praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Tuesday, 22. May 2012

Bygewerk op:07:38:23 AM GMT

Jy is hier: Feuilleton Kortverhale Renosterstories

Renosterstories

E-pos Afdruk PDF

Neef Ferdie is ‘n wildboer, en renosters is sy ding.

Ferdie is nie sy regte naam nie, maar die leser sal teen die einde besef hoekom ‘n nom de arnoster aangewese is.

Boonop verkies neef Ferdie swart renosters. Dit het glo niks met kleur te make nie, maar eerder met die humeur. Die swart renoster, so verstaan dié stadsjapie, is effens kleiner as die wit renoster, maar die swart humeur van die swart renoster het ‘n paar opspraakwekkende historiese aantekeninge tot gevolg gehad.

Soos die ene wat kort na die Engelse ‘n spoorlyn Kenia se binneland ingebou het, besluit het hy soek net niks sulke raserige indringers nie en die lokomotief bestorm het. Die slag was so hard dat die lokomotief onklaar bly stoom afblaas het, terwyl renoster se kind sy kop ‘n slag of wat geskud en weggestrompel het.

Neef Ferdie se gunsteling renoster het ook sy naam gekry. Ferdie die renoster was naderhand half mak vir neef Ferdie, maar versigtigheid is nooit oorboord gegooi nie. Soos dié slag wat neef Ferdie skielik gesê het: “Laat waai!” Ons laat waai.

Veilig in die trok verduidelik neef Ferdie: “As daai renoster sy ore begin wikkel en sy stert swiep...”

Kort hierna is Ferdie saam met ‘n paar ander renosters verkoop. Die laaiery is nie al te maklik nie, veral nie as dit swart renosters is nie. Hulle moet verdoof word en dan is dit ‘n liederlike stuk bedremmelde gewig om te laai.

Neef Ferdie kyk die storie so. Ferdie die renoster wei nog heel rustig te midde van die rumoer en neef Ferdie wonder of soveel drama regtig nodig is.

Ferdie die renoster was legendaries bekend hoeveel hy van lemoene hou. Meer as een keer het die wildsheining dit ontgeld as ‘n lorrie met ‘n vrag lemoene verbyry mark toe, want Ferdie kan iets vreesliks ruik. Veral lemoene.

Neef Ferdie gaan haal ‘n paar lemoene, en a la Hansie en Grietjie word lemoene tot agter in die trok ente uit mekaar gesit. Ferdie vat die buit, en stap al loemsop-spuitend heel rustig tot agter op die bak. Toe word gespring, en die trok toegemaak.

“Toe leer ek hoekom renosters, in elk geval swart renosters, nie so getrok word nie.”

Die trok was net toe, toe strip daai swart renoster sy moer iets allerverskrikliks. Sommer gou is dit duidelik as daar iets van die trok moet oorbly, moet Ferdie daar afkom. Die bak word oopgemaak en almal laat spaander, want nie eens ‘n ton lemoene sou nou Ferdie se bui gou laat sak nie.

Ou Pula het ‘n mank been, en Ferdie pik op hom. Net, net betyds haal Pula ‘n stewige karee, en soos neef Ferdie sê, met die afkomslag gryp Pula een van die boonste takke vas.

Maar Ferdie die renoster se briekse en belyning is nie heeltemal skerp genoeg om betyds op Pula se “disappearing act” te reageer nie, en hy dryf daai lang neushoring tot by die neusgate in die karee in.

Neef Ferdie sê almal wil nog verlig raak, want ‘n karee laat so ‘n neushoring soos ‘n bajonet vassuig. Maar watwou, Ferdie die renoster is gans te die hoenders in om hom so te laat vang. Hy begin ruk, met die gevolg daai boom werk soos ‘n kleilat en hy slinger vir Pula in ‘n blinkblaar in. Almal wou nog wonder of Pula dit oorleef het, toe trek hy al vyftig meter verder, met die helfte van sy oorpak wat in die blinkblaar agtergebly het.

Nou moet ek darem ter versagting bysê as ek nou dalk half wyd met die waarheid omgaan, neef Ferdie las partykeer dinge by sy stories om dit interessanter te maak – nie lieg nie, maar ‘n stadsjapie kan dalk nie agterkom dis spekskiet nie en dit vir die waarheid opdis.

Vertel neef Ferdie, daai karee staan toe op klipperige grond, en met die gespook lig Ferdie die renoster die boom met wortels en tak uit daai losserige bodem. Hy skud sy kop ‘n slag of wat woes, en daar trek die boom.

Nou moet ek eers weer ‘n draai gaan maak om die storie te kan vertel soos dit is.

Ma het in haar dae voor sy met pa getroud geraak het, vir ‘n Engelse klas Afrikaans gegee. By geleentheid moes die klompie opstel skryf oor ‘n jagervaring. Bygesê, destyds is renosters nog gejag, en nie net gestroop nie.

Die een knaap se storie handel oor sy pa wat gaan renosterjag het. Maar toe “wond” hy die renoster. En toe gaan soek daai renoster die man wat hom gewond het.

“Die renoster is so kwaad, hy kyk agter hierdie boom, en hy kyk agter daardie boom.”

Die probleem is, sê ma, die Engelse kinders raak soms vreeslik deurmekaar met die Afrikaanse “y”, en die “a” wat in Engels mos ook as “y” uitgespreek word.

Dit was dus nie soseer ge-“kyk” wat die renoster so agter die bome gedoen het nie.

Dié storie het al lankal by neef Ferdie uitgekom, synde hy ook so met renosters deurmekaar is.

“Daai Ferdie was so kwaad, hy het nie eens gebodder om agter die bome te gaan kyk nie. Dis net die ene bolle.”

Nie lank na Ferdie die renoster se vertrek nie, kry neef Ferdie ‘n beter aanbod en verhuis na ‘n ander provinsie. Ook hier word op die wildsplaas met renosters gespesialiseer.

“Ons koop toe ‘n plaas by om uit te brei, en natuurbewaring kom doen inspeksie. Terwyl hulle die kamp inspekteer wei daar ‘n klompie springbokke in die kamp wat maar daar was toe ons die plaas gekoop het.

“Een van die Natuurbewaringsmense bekyk die springbokke skepties, en vra toe vir neef Ferdie: ‘Dink jy daar is genoeg springbokke vir die renosters om te eet?’

“Nou kan ‘n man ook nie eens lag nie, want of hulle nou iets weet of nie, hulle het wye magte en kan ‘n man se aansoek afkeur.”

“Ja’” lag ek saam. “Soos almal weet vreet renosters eintlik rooibokke.”

“Ja, nie springbokke nie.”

Gelukkig nie want daar het juis 'n ruk gelede ‘n klompie uitgediende springbokke uit Europa aangekom.

 


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: