Die legendariese Boere verkenner Daniël Johannes Stephanus Theron en stigter van die Theron Verkenningskorps (TVK), voorloper van die SA Weermag se gedugte verkennersafdeling, is op 9 Mei 1872 in 'n Kaaps-Hollandse woning op Tulbagh gebore. Dié huis in Kerk Straat 21 is in 1973 gerestoureer en is een van die verklaarde gedenkwaardighede op die dorp.
In die Anglo-Boere Oorlog bylae, is 'n artikel geplaas waarin Theron in sy eie woorde vertel hoedat hy as latere burger en regsgeleerde van die Zuid-Afrikaansche Republiek kort voor die uitbreek van die oorlog die Theron Wielryerskorps, 'n rapportryerskorps wat van fietse in plaas van perde gebruik gemaak het, gestig het.
In die biografie Kommandant Danie Theron, baasverkenner van die Tweede Vryheidsoorlog deur J.H. Breytenbach, 1950, word vertel dat die heethoofdige prokureur Theron reeds op 22 April 1899 in Johannesburg die oorlog man-alleen begin het deur die Britse liberalis en hoofredakteur van The Star in sy kantoor met die vuis by te dam oor 'n artikel wat daardie oggend in dié koerant verskyn het waarin die Afrikaners as agterlik beswadder is.
Theron het dié redakteur, Moneypenny, eers versoek om die artikel in die volgende uitgawe te repudieer. Toe die gesette man volstrek weier, het Theron op Engels aan hom gesê: ''Maak jou klaar, ek gaan jou slaan!''
''Toe Moneypenny sy hand uitsteek om hom te keer, voeg Danie die daad by die woord en plant die hou mooi op die Engelsman se regteroog dat jy net sien brilstukkies spat. Fyn straaltjies bloed verskyn op Moneypenny se ooglid, waar die glasstukkies 'n paar snytjies veroorsaak het sonder om ewewel die oog self te beskadig,'' skryf Breytenbach.
''Kom buite toe,'' daag Theron die redakteur uit, ''buite sal ek jou verder slaan.'' Die prokureur is egter deur 'n metgesel en die personeel van die koerant gekeer om Moneypenny verder met die vuiste by te kom.
Die nadraai hiervan was dat Theron in die landdroshof beland het. Landdros Van den Berg het in sy uitspraak gesê: ''Die beskuldigde, wat nogal 'n prokureur is, het geen reg om opsetlik hierheen te kom om geweld te pleeg nie. As hy ontevrede is oor wat in die Star voorkom, kan hy aan die Staatsprokureur of aan die Uitvoerende Raad skrywe om volgens wet te handel. En as hy dink dat die wet nie straf genoeg is nie, kan die burgers 'n memorie aan die Volksraad rig om dit te verander. In elk geval had hy geen reg om so op te tree nie. Sy misdaad is ernstig en die vonnis is 'n boete van 20 pond of twee maande gevangenisstraf met harde arbeid.''
'n Hoed is in die stampvol hof omgestuur en 25 pond is in 'n japtrap onder die opgewonde burgers ingesamel. Die oorblywende 5 pond is aan 'n hospitaalfonds geskenk.
'n Artikel wat in 2003 in Vir Vryheid en vir Reg, 'n Anglo-Boereoorlog-gedenkboek, uitgegee deur Tafelberg, verskyn het.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





