op sy eie. Soos die oorlewering loop, had Jafel ‘n Slamse oupa, Jaffer. Dié naam, het Jafel geërf.
Maar hier in Worcester in val Jaffer half vreemd op die witmense se oor, en ‘n paar van die manne het, na hulle gesien het hoe vernuftig Jafel ‘n bottel kan kis maak, hom Jafel begin noem.
Daai storie eindig toe ook nie daar nie. Agter die witmanne aan, het van die bruin mense hom toe ook so begin noem, maar dit as Dzafel uitgespreek. Dié naam het weer na die witmanne toe teruggewerk, en naderhand het almal Jafel as Dzafel uitgespreek.
Op ‘n mooi dag word Jafel weer in die hof ingebring. Dié stap twee rye spore, en kan nie aangekla word nie. Die tweede beskuldigde word ingebring, maar hy het duidelik ‘n soen van die dame met die lang nek weg. Ook die derde is erg gekoring, terwyl die vierde duidelik ‘n dinee van Bachus bygewoon het. Uiteindelik moet al die sake van die manne wat in die selle was oorstaan. Op ‘n manier het van Worcester se spogprodukte in die selle beland.
Die volgende dag is dit of die aanklaers dubbel sien, want dis presies dieselfde storie.
Derde dag was egter skeepsreg. ‘n Sersant word betrap waar hy koeldrankstrooitjies aan die manne in die selle verkoop. Met dié strooitjies gewapen, kan hulle deur die venstertralies tot in die geut buite bykom, en dié is soos Sasol se spreekwoordelike pype vol brandewyn. Nie heeltemal brandewyn nie, maar daai erg gegiste doppe wat oorbly as die skoon wyn afgetap is. Dié goed is sterk – die drinkers daarvan se trots. Soos een vir Herrie se oom Rons gesê het, hy drink petrol ook, maar dan moet dit BP wees.
Hoewel die sersant tien uit tien vir entrepreneurskap moes kry, het hy ook ‘n voltal met dwarsboming van die gereg losgeslaan.
Nooit in die annale van Worcester se hofgeskiedenis is daarna soveel manne met babelas aangekla nie. Dié keer sou ‘n grandpa-verkoper goed geld gemaak het.
Die lawaaiwater en Jafel se verbintenis daartoe lewer menige staaltjies op.
Jafel was naamlik ‘n kampioen-vingerbokser. Die gevolg was dat die bendemanne lugtig was vir die man se vingerboks-vermoë, maar hy tog gereeld iewers heel kis gelê het.
Om Jafel met die vingerboks in aksie te sien is iets besonders. Sy handspoed is verstommend, en sy reflekse, selfs wanneer hy gekoring was, uit die boonste rakke. Dis die aardigste as hy sy vernuf demonstreer, en sy vingerpunte kon ‘n millimeter van jou oë af tot stilstand. En het my kamermaat my verseker, die hofordonanse het hom verseker as Jafel jou speels met die vingers in die ribbes pomp, is jy vas oortuig jy het ‘n borskasoorplanting nodig. Nie ‘n enkele heel rib nie, glo jy vas. Die geneigdheid was dus om half wyd van Jafel te bly as hy die slag kapabel was.
Dit was chaos toe Jafel nog rugby gespeel het. Voor rustyd het die opponente al hulle reserwes opgebruik. En Jafel is ook g’n so baie gegeelkaart en gerooikaart soos mens sou verwag nie – Jafel se handspoed het daarvoor gesorg. Na oorleg tussen die klubs is besluit om Jafel van flank na vleuel te skuif, maar dit het ook gelol want Delicious het geweet om die bal net na Jafel te skuif om ‘n drie te kry. Niemand het gewaag om binne Jafel se verwoestende vingers se trefafstand te kom nie.
Maar een ding was sy baas...die lawaaiwater.
Eendag tref die eerwaarde hom toe ook aan waar hy in ‘n droë watervoor lê.
Die domineesgoed gee hom so ‘n paar stywe sole in die ribbes, en toe Jafel sy ooghe oopkry, en min of meer gefoukus kry op die kwaai bakkies wat op hom neerkyk, vra domineesgoed:
“En toe Jafel, as die Here jou nou moet kom vat?”
Jafel se instinkte is sterk, en met sy vingers wat so pons – pons die lug in, sê hy dreigend: “Dis darem ook nie sommer net vir kô vat nie.”
Nie dat Jafel onverskillig oor die godsdiens gestaan het nie. By geleentheid pik-pik hy weer straat af, met sy kompas wat heel duidelik ‘n elektriese storm beleef.
Dis net toe lat die pastoor met sy bakkie verbykom. Agterop had hy ‘n paar jong gemeentelede wat goed geesgevang het.
“Ons gaan hemel toe, ons gaan hemel toe!” sing die spannetjie so ver soos die bakkie gaan.
Jafel steek vas, oorweeg die storie ‘n oomblik, en toe brul hy agter die bakkie aan: “Vat my sjaam!”
Dié aand, op pad huis toe, is hy met twee rye spore kortpad huis toe, maar onderweg oorval die vreeslikste ramp hom. Of liewer, nie oorval nie, inval, want hy stort in ‘n leë graf in.
Heeltemal te gepleister om uitgekruip te kom.
‘n Ruk later kom Kerneels verby, wat self goed gekuier het.
“Help my, ek kry koud,” kerm Jafel uit die graf. Kerneels strompel tot gevaarlik na-aan die graf se rand en loer in: “Nou vi wat het djy djou dan ook oopgeskop?” en met dié strompel hy min gespin verder.
Dis al goed donker, en Jafel het in ‘n hoekie gaan sit so opgetrek in ‘n bondeltjie, om so warm as moontlik te bly.
Met dié kom Eric verby, ook goed gekletter, en val by Jafel in die graf in. Hy weet niks van die geselskap daar in die hoek nie, en steier regop om te begin kyk na maniere om uit die penarie en die graf uit te kom.
“Het djy dalk da’ vi’ my ‘n mêtsjie?” verneem Jafel uit sy hoek uit.
Maar sy woorde is skaars uit, toe is Eric sonder vat los by die graf uit, en reeds op vol spoed toe hy buite grondvat.
Toe hulle die oggend Jafel stokstyf uit die graf haal, toe wys sy vingers nog dreigend die lug in. Hy is nie sonder ‘n stênd gekomhaal nie.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





