praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Tuesday, 22. May 2012

Bygewerk op:07:38:23 AM GMT

Jy is hier: Feuilleton Geskiedenis Politieke ontwaking tussen 1948 en 1966

Politieke ontwaking tussen 1948 en 1966

E-pos Afdruk PDF

Die periode tussen 1948 en 1961 kan goedskiks genoem word, die periode van Afrikaner politieke ontwaking en van ontstrengeling. Nasionale ontwaking loop uit op die politieke oorname van die regering deur die Nasionale Party van dr. D.F. Malan. Die ontwaking kan aan die opbloei van nasionalisme toegskryf word. Ontstrengeling verwys na pogings om die Britsgedomineerde eenheidstaat van 1948 uitmekaar te haal. In 1910 het die twee Britse kolonies (Natal en die Kaap) en die twee Boererepublieke (Vrystaat en van Transvaal) asook die etniese tuistes van die verskillende swart taalgemeenskappe (Transkei, Ciskei, Venda, Bophuthatswana en Zoeloeland) een multi-etniese staat geword. Die persone wat die ontstrengelingsbeleid met mindere en meerdere suksesse deurgevoer het, was:

* Daniël Francois Malan (1874-1959)

* Johannes Gerharhardus Strydom (1893-1958)

* Hendrik Frensch Verwoerd (1901-1966)

Dr. D.F. Malan, ‘n opgeleide teoloog, was ‘n politieke en kulturele leier van sy mense. Sy hoogste prioriteit was om die Afrikaners agter een ideaal te verenig. Hy het die strewe van die Afrikaner na selfrespek, selfhandhawing en erkenning verpersoonlik. In die politiek het Malan die raamwerk (apartheid) vir die opstanding en heropbou van die Afrikaner, na die Anglo-Boereoorlog en depressie van die dertigs, daargestel. Malan het die standpunt verdedig dat die Afrikaner wel die vermoë het om op sy eie (dus afsonderlike van die Engelse gemeenskap) ‘n plek van betekenis in die SA-politiek te kan inneem. As Minister van Binnelandse Sake in die Hertzog-kabinet van 1924, voer hy die Taalwet van 1925 deur die parlement, ingevolge waarvan Afrikaans die Nederlandse taal as amptelike taal vervang. In 1947 slaag Malan om Strydom en sy ondersteuners te oortuig dat samewerking met die Afrikanerparty van minister Klaas Havenga, met die oog op die verkiesing van 1948, noodsaaklik is. In 1948 wen die Nasionale Party (in samewerking met die Afrikanerparty) die verkiesing. Dr. Malan word toe eerste minister en minister Klaas Havenga die minister van finansies. Onder Malan was daar nog geen meesterplan vir die deurvoering van die apartheidsbeleid nie (apartheid, ‘n woord wat deur minister Paul Sauer gebruik is, as alternatief vir die integrasionistiese beleid van Smuts). Apartheid het toe beteken dat elke volk die reg moet kan uitoefen om homself te regeer. Die swartgebiede moes dus tot lewensvatbare state in ontwikkeling getransformeer word. Insgelyks is toegegee aan die eis van die kiesers dat kleinapartheid, dus skeiding op sosiale en elke moontlike vlak in die vier provinsies -bewerkstellig moes word. So is die Ontugwet deurgevoer wat seksuele kontak tussen blank en swart verbied. Dr. Malan tree in 1954 op ‘n hoe ouderdom uit die politiek en word deur advokaat J.G. Strijdom opgevolg.

 

Hans Strijdom is deur Piet Meiring, sy biograaf, getipeer as die “doodgewone mens onder die briljantes”. As leeu van die Noorde is sy nalatenskap sy absolute oorgawe aan ‘n ideaal om die Afrikaner as politieke mag te mobiliseer. Sy doelgerigtheid, toewyding en trou het tot politieke welslae gely. In 1918 word Strijdom – met ‘n BA en LLB – tot die Balie toegelaat en word hy prokureur op Nylstroom. Strijdom se politieke lewe begin toe die registrateur van huwelike weier om ‘n huweliksbevestigingsdokument, wat deur Strijdom in Afrikaans opgestel het, te aanvaar. Strijdom verset hom teen Hertzog se samewerkingsooreenkoms tussen die Nasionale Party en die Suid-Afrikaanse Party van Smuts. Te dien gevolge word Strijdom die medeleier van die “Gesuiwerde Nasionale Party”. In 1936 word hy die Transvaalse leier van die Nasionale Party. Sy groot bondgenoot in die politiek was toe dr. H.F. Verwoerd, die redakteur van Die Transvaler. Strijdom se aktiewe bevordering van die republikeinse model was ‘n poging om die afstand tussen boer en engelsman te vergroot. Republikanisme leef vir hom in die siel van die Afrikaner, skryf Strijdom in 1923 in Ons Vaderland. Hy het ook die Nasionale Party se territoriaalbegronde apartheidsbeleid die sentrum van sy politieke offensief gemaak. In 1958 verhoog die NP sy seteltal in die parlement van 94 tot 103. In 1958 sterf Hans Strijdom tydens ‘n siekbed van ses weke en alleen maar na vier jaar as eerste minister. Die meriete van Hans Strijdom is dat hy die grondslae help skep het vir die ingrypende transformasie van SA in die bewindsaanvaarding van dr. H.F. Verwoerd.

 

Dr. H.F. Verwoerd is in 1901 in Nederland gebore. Sy ouers het in 1903 na SA verhuis. Op ‘n vraag aan wyle oud-president C.R. Swart, wie na sy mening die man is wat die grootste indruk op Swart se lewe gemaak het, het hy sonder huiwering gesê: “Ongetwyfeld dr. H.F. Verwoerd!” Verwoerd was ‘n messias wat sy volk uit slawerny na vryheid uitgelei het. As visioenêr het hy dikwels gewaagde stappe onderneem, soos die uitskryf van ‘n referendum oor die vraag of SA ‘n republiek moes word, en gewen. In 1961 is die droom van Verwoerd bewaarheid toe die Unie ‘n Republiek buite die Britse statebond geword het. Hy is die eerste leier sedert 1910 wat die politieke debat verlê het vanaf Afrikaans-Engelssprekende verhoudinge na die eintlike vraagstuk, die kleurprobleem. As persoon was hy hardkoppig, rigtingvas, standvastig en briljant. Met sy ampsaanvaarding as eerste minister is daar wyd gespekuleer dat hy liberaal is en ‘n “k-boetie” sou wees. Verwoerd was allermins ‘n liberalis. Die mens het hy binne die konteks van gemeenskapsbetrokkenheid geplaas en ontwikkel. Hierdie ontwikkeling moes ook polities manifesteer. Sy betrokkenheid by die swartpolitiek strek voor sy ampsaanvaarding as eerste minister oor sestien jaar as minister van naturellesake. As politieke filosoof was hy in hart en niere ‘n republikein. Waarskynlik ook om pragmatiese redes, omdat hy SA wou wegstuur van die Engels-Amerikaanse invloede. Verwoerd het die bloudruk vir ‘n beleid van selfbeskikking geskryf. Verhoudinge tussen die Afrikaner- en Engelssprekende gemeenskappe sou parallelle ontwikkeling wees. Verhoudinge tussen wit en swart was een van afsonderlike ontwikkeling. Onder sy leiding is die TBVC-state (Transkei, Bophuthatswana, Venda en Ciskei) tot grondwetlike onafhanklikheid gelei. Die begrip apartheid het hy agter homself geplaas. Verhoudinge tussen die vier provinsies en die swart nasionale state (die TBVC-state) moes binne die raamwerk van ‘n konfederasie van Suid-Afrikaanse state voltrek. Kleinapartheidsmaatreëls wat ingestel was - soos werkreservering vir blankes in blanke gebiede en vir swartes in swart gebiede, afsonderlike sosiale geriewe, beperkte politieke regte vir swartes in blanke gebiede – moes as motivering dien waarom swartes na die swart nasionale state moes teruggaan. Sy ekonomiese model was een van selfsorgsaamheid vir SA. In die bewindsfase van Verwoerd was die Rand sterker as ooit. Grensnywerhede moes instromingsbeheer help keer en die slagspreuk was: neem die werk na die blyplek van die etniese gemeenskappe. Persone anders as die etniese inwoners van ‘n tuisland is alleen op ‘n agenskapsbasis toegelaat om in so ‘n etniese hartland te investeer. In die swart gebiede het blankes geen politieke regte gehad nie, beperkte ekonomiese regte geniet en is die mens in gemeenskapsverband ontwikkel. In die tydvak van Verwoerd is baie etiese vrae oor sy beleid deur onder meer teoloë gevra en beantwoord. Die beste antwoord wat gegee kan word is dat Verwoerd se nageslag in Orania presies vir die Afrikaner probeer doen, as wat Verwoerd verwag het dat die verskillende swart etniese gemeenskappe vir hulleself sou opeis: naamlik die reg op grondwetlike en etniese selfbeskikking. Van sy suksesse is die onafhanklikheidsverklaring van die TBVC-state, die Wêreldhofsaak in sake SWA wat teen Liberië gewen is, Republiekwording in 1961 en ‘n sterk en onoorwonne Nasionale Party.

Dit blyk uit die voorafgaande analise dat die politiek in die tydvak 1948 tot en met die politieke bewindsaanvaarding van dr. Verwoerd deur Afrikaans-Engelse-verhoudinge gedomineer is. Verwoerd het die etniese probleem suksesvol aangespreek. Die moord op Verwoerd was ‘n dolk in die hart van die Afrikanerdom. Na Verwoerd het die abdikasie van die politieke mag van die Afrikaner ‘n aanvang geneem. Nie net was daar ‘n gebrek aan die groter grondwetlike prentjie nie, maar pragmatisme het oorgeneem. Dit was ‘n politiek van die ad hoc hantering van staatkundige probleme. Instromingsbeheer het verval en derduisende swartes het vanuit die etniese state na die blanke provinsies gestroom. Inmiddels het politieke onenigheid gelei tot afskilferings en versplinterings. ‘n Politiesverdeelde Afrikanerdom het in die Herstigte Nasionale Party van dr. Albert Hertzog, en in die totstandkoming van die Konserwatiewe Party van dr. Andries Treurnicht gemanifesteer. Die politieke glybaan het rampspoedig geëindig, soos in hieropvolgende artikels sal blyk.

 


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: