Tot onlangs het Ghanese in hul herinneringe aan hul koloniale verlede hoofsaaklik gedink aan die talryke skermutselings teen die Britse koloniale mag.
Die Ghanese bestaan immers uit ‘n aantal bekende stamme met ‘n trotse koninklike geskiedenis en tradisies.
Hieronder tel die Ahanta-stamme wat meestal in ‘n soort konfederasie verskeie konings saamgevoeg het.
Slegs vae volksverhaaltjies het na die koloniale tydperk voor die koms van die Britte verwys.
Meer as 200 jaar voor die Britte Ghana beset het, en kort na Jan van Riebeeck ‘n verversingspos aan die Kaap gestig het, het die Nederlandse Wes-Indiese Maatskappy in 1656 ‘n ooreenkoms met die Ahanta gesluit. Die Nederlanders, wat egter al van 1642 in die gebied bedrywig was, het na die verdrag die Swede uit Butre geboender en hul hoofsetel hier gevestig.
Hierdie verdrag het meer as 200 jaar ‘n betreklike rustige verloop gehad, wat grootliks toe te skryf was daaraan dat die Nederlanders die inheemse koningkryke min of meer intakt gelaat het, en die verdrag min of meer hanteer het soos dit bedoel was – die skepping van ‘n gebied waaroor Nederland slegs ‘n protektoraat uitgeoefen het.
Die verdrag het bestaan tot die gebied in 1872 Britse besit geword, en die koloniale karakter behoorlik ingetree het.
Die tydperk van die Nederlanders was nie net maanskyn en rose nie, blyk dit nou uit geskrifte van Westers-opgeleide Ghanese. Hul meer kritiese gryp na die pen oor die pre-Britse tydperk is veral deur een insident aangevuur – die ontdekking van die kop van ‘n Ahanta-koning in versterkwater by die Universiteit van Leiden. Die kop is in 2005 deur ‘n Nederlandse navorser ontdek, en teen die tyd toe die kop verlede jaar formeel aan die Ahanta-koningshuis en die Ghanese regering besorg is, het baie water in die see geloop. In Ghana self het tradisionaliste en verwesterde Ghanese verskillend oor die sakie gevoel, terwyl die teruggawe van die kop van ‘n Ahanta-koning aan lede van ander stamme ‘n boodskap tuisgebring het dat die Ahanta as belangriker as hul stamme beskou word. Veral die trotse Ashanti het die saak as ‘n klip in die maag beleef. Die Ashanti-ryk se geskiedenis is veel bekender as dié van die Ahanta.
Intussen is die geskiedenis min of meer gerekonstrueer oor hoe die kop in Nederland beland het.‘n Aantal Nederlanders (die getalle wissel van twee na agt) is op bevel van koning Badu Bonsu II doodgemaak. Afhangende van of die geskiedenis uit ‘n Ghanese of Westerse hoek benader word (die Ahanta beweer die groepe was op ‘n gebruiklike uitstappie om jong manne as slawe en soldate vir die Nederlanders te vang) het die koning in gevolglike teenoptrede in die slag gebly. Volgens sommige bronne het hy gesneuwel, en volgens die ander en waarskynlik die mees geloofwaardige, is hy verhoor en opgehang. Sy kop is hierna afgesny, en na Nederland geneem.
Suid-Afrika het moontlik ook ‘n spreekwoord uit hierdie vervloë geskiedenis opgedoen – dat daar dadels van iets kom.In 1818 sterf die destydse Nederlandse goewerneur, Herman Willem Daendels (met wisselvorm Daedels) in die Nederlanders se destydse Ghanese hoofsetel, St. George d'Elmina. Wikepedia beskryf sy sterfte as die onvervulling van sy Ghanese ambisies, wat baie groot planne ingesluit het.Die malaria wat daartoe gelei het dat van sy Ghanese ideale dadels gekom het, was egter nie al geleentheid waar sy drome nie in vervulling gegaan het nie. Ook van sy senior posisie as soldaat aan die kant van Napoleon se Bataafse besettingsmagte het nie veel gekom nie, en sy tydperk hierna as goewerneur-generaal in Batavia het ook min blywende prestasies opgelewer.Dit is juis sy heerskappy in Batavia waar die uitdrukking, dadels van kom, waarskynlik sy ontstaan het en in die Kaap neerslag gevind het.
Naas Java was die kleiner eiland, Madura (Madoera), ‘n baie belangrike deel van die Nederlandse Oos-Indiese besittings. Madura weer, staan ook bekend as die eiland van “Komen en Gaan,” wat betreklik onlangs weer lewe ingeblaas is deur die verskyning van ‘n Nederlandse boek met dié naam, en wat oor die eiland handel.
Die benaming kom egter uit ‘n veel ouer era, toe talle Indonesiese eilande, waaronder Madura, deel was van die ryk van Koeblai Kahn.
Destyds moes senior amptenare wat na die eilandbesittings gestuur word en herroep word, van die beskikbaarheid van gewone handelskepe gebruik maak. So het dit nie net gebeur dat selfs die goewerneurs voortdurend “gekomen en gegaan” het nie, maar dat die kolonies selfs baie agteruitgegaan het in die langdurige afwesigheid van goewerneurs en hul administrasies. Madoera in die besonder is baie erg geraak deur hierdie “komen en gaan” van goewerneurs.
Hoewel min bronne na die uitdrukking van “Daendels van Komen en Gaan” verwys, kom dit tog voor.
Koppel hieraan Wikepedia se beskrywing na afloop van die Ghanese hoofstuk: “Eventually none of the plans came to fruition” dan is dit moontlik dat Daendels wel ‘n blywende indruk op Afrikaans gelaat het.
In die Kaap het skynbaar juis ‘n persepsie bestaan dat Daendels nie besonder bekwaam was nie. Die laaste Nederlandse goewerneur aan die Kaap, Jan Willem Jansens, het vir Daendels as goewerneur-generaal van Batavia opgevolg, en tussen dié twee was sake nie baie gemoedelik nie. Daendels het probeer wal gooi dat Jansens hom opvolg, maar hiervan het dadels gekom. Toe was Jansens weer erg krities in sy verslae oor sy voorganger – blykbaar onnodig krities.
Of die uitleg hierbo voldoende bewys dat ons “dadels van kom” met Deandels of sy wisselvorm Daedels verband hou, is ongelukkig moeilik om te bewys. Miskien moet die romantiek behou word soos wat Jan Rabie bewys het sy dorp, Onrus, se naam kom van ‘n eiland in die baai van Batavia, wat deel van die “Onrust Eilande” uitgemaak het, met ‘n melaatse kolonie op een daarvan. Onrus het ook eens ‘n kolonie vir melaatses gehuisves.
Objektief is dit geen bewys nie, maar dit is so ‘n mooi storie, ‘n mens kan dit maar gerus glo.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





