Volgens Op Trek (deur J. Celestine Pretorius, redakteur, André Malan, Alana Bailey, Sandra Saayman, H.S. (Tia) Hugo en J.F. (Joey) Wilmans) was die snelheid van die ossewa gemiddeld ongeveer 5 km per uur. As die reis voorspoedig was, kon 'n trekker tot 32 km per dag aflê. Die osse moes gewoonlik rus nadat hulle so drie uur lank getrek het. 'n "Skof" is dan afgelê.
Teen dagbreek het die sweep reeds vir die oggendskof geklap. Op 'n baie warm dag is daar nie in die hitte getrek nie, en is die osse uitgespan. Teen laatmiddag is daar weer 'n skof getrek. As die maan helder is, en daar nie te veel leeus was nie, is soms 'n nagskof afgelê.
Elke wadrywer het 'n sweep gehad. Die bamboesstok was meer as vier meter lank en die sweep self minstens vyf. Voor aan die punt van die sweep was die voorslag ('n dun wildsbokvelriempie) van minder as 'n meter lank.
Die trekpad het baie gevare en ontberings opgelewer: donderstorms, haelbuie, ysige winternagte, versengende hitte; roofdiere, slange en giftige insekte. Waens wat omval, byvoorbeeld teen 'n steilte of in 'n drif, of selfs wanneer die osse op loop sit daarmee, het groot skade veroorsaak. Die veld was soms so ruig dat die mans met byle 'n pad vir die wa moes oopkap.
Twee van die grootste hindernisse op pad was die Oranjerivier en die Drakensberge. Party het die Oranje oorgesteek by Buffelsvlei naby die huidige Aliwal-Noord en ander trekke by Zanddrif. J.H. Hatting vertel dat hulle eers die waens met vlotte oorgeneem het, daarna die vrag en die kleinvee. Die beeste moes maar self deurswem. Uiteindelik is die vroue en kinders oorgeneem. Onder die sing van "Komt! treên wij dan gemoedigd voort" (Gesang 20 vers 9) het hulle die oorkant bereik.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





