John Philip, superintendent van die Londense Sendinggenootskap (LSG), het in 1819 aan die Kaap gekom. Die LSG het in 1818 'n doktorstitel vir hom van 'n Amerikaanse universiteit gekoop; die gedagte was dat dié graad die Afrikaners sou imponeer. Hy is die skrywer van Researches in South Africa (1828), 'n boek vol weersprekings, valse verklarings oor die Boere en aanhalings uit ander werke wat deur weglatings 'n ander betekenis gekry het. Hy was 'n yweraar vir die regte van bruin en swart mense.
In die emansipasieproses van dié mense was 17 Julie 1828 'n belangrike dag. Op dié dag is Ordonnansie 50 uitgevaardig. Dit het alle beperkings op die persoonlike vryheid van die Koikoi opgehef. Hulle kon ook vaste eiendom besit. Die wit en bruin mense is vir die eerste keer wetlik op gelyke voet geplaas.
Teen die maatreël as sodanig kan daar geen beswaar bestaan nie, maar dit het 'n gevolg gehad wat die wit Afrikaans- en Engelssprekendes baie ontevrede gemaak het. Koikoi sonder vaste verblyfplek of werkkring het hulle oor die hele Kolonie as "rondlopers" las gegee.
Die posisie van bruin mense is veral verbeter deur die vrystelling van die slawe. Dit is heel gepas dat Engeland, die land wat soveel baat by slawerny gevind het, in die negentiende eeu aan die voorpunt was om slawerny af te skaf.
In die lig van die strewe na die vrystelling van die slawe is dit ironies dat daar tydens die eerste Britse besetting van die Kaap meer slawe in dié gebied ingevoer as in enige ander tydperk van dieselfde duur. In die Bataafse tyd het Janssens en De Mist gesorg dat daar so min slawe as moontlik kom. In 1821 was daar byna 20 000 slawe in Kaapstad en Stellenbosch, tussen 2000 en 3000 in Graaff-Reinet en Swellendam en 1135 in Uitenhage en Albanie.
Op 1 Desember 1834 is slawerny in alle Britse gebiede, dus ook die Kaap, afgeskaf. Oor die afskaffing as sodanig was daar geen ontevredenheid nie, en in byna alle kerke is die klokke gelui en dankdienste gehou.
Maar daar was 'n ongelukkige nadraai. Die Britse regering het 'n veel kleiner vergoeding betaal as wat aanvanklik verklaar is en die geld sou net in Londen betaal word in Britse staatspapiere.
Die historikus G.M. Theal skryf dat die konfiskering van vermoëns van £2 miljoen in 'n arm en klein gemeenskap algemene ellende sou meebring. Baie eienaars het minder as 'n vyfde van die waarde van hul slawe teruggekry. Vermoënde families is verarm en party het 'n knak gekry wat hulle nie weer te bowe kon kom nie. Een boer het bereken dat hy vir 'n slaaf wat £600 werd was, net £69 kon eis -- 'n bedrag wat, nadat die koste afgetrek was, tot £48 sou krimp. Wat miskien die meeste bitterheid verwek het, was die hovaardige, onsimpatieke toon van die filantrope.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





