praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Tuesday, 22. May 2012

Bygewerk op:07:38:23 AM GMT

Jy is hier: Feuilleton Kortverhale 'n Ander plek

'n Ander plek

E-pos Afdruk PDF
Artikel Indeks
'n Ander plek
Page 2
Page 3
Page 4
Page 5
Page 6
Alle bladsye
Image

Die oproep in die nag, die een wat sy al lankal vrees, dié kom toe om twee-uur op 'n helder sonskyndag in Auckland terwyl Mart vir Mia wag by die tennisbaan in die dorp. Die wye Hauraki Golf lê oop en blou, en seilbote van alle groottes flankeer met die ligte wind. 

Mia hardloop rats agter 'n bal aan, moker hom teen die net vas. Kap haar tennisraket in die lug uit frustrasie. Die kind sal moet leer om te verloor, dink Mart. Aard na haar pa.

Haar selfoon lui en Mart krap daarna in haar handsak, vat dit raak, druk dit teen haar oor. Hoor dan die suising op die lyn. Sy voel hoe haar hart tot in haar skoene sink.

"Dis Karel, Sus, ek het slegte nuus."

Ek weet, sê haar hart, maar haar mond is droog en sy kraak terug: "Karel, is dit...?"

Die lyn het 'n vertraging, hy praat oor haar woorde. "Sus, Pa is vanoggend dood, skielik. Hy was nie lekker nie, en toe het sy hart net ingegee. Die dokter sê hy het nie gely nie".

"Ai Karel."

"Ek sal seker môre die begrafnisreëlings tref, wou jou net solank sê."

"Ai Karel, is daar iemand by jou, 'n vriend, die dominee?"

"Gaan jy kom?" vra hy, veertienduisend kilometer vêr.

 

Sy het geweet dit gaan kom, maar het gehoop dit gebeur eers later. Eendag. Wanneer sy meer gereed is. Finansiëel. Emosioneel. Nie nóu nie, nie terwyl sy nog vars is hier aan die ander kant van die wêreld nie. Miskien kon sy Pa nog een keer sien weer, het Mart gehoop. Sien hoe hy oor die grond loop, die Noord-Kaapse wingerd tussen sy hande neem en die blare liefkoos, die suiker meet, die lug snuif, die grond voel.

Pa het daardie grond mak gemaak, die rooi sand van die Noord-Kaap en die klippe en die wind. Hy het hulle getem en hulle het geluister. Gebloei onder sy hande. Die grond, die plaas, die landerye en die huis, die watertenk op sy stellasie. Die wingerd waar daar nooit een was nie. Sy pekanneutbome wat hy geplant het, wetende dit sal eers hul volle bloeikrag bereik lank na hy nie meer daar is nie.

"Hoekom ploeg jy nie vore nie, Pa?", het Mart die dag gevra toe hy sy nuwe lande vir haar en Hannes gaan wys het.

"Ek begin 'n nuwe ding", het hy geantwoord en sy kon die trots in sy stem hoor. "Pekanneute. Ons wêreld is goed daarvoor, en die mark is belowend."

"Maar wat van koring, en mielies?"

"Koring se prys is treurig, die rand is te hoog, en mielies, nee, die Jood vat alles", se hy met 'n laggie. "Pekanneute kan ons self bemark."

Sy het hom vies aangekyk. "Ag Pa, moet nou nie so wees nie, jy weet mos ek stem DP."

"Ja'k", het Pa net gesê, maar sy misnoë was duidelik. Hy was 'n NP man, en sy was in haar rebelse fase. Gelyke regte en samewerking, dié soort van ding.

As sy hom wou kwaad maak in haar studentejare het sy Sondagmiddag aan tafel verklaar: "Ek sou ook met klippe gegooi het as ek swart was."

In die begin was Mart volksvreemd met haar stellings, dwars. Later sou sy party en die hele land inkoop op die nuwe Suid-Afrika. Min of meer toe hy sy pekanneute aangeplant het, het die land sy nuwe ekonomiese en staatkundige koers ingeslaan: Oop markte, staatsbeheer verdwyn. Ook die hulp aan boere. En in die proses word hulle distrik se koöperasie toe ingesluk deur die groot vis.

Pa het toe nog nie geweet hoe die Groot Westelike Koöperasie hulle later sou beduiwel nie. Sy eie mense. Weg met sy pensioen waarvoor hy sy lewe lank gewerk het, vervang dié met hulle opgeblaaste aandele wat hulle die lede belowe het toe hulle die plaaslike koöperasie oorneem. Duisende boere so deur die ore gewerk, onthou sy.

Ten minste het Pa darem nie ondergegaan nie, dink Mart. Hy kon aftree, soort van, maar die plaas kon nie verkoop nie. Daar was 'n grondeis, uit die bloute. Die grond wat uit die aarde gekap en bewerk is waar daar niks was nie. Wat tot lewe gekom het omdat hy water soontoe laat aanlê het. Hy en sy mede-boere en die staat en al die ander voor hom.

Skielik was die grond eintlik iemand anders s'n. Nabot se wingerd. Diegene wat destyds met bokke getrek het in die dorre landskap, van die een watergat na 'n ander, mielietjies hier en daar, dié wat nooit lank gebly het op een plek nie. Hulle het opeens 'n aanspraak gehad.

Mart voel skielik oud onder die gewig van haar erfenis.

Nie dat Pa ooit sou gee pad van die grond af nie, dit was sy lewe. Nie vir hom krepeer in 'n ouetehuis in 'n voorstad iewers nie. Met diefwering en 'n klein tuintjie waarin geen pekanneutboom sou aard nie. Nee, hy het maar aanhou boer so op sy manier. So rondom Karel se eie boerderydinge.

Stadigaan, vermoed sy, het sy lang skaduwee al yler en yler geword in die middagson.

 

Die geluid van Mia se tekkies op die teer soos sy aangestap kom van die tennisbaan, ruk Mart terug na die hede. Toe sy op haar horlosie kyk, en die son inkorrel, besef sy dit is drie-uur in die oggend in Suid-Afrika.

Dit was toe 'n oproep in die nag.

Die water van Auckland se wye baai is opeens te blink vir haar oog. Sy krap in haar handsak vir haar donkerbril.