“Ek sien,” sê oom Brokkie waar ons op die stoep sit en Boeretroos wegslaan, “die Amerikaners het nou nie net ‘n ‘tea party’ nie, hulle het nou ‘n ‘coffee party’ ook.
Oom Brokkie se algemene kennis verstom my. Ek het netnou op die internet eers gesien die “coffee party” het pas gelyktydig op 370 plekke in die VSA en selfs hier en daar oorsee, hul eerste bekers geklink.
Op pres. Barack Obama, in teenreaksie op die “tea party” wat nie so lief vir Obama is nie.
Maar as ek gedink het ons gaan gesels oor die meer behoudende “tea party” en die meer liberale “coffee party” wat weer Obama se gesondheidsplan uit die dryfsand moet sleep, had ek dit mis. Oom Brokkie het sy stoute skoene aan.
“Dink jy nie ons politiek sal ook bietjie minder gespanne wees as ons ook in ‘tea party’s’ organiseer wat veerpyltjies teen die “coffee party’ gaan speel nie?”
“Almiskie oom, maar oom weet mos wat vat die manne nou saam met hulle tee?”
“Met eisj!” sê ons geyk.
“Ja,” sê oom Brokkie. “Die slimste oplossings vir die land se probleme word saans by die Oog uitgedink. Net jammer al wat die manne die volgende dag daarvan oorhet is die vreeslikste hoofpyne.”
“Maar watter soort tee of koffie dink oom het die Prez nou die aand gedrink toe hy so saam met die Boere gedinee het?”
“Ek dink koffieaan, want die volgende dag kon hy niks onthou van sy onderneming dat hy Julius onder vier oë sou spreek en die kwessie met die ANC se ringkoppe sou opneem nie. Trouens, die ANC trek nou die streep in die grond en sê nou iets soos “julle Boere se moere, hulle gaan daai liedjie aanhou sing, want dis nou deel van hul geskiedenis.”
“Maar is die Vlaamse Blok nie oor iets soortgelyks verbied nie?”
“Ja, maar hierdie is mos nie Wes-Europa nie.”
“Dink oom nie ons moet vir die Prez ‘n paar boksies Oom Tas by die parlement laat aflewer nie?”
“Jong, netnou gaan lees sy adviseurs in die geskiedenis op en sien hoe Willem Adriaan vir oom Tas in die Donker Gat laat toesluit het oor hy nie gehou het van wat die oom oor die politiek gesê het nie. Dan kry hy idees, en word ‘n paar mense weer daar toegesluit.”
“Seker darem nie vir lank nie. Dan kry ons presidensiële kwytskelding, en intussen kon ons darem ‘n ruk van die dienste wat so agteruitgaan ontsnap – want ek verstaan daar onder is hulle Eskom so ‘n entjie voor.”
So kuier ons terwyl ons met Boeretroos en Boerbeskuit ons “koffieparty” hou.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





