praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Tuesday, 22. May 2012

Bygewerk op:07:38:23 AM GMT

Jy is hier: Feuilleton Geskiedenis Politieke leierskap van die Generaals tussen 1910 en 1948

Politieke leierskap van die Generaals tussen 1910 en 1948

E-pos Afdruk PDF

Die Vrede van Vereeniging wat op 31 Mei 1902 onderteken is deur leiers van die Boere en Britte het die weg geopen vir die toestandkoming van die Unie van SA in 1910. Kitchener en Milner het die verdrag names Brittanje onderteken. Aan boerekant het waarnemende president Schalk Burger van Transvaal en generaal Christiaan de Wet van die Vrystaat die dokument by die bekende Melrose House in Pretoria ondereteken. Die verdrag beëindig die Tweede Anglo-Boereoorlog en lei tot die Statuut van Westminster toe Brittanje selfregerende status aan Britse kolonies verleen het.

Generaal Christiaan de Wet (1854-1922) was ’n legende in die Vryheidsoorloë. Sy klassieke guerilla-oorlogvoering het hom een skermutseling na die ander met die Britte laat wen en so die Britse aanvoerders verneder. Die vrede van Vereeniging was vir De Wet “de begrafnis van mijn volk”.

Die volgende aspekte in die verdrag is belangrik:

· Interne selfbestuur aan die Vrystaat en Transvaal (bekragtig in 1906/7).

· Die erkenning van Nederlands as amptelike taal, as onderwystaal en as taal van die howe.

· Stemreg aan blankes in die Vrystaat asook Transvaal met die uitsluiting van swartes, maar beperkte stemreg vir gekleurdes in die Kaap.

Presies agt jaar na die einde van die Tweede Anglo-Boereoorlog en na vier jaar van onderhandelinge het die Unie van SA op 31 Mei 1910 tot stand gekom. Dit was ‘n unie van die Natalse en Kaapse Britse Kolonies en van die Vrystaatse en Transvaalse Boere-republieke. Die nuutgeskepte Unie was ‘n Britse dominium . Politieke partye wat toe op die verhoog was, het ingesluit die Suid-Afrikaanse Party en Nasionale Party wat in 1939 saamgesmelt het om die Verenigde Party (die SAPPE) te vorm.

Politieke leiersfigure wat ‘n dominante rol tussen 1910 en 1948 gespeel het, het ingesluit:

· Generaal Louis Botha (1862-1916)

· Generaal Jan Christiaan Smuts (1870-1950)

· Generaal James Barry Munnik Hertzog (1866-1942)

Generaal Louis Botha was kommandant-generaal van die Transvaalse magte in die Anglo-Boereoorlog en die eerste Eerste Minister van die Unie van SA (1910). Hy het skaars twee jaar plaasskoolonderrig geniet. In 1911 stig hy die Suid-Afrikaanse Party. Met die uitbreek van die eerste wêreldoorlog (1914) val Botha se magte Duits-Suidwes-Afrika binne en vervreem sy eie generaals van hom. Onder die opperbevel van Botha word die Rebellie van voormalige generaals S.G. (Manie) Maritz, J.C.G. Kemp, en C.R. de Wet teen die inval in Duitsewes pynlik onderdruk. Duisende Afrikaners skel Botha uit as verraaier. Dieselfde Engelse met wie hy wou versoen het Botha op 15 September 1910 in die verkiesing teengestaan en gewen. Botha word dermate neerslagtig oor sy verlies aan status onder Afrikaners dat hy by tye nie sy pligte as eerste minister effektief kon vervul nie. Daar word beweer dat Botha tydens sy ampstermyn as Eerste Minister selfdoding toegepas het en so die politieke toneel verlaat het. Die amptelike verduideliking was dat Botha aan ‘n hartaanval beswyk het. Hy kry ‘n staatsbegrafnis sonder kanonwa of swier.

Die geleerde en geëerde generaal (dr.) J.B.M. Hertzog (1866-1942) was een van die grootste seuns van SA. Hy studeer aan die universiteite van Stellenbosch (BA Regte), aan Amsterdam (doktor in die regte) en word op 29-jarige leeftyd Vrystaatse regter. As regsadviseur van die Boeremagte, tydens die Anglo-Boereoorlog, word hy in 1900 tot generaal bevorder. In 1907 word hy in die Vrystaat tot die volksraad verkies. Hy voer as Minister van Onderwys die Onderwyswet (1908) deur, wat Afrikaans as onderwystaal vestig. In 1910 word minister Hertzog minister van justisie in die Unie-parlement en in 1912 minister van naturellesake. Hertzog voer ‘n bloudruk vir segregasie deur, in die Naturellen Grond Wet van 1913. Hierdie wet beperk die regte van swartes tot die swart reservate (latere tuislande), met die uitsluiting van grondbesitsreg in wit gebiede. In 1912 hou hy sy beroemde “SA eerste”-toespraak by de Wildt, om daarmee aan te dui dat Britse belange tweede kom. In 1914 is hy medestigter van die Nasionale Party. Tussen 1924 en 1939 is hy eerste minister. By die Rykskonferensie van 1926 het Hertzog ‘n groot aandeel gehad in die aanvaarding van die Balfourverklaring. Hierdie verklaring het interne outonomie aan die Britse ondergeskikte gebiede verleen. Die ekonomiese beleid van Hertzog se paktregering (1924-1929) was ‘n suksesverhaal. Met minister Klaas Havenga as minister van finansies, is begrotingsoorskotte bereik. In die rassepolitiek het Hertzog in 1929 ‘n beroep gedoen op kiesers om “wit te stem”. Sy beleid was een van aparte ontwikkeling vir die “naturelle”. In 1933 is hy die leier van die koalisie-party bekend as die Verenigde Suid-Afrikaanse Nasionale Party. In 1936 word twee segregasiewette deurgevoer:

· die Naturelle Verteenwoordigende Wet wat rigtinggewend vir sosiale en gebiedskeiding was en

· die Naturelle Trust en Grond Wet wat die grondslag vir gebiedskeiding was.

In 1939 verwerp die parlement Hertzog se standpunt dat SA nie in die oorlog teen Nazi-Duitsland betrokke moet raak nie. Daarna vervang generaal Jan Smuts vir Hertzog as eerste minister van SA. Hertzog moet onthou word vir sy standpunt dat verdelingsgroepe in Afrikaner geledere die politieke bloedarmoede van ‘n volk is en uiteindelik tot politieke selfvernietiging lei.

Jan Christiaan Smuts (1870-1950) was eerste minister van SA vanaf 1919 tot 1924 en weer vanaf 1939 tot 1948. Alhoewel hy eers op 12 jaar skoolonderrig gekry het, het hy later as regstudent aan Stellenbosch uitgeblink . Hy word by Cambridge Universiteit onthou as een van Christ College se drie mees uitstaande studente in vyf honderd jaar (die ander twee was Charles Darwin en John Milton). Aanvanklik was Smuts besonder krities teenoor die Britse imperialisme en kolonialisme. In hierdie trant het hy ‘n boekie “Een Eeu van Onreg” (1902) geskryf, oor die lot van die Boere ten aansien van die Britse imperialisme. In die binnelandse politiek was dit sy oogmerk om nasionale eenheid onder Afrikaners en die Engelstalige gemeenskap te bewerkstellig. Aangeleenthede wat met die wit-swart-bruin-indiër-politiek te make het, het hy dikwels op die lange baan geskuif. Smuts se Wet op Stedelike Gebiede het afsonderlike woonruimtes vir swartes ingestel en ook paswette afgedwing. In ‘n Oxford-lesing het Smuts in 1929 betoog dat ‘n politiek van rasseskeiding voorkom dat swartes vereuropees en hulle tradisionele kulture kwytraak. Na die Anglo-Boereoorlog het hy egter wat die Britte betref ‘n nuwe politieke baadjie aangetrek. Die politieke filosofie van Smuts is bekend as die Holisme. Hiervolgens is die geheel altyd meer as sy konstituerende dele. Vandaar sy standpunt dat SA wel ‘n entiteit op sy eie is, maar sy internasionale heil binne die konteks van die Britse Gemenebes van Nasies moes soek. Hy was ‘n vertroueling van die Britse koningshuis en vriend van sir Winston Churchill (eerste minister van Brittanje). Te dien gevolge het hy die Britte in die Eerste en Tweede Wêreldoorloë deur betrokkenheid ondersteun. Hy was selfs lid van die Britse oorlogskabinet. Op die internasionale terrein was hy medestigter van die Volkebond (1919) en Verenigde Nasies (1945). Uiteindelik is Smuts polities verslaan toe die Nasionale Party van D.F. Malan cum Afrikanerparty van Klaas Havenga die Verenigde Party verslaan het. Met die inwyding van die Voortrekkermonument, sestig jaar gelede, was Smuts een van die sprekers, maar toe hy podium toe stap, het derduisende Afrikaners hulle rug op hom gedraai.

Uit die bogenoemde analise kan gesien word dat tot en met 1948 die politiek oorheers was deur die republikeinse ideale van “gesuiwerde” nasionaliste teenoor die pro-Britse politiek van Botha en Smuts. Die “Engelse” faktor was beslissend en oorheersend van aard en hierdie faktor loop soos ‘n goue draad deur die politiek van SA, tot en met vandag, soos later in opvolgende artikels sal blyk.

 


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: