praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Friday, 10. February 2012

Bygewerk op:09:59:45 AM GMT

Jy is hier: Feuilleton Kortverhale Twee besoekers

Twee besoekers

E-pos Afdruk PDF

Ons twee oues, ek en Vroutjie – nou ja, ons een oue dan – het onder Herrie se eikeboom gesit en mekaar se handjies vasgehou. En wanneer ek dit sê dan bedoel ek natuurlik ek het háár hand vasgehou. Tussen ons twee is dit altyd ek wat die verleë aangetroude familie is.

Ons voordeur gaan sonop se kant toe oop. So behoort ’n mens ook jou huis te bou, en as hy anders gebou is, is dit raadsaam om hom te vat en om te draai. Want as jou oggend sonder sonneskyn begin, is jou hele dag droewig en beneweld. Buitendien dan verslaap jy jou. My kamer is so vroeg warm dat ek nie ’n wekker nodig het nie. Die vlieë maak my wakker. Ek moet nog eendag ’n leersame en lesenswaardige opstel oor die vlieg skryf. Nie hier nie – ek is vereers met iets anders besig.

Agter ons huis, maar weg van die agterdeur af, skuins eenkant toe, staan die groot eikeboom waar ons olifant Herrie in die eerste dae van sy diens aan twee bokwakettings vasgestaan het; en onder die boom het ek ’n lekker gemaklike en netjiese rusbank gemaak vir my en Vroutjie om in die aande op te gaan sit en mekaar se handjie vas te hou en die sonsondergang te bewonder. Die aande, meen ek, wanneer Vroutjie in ’n digterlike en liefderyke bui is. (Ek is altyd in albei.) Want soos dit twee mense kos om te twis, al bly een ook stil, so kos dit twee mense om te vry, al bly een ook koel.

Soos ek gesê het, die eikeboom het bietjie weggestaan en Vroutjie wou koelte hê op die agterdeur teen die bloedige namiddagson. Toe het sy vir haar daar ’n peperboom geplant – een van die bome wat jy nie vir die verre nageslag hoef te plant nie. En hierdie een was gou, bo en onder. So gou dat sy wortels die derde jaar die huis begin op te lig het. Voordat die opdraand binnekant te steil geword het, het ons dan die boom afgekap. Vroutjie het gekap en ek het bygestaan en by elke hou gesê Hê! (Ons het ons werk so verdeel dat sy die buitewerk doen en ek die huiswerk – behalwe wat nou eintlik vrouelike huiswerk is.) Maar toe die boom af was, was ons opgeskeep met ’n klomp allementige lange wingerdranke, ’n Paar jaar vantevore het ek stokkies gekry om vir my ’n wingerd te plant – want wat maak ’n mens sonder ’n wingerd ? – en hulle ingelê. Planttyd was ek hier doende en daar doende en so het die stokke maar in die peperboom opgerank. Toe hy nou onder hulle uitgekap was, het ek ’n netjiese somerhuis van pale en sparre daar opgesit en sommer die ranke deurgevleg. Toe die somerhuis klaar getimmer was, was hy meteens klaar toegegroei ook. Vroutjie had haar koelte en ek sou my druiwe hê – meer as wat ek uit twee wingerde kon gekry het. Ek moet hier byvoeg, ter wille van volledigheid, dat die skema uiteindelik misluk het. (’n Mens moet ook nie ’n onderneming ’n “skema” noem nie, dan misluk hy vanself. Al is dit ook ’n besproeiingswerk.) Toe die eerste jaar se druiwe volgeswel was en hier en daar ’n trossie bont word – maar ek verseker jou dit was alte pragtig om te sien! – toe sak die somerhuis van die gewig van die druiwe inmekaar. My werk was deeglik genoeg gewees; die pale en sparre was te swak.

Maar die aand waar ek nou van praat, was nog vroeg in Desember toe die somerhuis op sy beste van sy dae was. Dit was sterk skemer. Herrie, die olifant, nes ’n yslike hansvark, altyd ongeërg en onverstoord, kalm en bedaard, maar altyd lomp woelig, was besig om rond te snuffel. Hier keer hy ’n kookpot om wat van die skuur nog daar bly staan het, om te sien of daar nie kos onder tussen die pote oorgebly het nie, terwyl die binnekant dan leeg was. Daar trek hy ’n potplant uit voordat hy proe dat dit nie eetbaar is nie. As ek weer sien, het hy ’n wingerdrank beet en hy ruk byna my somerhuis om; dan moet ek hom met ’n klip verwilder. Jakhals lê by my en Vroutjie op die bank – hy is mos één van ons twee – aan die slaap, met sy kop op ounooi se skoot. Engela is vlytig in die huis besig, vermoedelik met haar persoon.

Hier en daar begin van die ander sterretjies een vir een opgesteek te word. Maar vlak voor ons, nie van die dag nie en nie van die nag nie, tussen die westerglorie van die hemelkleure wat deur die ondergegane son ’n wyltjie agtergelaat is, en soos ’n vlammetjie op ’n bed van gloeiende kole, skyn die aandster goudblink met ’n vaste, troue glans wat straal sonder om te vonkel. Teen die berge in die verte wat ons gesigskring beperk en waar hy later ook sal ondergaan agter die son aan, en op die laer heuwels deeskant hulle, en oor die ghwarrievlakte aan hulle voet, en die landerye van ons plasie, sak die duisternis dikker en dikker toe en die omtrekke van boom en bos en muur en laning raak verlore. Van alle kante begin die stemme van die nag na ons toe aan te ruis. Nou en dan lig Jakhals die punt van sy los oor op en frons sy voorkop en kry amper een oog oop; een slag (dit was ’n kat) tel hy sy kop op. Maar hy gee ’n sug en hy slaap maar weer. Op ounooi se skoot is saligheid.

“Ek wonder, Vroutjie,” sê ek, hardop mymerend, “of daar mense op Venus woon.”

“Venus ?” vra sy, ingedagte.

“Ja, Vroutjie. Op daardie heerlike aandster. Hy moet ’n bekoorlike wêreld wees. Hy’s so te sê net so groot soos die aarde, en byna ’n derde nader aan die son.”

“Dis hier al warm genoeg,” sê Vroutjie ondigterlik.

“Ja, Vroutjie, maar Venus het sy beskerming. Hy is met ewigdurende dikke wolke bedek. Daarom kan die sterrekykers nie uitmaak of daar aanduidings van die werke van inwoners is, soos kanale en stede nie.”

“Waaroor maak jy jou tog oor sulke dinge moeg, Ouman ? Is daar nie na jou sin genoeg mense hier op die aarde nie ?”

“Genoeg nie, Vroutjie ? Hier is te veel. Oorvloediglik en oorbodiglik oorgenoeg.”

Uit: Loeloeraai 1923


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: