Afrikaners was tot in die 1820erjare polities apaties. Hulle het nog geen persorgaan gehad om hul volks- en taalbelange te stel nie. Daaraan sou nou verandering kom.
Die Kaapsche Stads Courant/ Cape Town Gazette and African Advertiser, van 7 Julie 1826 af The Cape of Good Hope Government Gazette, het 'n regeringsorgaan met sulke swaarwigtige proklamasies, ordonnansies en offisiële berigte geword dat die mense interessanter blaaie wou hê. Daarom het die Britse Setlaars George Greig, Thomas Pringle en John Fairbairn in 1824 The South African Commercial Advertiser opgerig. Die blad het later advertensies en hoofartikels in Nederlands geplaas.
Die ontevredenheid van die plattelanders met die rigting van die Gazette, wat boonop al hoe meer Engels geraak het, was 'n aansporing vir 'n Portugees-Hollandse Jood, J. Suasso da Lima, om in 1826 te begin met 'n weekblad wat baie op die ou gewaardeerde Kaapsche Courant gelyk het.
Da Lima is skrywer van Geschiedenis van de Kaap de Goede Hoop (1823), die eerste geskiedenisboek wat in Suid-Afrika verskyn het. Hy het Nederlands hartstogtelik liefgehad en was digter van die bundel Gedichten (1821) en Nieuwe Gedichten (1840): "O Heil'ge dierbre moedertaal, / Zoo rijk als wel verheven, / Geen vreemde of geleerde praal, / Behoeft u kracht te geven." In 1844 het hy ook vir Afrikaans in die bresse getree in 'n brosjure De taal der Kapenaren verdedigd.
Van 1 Januarie 1827 af het Da Lima sy koerant die Kaapsche Courant, Afrikaansche Berigter of De Verzamelaar genoem. Hy was egter 'n swak sakeman en op 6 Maart 1830 was hy bankrot. Een van sy skuldeisers, P. van Breda, het op sy drukpers beslag gelê. Op dié pers het 'n nuwe koerant op 9 April 1830 begin verskyn: De Zuid-Afrikaan. Intekenaars op De Verzamelaar (wat in 1834 en van 1839 tot 1848 herleef het), het De Zuid-Afrikaan ontvang tensy hulle die blad bedank.
Die stigters van die tweetalige weekblad De Zuid-Afrikaan was adv. C.J. Brand, 'n leier van die Kaapse Afrikaners, en ds. Abraham Faure. Dit was nie Faure se eerste blad nie. In 1824 het hy saam met Pringle en Fairbairn twee tydskrifte opgerig: die South African Journal (Januarie en Februarie 1824) en Het Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tijdschrift (1824-1843). Op die platteland het dié blad heelparty lesers gehad.
Dit het veral godsdienstige en historiese artikels bevat, soos dele van Van Riebeeck se dagverhaal. Petronella Camijn (gebore Faure, niggie van ds. Faure) het 'n besoek aan die Kangogrotte of Druipkelder in 1808 beskryf. Sy wou amper eers vlug, maar toe een van die mans erken hy is net so bang, het sy vasgebyt. Ná twee uur moes die besoekers terugkeer omdat die kerse byna op was en hulle sonder lig nie die pad boontoe sou vind nie. Later was sy bekend vir haar 129 gediggies oor Stellenbossers en haar plakskilderye uit plantmateriaal van Stellenbosse geboue.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





