praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Tuesday, 22. May 2012

Bygewerk op:07:38:23 AM GMT

Jy is hier: Feuilleton Kortverhale Fascistiese pampoenkliersiekte

Fascistiese pampoenkliersiekte

E-pos Afdruk PDF
vir BB, no hard feelings

'n Man het die dokter besoek op sy verjaarsdag die 16de September, 1994.

Sy naam was Louw Van Wyk en hy was 'n nederige klerk by die departement van onderwys. Van Wyk het gekla dat sedert hy met swartmense begin werk het, hy omtrent vyftig keer 'n dag die dwingende behoefte gehad het om hard-op die woord 'kaffer' te sê. Dit het van Wyk baie onstel, want hy het geweet dat hy nie 'n rassis is nie en geen wrokgevoelens teen swartmense gekoester het nie.

Dr Cloete het sy ken gevryf en wou weet wanneer hy die eerste keer hierdie kompulsie gekry het. Van Wyk kon die presiese oomblik onthou: dit was toe hy 'n kortverhaal van Breyten Breytenbach, "fascistiese pampoen", in die tydskrif Insig gelees het. Die gedagte het homself in sy brein ingedwing en hy het hard-op die gewraakte woord gesê.

Dr Cloete het aan Van Wyk verduidelik dat hy baie bekommerd was oor die toestand en het hom onmiddellik vir verdere toetse gestuur. Sy bloed is getrek, urienmonsters geneem en ten slotte is ook 'n breinskandering gedoen. Twee weke later was hy weer in die dokter se spreekkamer sodat sy geneesheer die uitslae met hom kon bespreek.

Dr Cloete het sy leêr met bladsye verslae gehad. Terwyl Van Wyk met groot oë na hom gekyk het, het Dr Cloete sy bril afgehaal en gesug.

Ek het baie slegte nuus vir jou - het hy gesê.

Van Wyk, wat tot dusver toe gehoop het dit was sommer net 'n virus iewers uit die Verre Ooste, wat hy opgedoen het, het na sy asem gesnak.

Het ek kanker dokter, is ek miv-positief?- het hy die dokter voorgeloop.

Erger as dit, Van Wyk, jy het die gevreesde pampoenkliersiekte…

Wat is dit, dokter? Is dit ernstig?

Dr Cloete trek 'n plastiekbreinmodel, wat deur 'n farmeutiese verteenwoordiger aan hom gegee is, nader. Die maatskappy-embleem staan onder op.

Dr Cloete verduidelik: onlangse navorsing het gewys dat daar 'n klier net agter die pituïtêre klier is, genaamd die pepo magnus-klier - ons noem dit sommer die pampoenklier, omdat dit in die vorm van 'n pampoen is. Verder het navorsing gewys dat die klier, soms, weens tans onverklaarbare redes (maar daar word 'n sterk genetiese basis vermoed), begin vergroot wat tot sosiale aggressie teenoor differensieerbare, andersoortige groepe lei. Dit word gewoonlik ontketen deur kontak met 'n anti-aggressiewe element. In hierdie geval was dit die verhaal wat u gelees het.

Van Wyk het begrypend geknik.

Dr Cloete het verder verduidelik: ongelukkig gaan hierdie klier se invloed oor die res van jou brein net groter en groter word. Dit rank letterlik soos 'n pampoen uit en neem die res van jou brein oor.

En die uiteinde daarvan, dokter?

Jou aggressies gaan van woorde oorgaan in dade. Dit gaan erger en erger word totdat jy 'n persoon word wat jy nie gaan ken nie.

Hoe lank het ek?

As ons dit vinnig verwyder, het jy nog 'n kans.

Dieselfde aand is Van Wyk in die naaste hospitaal opgneem en 'n vyftien ure lange operasie is op hom gedoen. Daarna was hy vir vier dae in die intensiewe waakeenheid, voordat hy na 'n normale saal gestuur is. Daar het sy familie, vriende en kollegas hom kom besoek en ruikers blomme, sjokolade en ander geskenke van simpatie gebring. Die susters wat die rondte kom doen het, het gereeld na hom kom kyk, sy bloeddruk geneem en sy koors gemeet. Almal was verlig toe dit goed blyk te gegaan het. Die dokters het weer toetse gedoen en daar was geen teken van die gewraakte klier meer nie.

Later is hy ontslaan en hy het teruggegaan werk toe. Op die eerste dag van sy werk is hy verras deur 'n besoek deur die premier van Gauteng en dié het onder flitsende kameras hom 'n handdruk kom gee. Die premier het 'n lang toespraak gegee waarin hy Van Wyk geloof het dat hy bereid was om die pynlike operasie te ondergaan en dit is witmense soos hy wat Suid-Afrika trots maak.

Kort daarna is daar ook ander gevalle gediagnoseer. Party van die mense kon die dokters genees met die operasie, ander het onder die mes beswyk, terwyl nog ander tragies in inrigtings opgeëindig het.

Uitiendelik is werk soos breyten breytenbach s'n verbied omdat dit 'n risiko was om mense met die dormante siekte daaraan bloot te stel.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: