praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Tuesday, 22. May 2012

Bygewerk op:07:38:23 AM GMT

Jy is hier: Feuilleton Kortverhale Duskant die longdrop

Duskant die longdrop

E-pos Afdruk PDF

Die Afrikaanse vertelkuns loop omtrent net so gereeld by die outydse gemakkies verby soos Afrikaanse TV-stories met ongetroude meisies in die ander tyd opgesaal sit. Dis nou, soos Worsie gesê het, oor die tou geval het.

Neem nou maar die storie van die knaap wat oplet die gemakkie langs die rivier is al taamlik weggekalwe onder. So betrag, besluit hy dit gaan nie veel moeite verg om van die longdrop ‘n duikboot te maak nie.

So gedink, so gedoen.

Later kom sy pa by hom.

“Boetman, die Amerikaners het ‘n president gehad. Sy naam was Abraham Lincoln. Eendag saag hy die kersieboom af van stoutigheid. En toe sy pa vir hom vra of hy die kersieboom afgesaag het, toe sê hy ja, en omdat hy nie gejok het nie het sy pa hom nie gelooi nie.”

“Ja pa,” maar Boetman se verstand werk oortyd oor sy pa hom die verhaal so uit die bloute kom vertel.

“Het jy die kleinhuisie in die rivier laat val?”

O ja, nou sien hy, en sy pa bied sommer ‘n reddingsboei om nie geklop te word nie.

“Ja pa,” antwoord hy eerlik.

Toe sy pa hom klaar geklop het, wil Boetman in trane weet hoekom sy pa hom nou so gelooi het, terwyl Lincoln se pa nie, net oor hy eerlik was.

“Ja, maar Lincoln se pa was nie in die kersieboom toe dit afgesaag is nie.”

Dan leef die storie voort van Koos wat na ‘n goeie oes en ‘n “gesig” neffens sy huis vir olie laat boor het...teen almal se advies in.

Na ‘n kilometer en ‘n half die dieptes in is daar nog net kurkdroë ysterklip, en Koos se bankbestuurder skop vas. Koos benut toe maar die verleentheid deur ‘n lo...o...o...ng drop oor die gat op te sit. Volgens alle inligting is dit die gemakkie met die diepste gat ter wêreld, en die inwyding is ‘n groot geleentheid met die burgemeester en ‘n verteenwoordiger van die administrateur in die skare.

Uiteindelik is dit sulke tyd, en Koos is koerant onder die arm in vir ‘n ringsitting. Maar hy kom nie weer uit nie. Naderhand word plegtig geroep, en toe op die sinke gehamer, maar Koos is doodstil.

“Ek dink daar het metaangas uit die gat gekom en Koos oorval,” sê die skoolhoof en onverwyld word die deur afgebreek. Daar sit Koos potblou op die troon.

“Oom, verduidelik klein Koos aan die dokter, “my pa het die gewoonte om sy asem op te hou tot hy hom hoor val.”

Jors Troelie se oupagrootjie, oupa Pieter de Necker het op Petrusburg loop aftree, waar hy ook naderhand burgemeester was.

Toe word oupagrootjie 90, en van oor die hele land kom kinders, kleinkinders en agterkleinkinders. Aangevul deur die ander kennisse se kleingoed, is die groot dorpswerf vol kinders, wat eers te heerlik speel maar naderhand opgeskeep raak. Opgeskeepte gesonde kinders is ‘n tydbom.

Destyds had oupagrootjie se huis reeds ‘n binne-gemakkie, maar met so baie mense is dié vertrekkie slegs vir die dames. Die mans moes in die agterplaas die trappies op na ‘n deur doer bo, en ‘n klein deurtjie doer onder aan die agterkant, gerieflik binne bereik van die nagwa.

Nie ‘n honderd jaar nie, toe is kattekwaad uitgedink. Die jongklomp gaan sit in ‘n plaat op die grasperk reg oorkant die voorste deur. Dan, sodra daar ‘n slagoffer binne is, glip die “afgevaardigde” na die klein deurtjie, maak dit saggies oop en laat loop met ‘n handvol gruis die hoogtes in. Dan moet die “toeskouers” in detail aan die “afgevaardigde” verslag doen van die reaksie.

Naderhand bly die “afgevaardigde” sommer agter, en doen sy ding. Die terugvoer was te identies om elke keer te kom verneem, en dis snikheet warm.

Toe kom daar fout. Ta’ Hannie kon nie meer wag vir die een wat almal in die binne-gemak ophou om klaar getittewyt te raak nie, en sy durf die trappies in die agterplaas aan.

Nou is daar ‘n probleem, want die “afgevaardigde” het agter vir sy volgende slagoffer gewag, en was salig onbewus daarvan dat die jongste slagoffer buite perke was.

Die kort en die lank is dat ta’ Hannie die huis in is, en nog voor mens kon sê “mes” toe gaan die deur soos ‘n koekoekhorlosie se deurtjie oop en ‘n stroom grootmense storm met enige denkbare slaanding by die deur uit.

Nooit in die heugenis van Petrusburg het so baie kinders op een slag so erg siepsop gekry nie soos op oupa se negentigste verjaarsdag.

Maar Herrie had nog ‘n oupagrootjie. Dié het ook in die negentig geword, maar is kort daarna oorlede net mooi toe ma met my in die kraamsaal gelê het.

Ma sê sy het pa baie jammer gekry, want hy was baie erg oor dié oupa van hom, maar toe hy van die begrafnis terugkom, is hy dik van die lag.

Die begrafnis was in Mosselbaai, en voor die ter aardebestelling het die kis op bokkies op die stoep gestaan. Dié stoep het oor die see uitgekyk.

Maar merk pa, oupa se seun, oom Tienie, loop wye draaie om die bokkies, ook na die begrafnis toe ‘n klomp begrafnisgangers op die stoep kuier. Daar was inderdaad min dinge waarvoor oom Tienie nie bang was nie ... trouens, hy was legendaries daarvoor.

Maar die stoep het nie net oor die see uitgekyk nie. Die stoep het ook oor die agterplaas uitgekyk, en heel onder op die verste hoek, die buitegemakkie.

Seker oom Tienie se ergste vrees was engtevrees.

Toe dit dan sulke tyd is, en oom Tienie die gemakkie moes opsoek, moet sy wederhelf, tannie San, saamgaan. Omdat die deur weens oom Tienie se vrees nie heeltemal toegemaak kon word nie, moet tannie San buite kywie hou.

Maar soos oom Tienie, was tannie San ook ‘n opperste platjie. Met oom Tienie gemaklik op die troon, glip tannie San terug stoep toe, gryp die twee bokkies, stap terug gemakkie toe, en druk die twee bokkies by oom Tienie in die gemakkie in, druk die deur toe en skuif die buiteknip in.

Dit alles gebeur ten aansigte van die mense op die stoep wat so gepak soos die skou se pawiljoen is.

Pa sê dit was so ‘n rukkie doodstil, toe skiet die deur heel uit sy skarniere ui dat dit doer trek. Toe vlieg die bokkies uit die gemakkie uit, gevolg deur oom Tienie wat histeries, broek op die enkels, die bokkies fyn en flenters spring.

 


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: