praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Sunday, 05. February 2012

Bygewerk op:05:27:19 AM GMT

Jy is hier: Feuilleton Kortverhale Mev. Dokter

Mev. Dokter

E-pos Afdruk PDF
Oom Cheese het, soos ‘n mens sou verwag, eers by ‘n kaasfabriek gewerk. ‘n Fabriek in die Oos-Vrystaat wat lank nie meer bestaan nie, in ‘n dorpie waar die stasie nog net ‘n herinnering is aan die dae toe daar nog gereeld treine geloop...en in die dorpie aangedoen het.
Toe ek jare later een aand in die dorpie oorgeslaap het, het die hotel nog bestaan. Danksy die Oog waar die manne wat die mure staande gehou het, die hotelgaste tot in die vroeë oggendure uit die slaap gehou het.

Oom Cheese se vrou, tannie Stoney, het so ver ons weet nooit by ‘n steengroef gewerk nie. Nog minder had sy in haar jeug ‘n onbesonnenheid aangevang waarvoor sy ‘n tyd lank moes gaan klippe kap. Haar nooiensvan was, volgens oorlewering, Steenkamp.

Maar of tannie Stoney nog kan onthou, is amper moeilik om te dink. Van mens maar onthou was sy met oom Cheese getroud, en sedert oom Cheese jare gelede van die aardse smarte bevry is, stap tannie Stoney nou aan om die eeu vol te maak.

Na die kaasfabriek gesluit het, het oom Cheese en tannie Stoney na ‘n groter buurdorp getrek, en oom Cheese het as makelaar gewerk om hom uit die kwaad te hou. Gepas Oos-Vrystaats was hul ruim huis vol Claerhouts en Amenbergers – ‘n kleurvolle vrolikheid.

Dis by oom Cheese en tannie Stoney wat ek van hierdie latere dorp se eertydse kleurryke karakter gehoor het. Ja, by hul beide, want so lank was hulle getroud dat hulle so ‘n storie in aflosse vertel het, elkeen het mooi geweet watter deel van watter storie het die beste by elkeen se vertelstyl gepas, ‘n kuns wat ‘n mens meer kere kry as mens mooi oplet. Nou nie daai soort waar die een die storie probeer vertel, en die ander een hom – ja hom – beterweterig probeer reghelp nie.

Omdat die uwe ‘n paar minder aangename ervarings met distriksgeneeshere gehad het, het hul storie vermoedelik gevolg op iets wat ek so in die geselskap moes genoem het.

Ja, hul dorp het ook ‘n baie kleurvolle distriksgeneesheer gehad. By geleentheid voel die tuinman olik, vertel hulle, en hulle stuur hom dokter toe.

Nie lank nie, is die tuinman terug, grootoog.

“Daai baas dogter het my sommer deur die baadjie se mou ge-inject,” rapporteer hy terug. Oom Cheese en tannie Stoney was nie verbaas nie.

By geleentheid ry hulle met kliënte om na ‘n plaas te gaan kyk. Maar oom Cheese is nie heeltemal seker waar die plaas is nie, en bedink nog waar om te gaan pad verneem, toe is die “dogter” in ‘n stofwolk by hulle verby. Net ‘n entjie verder, onder ‘n boom langs die pad, is ‘n “kliniek” en daar sal hulle stellig met die beduieslag geholpe raak.

Nog half in die stofwolk hou hulle by die “kliniek” stil, en is verstom oor die toneel wat voor hulle afspeel. Daar staan ‘n ry ma’s met hul kleingoed snotneus op die arm. Die dokter draf die ry af en so vinnig soos hy beweeg spuit hy. So vinnig, teen die tyd dat ‘n kleintjie agterkom hy is genaald en ‘n snotpsalm insit, is daar al ‘n rits na hom ingespuit. Of die naald sommer deur die doek is, en of daar ooit doeke was, het ek nou volgens my herinneringe nie verneem nie.

Agter die dokter kom sy “apteker” aan, ‘n swart man wat hy in diens geneem het om pille uit te deel. Agter in die dokter se kattebak was ‘n klomp houers met pille. Hieruit gryp die “apteker” hande vol en deel uit.

Nou bygesê, ek het ook nie verneem dat die dokter ooit ‘n pasiënt verloor het nie. Behalwe miskien ‘n paar wie se moed hulle begeef en die hasepad gekies het voor hulle ge-inject geraak kon word.

En op ‘n dag, daar is die dokter se vrou van baie jare, dood. Maar die grond anderkant die sipresse het nog molshoop gestaan, toe haak die dokter met die jarelange klinieksuster af.

En op slag is sy nie meer “suster” nie, maar mev. Dokter.

Maar haar geluk was nie vir lank bestem nie, toe lê die ou dok ook sy kop vir oulaas neer.

“Van toe af was sy mev. wyle Dokter,” sluit tannie Stoney haar en oom Cheese se storie af.

Soos gemeld, my eie ervarings van distriksgeneeshere was omtrent dieselfde as my ervaring van weermagdokters toe ek nog diensplig gedoen het. En die meeste van ons wat nog voete gestamp het, sal weet dis rof. In die dae voor daar dienspligdokters was. En soos die geluk dit wou hê, die laaste keer in die weermag wat ek gewaag het om siek te word, was die weermagdokter nog boonop ook die distriksgeneesheer. ‘n Dubbele verskrikking dus. En burgemeester ook, maar darem in die dae voor burgemeesters as ‘n reël ook ‘n slegte smaak in ‘n man se mond gelaat het.

Maar nou moet ek dadelik byvoeg, ek het goeie distriksgeneeshere geken, al was hulle nie my dokter nie.

So een was ‘n skoolvriend se pa, dokter Bester. Toe dié pa, soos hulle destyds gesê het, Medisyne gestudeer het, was hulle drie Besters in die klas. Om hulle van mekaar te onderskei, het hulle elkeen ‘n bynaam gehad. Hierdie een se bynaam was “die Goeie Bester". 

Heel per toeval het ek nog een van die Besters ontmoet, en so van die byname gehoor.

By geleentheid vertel die Goeie Bester van sy dae toe hy nog by Wellington distriksgeneesheer was. Een nag laat, of oggend vroeg, klop die polisie hom op. By hulle het hulle ‘n man wat effe na drank ruik. Die polisie meen hy het dalk dronkbestuur, maar hulle is nie seker nie.

Hulle, die twee polisiemanne, het die nag tussen die plase patrollie gery, en toe stilgehou om bietjie Boeretroos uit ‘n warm fles te drink. En terwyl hulle so blaas-blaas oor die bekers aan die koffietjie sluk, sien hulle hoe iemand heen en weer oor ‘n smal plaasbruggie ry. Met die derde oorryslag is die man toe in die reling vas.

Die Goeie Bester trek toe die bloed, verseël dit en stuur op die trein Kaap toe om getoets te word.

Die volgende dag bel die eienaar van die boedmonster. Is daar dalk al ‘n uitslag?

Nee, sê die Goeie Bester, maar hy verwag nou enige oomblik die oproep. En, sê hy, hy het net die gehoorstuk neergesit, toe lui die telefoon weer.

Dié keer is dit toe die vampiere van die Kaap.

“Daai man wie se bloed jy gisteraand gestuur het. Leef hy nog?”

Die Goeie Bester vertel hy het dit al tevore gekry dat iemand se alkoholvlak meer as twee keer bo die dodelike was, maar nog nie dat die “oorledene” die volgende oggend al kon gebel het om na die uitslag te verneem nie, al heel nugter.

By geleentheid is daar dienspligtiges opgeroep om hul diensplig in die polisie te doen, en dan later dertig dae per jaar hul “kampe” in die polisie te doen.

So ‘n knaap is met sy “kamp” besig en terwyl dit stil in die aanklagkantoor is, trek hy sy boeke nader en studeer. Hard.

“Wat swot jy?” wil die verveelde sersant weet.

“Medies” sê die student.

“Hoeveelste jaar?” wil die sersant belangstellend weet.

“Vierde jaar?”

“O,” sê die sersant, “dan kan jy al as distriksgeneesheer praktiseer.”

“En,” sê Boet wat dié storie vertel, “toe moet hulle die knaap van die sersant kom afhaal. Want die jongeling se pa is distriksgeneesheer...en burgemeester.”

Ja, dink ek, ek kan eintlik nie die sersant baie verkwalik nie, want ek het al as hofverslaggewer ervaar hoe eers ‘n lasbrief uitgereik is aan ‘n obsent distriksgeneesheer om in ‘n dronkbestuursaak te kom getuig, en toe hy steeds nie opdaag nie, gearresteer en hof toe gebring is.

“Ja,” sê Boet wat self in die polisie was, “ek het self een nag ‘n ou wat bietjie gedrink het en ‘n ongeluk gemaak het, jammer gekry. Ons moes die distriksgeneesheer by sy huis gaan opklop. Vreeslik gesuip (die dokter), en hy het die naald ‘n paar keer heel by die slagoffer se arm verbygesteek. Die vermeende dronkbestuurder was al erg grootoog en baie wild teen die tyd dat die dokter hom toe raakgekorrel kry.”

Maar dink ek, daai moeilikheid, so weet ek, sou hulle nooit met Die Goeie Bester gehad het nie. Nooit.

Ook hy rus nou al anderkant die sipresse. En hy het ook nie ‘n mev. wyle dokter nagelaat nie.

blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: