praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Friday, 10. February 2012

Bygewerk op:05:30:08 AM GMT

Jy is hier: Feuilleton Geskiedenis Tagtigjarige oorlog tussen Spanje en Nederland
Tagtigjarige oorlog tussen Spanje en Nederland PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Herman Toerien   
Sondag, 11 Julie 2010 20:11

In die aanloop tot die sokker-wêreldbekereindstryd tussen Spanje en Nederland word gereeld verwys na die tagtigjarige oorlog tussen Nederland en Spanje.

Nederland het in wese eers in 1648 as ‘n deel van die vrede van Münster formele onafhanklikheid gekry, slegs enkele jare voor Jan van Riebeeck na die Kaap sou vertrek.

Maar hoe het dit gekom dat Nederland in die eerste plek ‘n Spaanse “kolonie” geword het?

Op die hoogtepunt van Europese monargie het troonopvolging en huwelike dikwels tot vreemde situasies gelei. So is die Britse koningshuis, bekend as die Huis van Windsor, eintlik die Huis van Hanover, ‘n Duitse koningshuis. Dit is in 1917 verander toe die Britte en die Duitsers haaks geraak het.

Die Spaans-Nederlandse oorlog kan teruggevoer word na die Huis van Habsburg. Hierdie koningshuis word sedert 1438 geassosieer met die keisers van die Heilige Romeinse Ryk. Hoewel dié huis oorspronklik uit Switserland stam, is dit later ten nouste met Oostenryk geassosieer.

Nederland het, soos Hongarye en talle ander dele van Europa deel van hierdie ryk uitgemaak. Deur erfopvolging het Spanje ook deel van dié ryk geword, maar in die 16de eeu het die Huis van Habsburg (met sy swaartepunt in Spanje) in ‘n Spaanse Huis van Habsburg en ‘n Oostenrykse Huis van Habsburg verdeel geraak.

Nederland het deel van die Spaanse Habsburg geword. Keiser Karel V van 1555 verskeie van die krone waaroor hy beskik het geabdikeer, en sy seun, Philip, is as opperheer van Nederland aangewys. Anders as sy pa, wat via Nederlandse adelliede soos die Prins van Oranje,  Philip de Montmorency, Hertog van Hoorn, en Lamoral, Hertog van Egmont oor die “Lae Lande” regeer het, het Philip Spaanse heersers aangewys, en ook ‘n Spaanse goewerneur-generaal aangewys om in sy permanente afwesigheid te regeer.

Weens Philip se ander monargie-verpligtinge – hy het sy pa intussen as koning van Spanje opgevolg - was hy was in verskeie oorloë betrokke, en Nederlanders moes die rekening betaal. Die oorsaak van die bevrydingsoorlog is met ‘n slagspreuk, Geen belasting sonder verteenwoordiging, ingelei. Terselfdertyd het Protestantisme en ana-Baptisme na Nederland versprei, wat as ‘n bedreiging vir die Rooms-Katolieke Spaanse troon beskou is. In 1566 het die “Beeldenstorm” plaasgevind wat die Rooms-Katolieke troon in Spanje ontstel het.

Die oorlog, wat van 1568–1648 geduur het, het formeel ontbrand toe die Hertoë van Egmont en Hoorn op die stadsplein van Brussel (deel van die Nederlande) opgehang is. Die Spanjaarde het ook Willem (die Swyger), prins van Oranje, se bloed gesoek, maar dié – eens ‘n vertroueling aan die hof van Karel V - het die Spaanse regeerstyl geken en ontvlug tot hy later deur ‘n spioen vermoor is.

Met die Vrede van Münster het slegs die noordelike provinsies onafhanklik geword. Die suidelike Nederlande, België en Luxumburg, het onder Spaanse bewind gebly.

Uit die tagtigerjare dateer ook die lied van Piet Hein wat die Spaanse Silwervloot in 1629 verower het. Die waarde van die silwer aan boord was glo in vandag se terme sowat een en ‘n half miljard euro’s werd. Die silwer was van Potosi met sy “berg van silwer” uit hedendaagse Bolivia afkomstig.

blog comments powered by Disqus
Laas Opdateer op Sondag, 11 Julie 2010 20:54
 


Verwante artikels: