PRAAG KLASSIEK
Soveel mense is totaal in die duister oor die byna konstante inmenging van Engelse en Brittanje in Suid-Afrika en hoeveel onreg die Afrikaner in die proses aangedoen is. Daarom het ek dit goedgedink om hierdie kort, ietwat polemiese geskiedenis daaroor te skryf.
1. 1806-1910
Kort ná Brittanje die mag in 1806 oorgeneem het, neem sir Johan Cradock en lord Charles Somerset stappe teen Nederlands en die Kaapse taal wat reeds in breë trekke Afrikaans was. Weens die propaganda van die sendelinge Read en Van der Kemp word die sogenaamde Swarte Ommegang of Rondgaande Hof in September onder Cradock se bewind ingestel, met die uitsluitlike doel om die inheemse blanke boere te teister, boere wat in 'n brief deur Read aan die Londense Sendinggenootskap as "Savage Boors" beskryf is.
"Savage Boors", "Dumb Dutchmen", "Racist Afrikaners"... klink dit dalk bekend?
In 1813 stel Cradock gratis Engelse laerskole in met die doel om die Kaapse bevolking te verengels.
Nie lank daarna nie, neem Somerset oor. Op 9 Maart 1816 volg Slagtersnek, wat een van die oorsake van die Groot Trek was, omdat dit toe reeds duidelik was dat Afrikaners van die Swarte Ommegang geen regverdige verhoor sou ontvang nie. Volgens Theal het Slagtersnek vir tagtig jaar in die openbare geheue gebly en een van die redes waarom Kruger nie die Uitlanderopstandelinge van die Jameson Raid wou ophang nie, was omdat hy nie "'n Engelse Slagtersnek" wou skep nie.
Somerset skryf op 14 Februarie 1821 aan die minister van oorlog en kolonies, graaf Bathurst, oor "the expediency of having all the schools in the colony conducted by English masters" met die doel om die kinders te verengels. Op 5Julie 1822 vaardig Somerset sy berugte proklamasie uit met die taalordonnansies wat slegs Engels as staats- en hoftaal afdwing.
Afgesien van Read en Van der Kemp, is dit veral dr. John Philip wat 'n grootskaalse propagandaoorlog teen die Kaapse Afrikaners van stapel stuur. Philip het 'n patroon gevestig wat tot vandag toe voortduur, van Engelse geestelikes, skrywers en akademici wat 'n haatveldtog teen Afrikaners voer en gedurig belaster as mense wat hul werkers onderdruk of van hul grond ontneem behoort te word. Hieronder verwys ek na Huddleston wat die primêre rol gespeel het om die vorige Afrikanerbewind tot 'n val te bring en so te sê eiehandig die ANC geskep het.
Ná Somerset neem Sir Richard Bourke in 1826 oor. In 1828 vaardig hy sy berugte Ordonnansie 49 uit wat die Xhosas die reg gee om die Kaapkolonie sonder 'n pas binne te kom, net soos wat die ANC, die huidige marionette van Brittanje, onlangs die Zimbabwiërs die reg verleen het om die Republiek vrylik binne te kom. As gevolg van Ordonnansie 49 het veediefstal epidemiese afmetings aangeneem en binne 'n kort tydjie het die grensbewoners 5 000 beeste verloor.
In April 1828 verskyn die eerste van 'n reeks bevooroordeelde en propagandistiese Engelse boeke, films en berigte deur wat die plaaslike inwoners as wreedaards en rassiste voorstel. Dit heet "Researches in South Africa" deur dr. John Philip. In 'n lastersaak na aanleiding van die boek moes Philip 'n bedrag van 200 pond en 900 pond koste aan landdros W.M. Mackay betaal wat deur Philip van "wreedheid teenoor die Hottentotte" beskuldig is.
Ordannansie 50 was 'n direkte uitvloeisel van Philip se boek en een van die vernaamste oorsake van die Groot Trek.
Die moord op Piet Retief vind plaas omdat 'n Britse sendeling, Owen, nie vir Retief wou waarsku oor Dingaan se ware bedoelings nie, hoewel hy vooraf geweet het dat die Zoeloekoning 'n massamoord op Retief en sy volgelinge beplan het.
Ná die Sandrivierkonvensie (17 Januarie 1852), wat die onafhanklikheid van die Transvaal erken, asook die Britse erkenning van die Vrystaatse onafhanklikheid op 17 Februarie 1854, is albei Boererepublieke vir enkele dekades vry van Britse verdrukking.
Maar gedurende hiedie periode blaas die Britte herhaaldelik opstand teen die Boereregerings deur swart stamme aan (sogenaamde "verstekoorlog" of "war by proxy") wat bewapen word terwyl die koloniale owerhede telkens verseg om die Boere toe te laat om wapens en ammunisie deur hul hawens in Natal en die Kaap in te voer.
Kort ná die ontdekking van diamante in 1867 begin geskille met die Transvaal oor grense want die Britte in die Kaap wou die rykdom vir hulle inpalm.
In 1877 raak Britse inmenging in ons sake baie duidelik met die eerste anneksasie van die Transvaal deur Sir Theophilus Shepstone. Danksy Paul Kruger se vasberadenheid en onverskrokkenheid, asook die Transvaal se briljante geveg by Majuba, herwin die Transvaal amptelik sy onafhanklikheid met die ondertekening van die Londense konvensie in 1884.
Maar die ontdekking van goud in 1886 laat die Britse aptyt om ons te kom plunder weer opvlam en nie lank nie of daar word 'n onverwagse militêre aanval op die Transvaal beplan.
In 1896, loods die Britte 'n staatsgreep teen die Transvaal waarby die Kaapse eerste minister, Cecil John Rhodes en hoë amptenare in Londen betrokke was.
Hierdie poging van Brittanje om die wettige, verkose regering van die Transvaal met geweld omver te werp, staan bekend as die "Jameson Raid" onder leiding van 'n Uitlanderpolitikus, Leander Starr Jameson. Op 1 Januarie 1896 word Jameson egter gestuit deur kommandant Piet Cronjé en 'n klein Boerekommando wat die Engelse rebelle ná 'n geveg naby Krugersdorp in hegtenis neem.
As gevolg van die Jameson-insident moes Rhodes as eerste minister van die Kaapkolonie bedank. Dog hierna begin die propagandaveldtog teen die Transvaal in alle erns, met die doel om 'n oorlogpsigose in Brittanje te skep. Die held van dié veldtog is die skrywer van "Jock of the Bushveld", sir Percy Fitzpatrick, wat 'n politieke boek onder die titel "The Transvaal from within" publiseer. Ook die Uitlanderkoerante in Johannesburg soos The Star en van die Kaapse Engelse koerante doen hul uiterste bes om die klimaat vir oorlog te skep.
Die pragmatiese, goeie, godsdienstige Boere met hul aangebore sin vir regverdigheid staan feitlik alles toe wat die Uitlanders verlang, tot die stemreg ná 'n verblyf van sewe jaar. Hulle mag Engelse skole en kerke hê, mag Engelse in die laer howe gebruik en in die Johannesburgse munisipaliteit, alles regte wat hulle nog nooit aan ons wou toestaan nie en wat ons tans onder die ANC ook nie meer geniet nie.
Maar dit alles is nie genoeg nie. Soos Paul Kruger uitgeroep het: "Dis nie die stemreg wat julle wil hê nie, dis my land!"
As mev. Gezina Kruger die nuus van die Britse ongevalle by Spioenkop ontvang, bid sy vir die Engelse moeders wat die nuus van hul seuns se dood gaan aanhoor voordat sy aan haar eie volk se ongevalle dink. By Magersfontein laat De la Rey Engelse krygsgevangenes vry sodat hulle behandeling in hul eie, beter toegeruste veldhospitale kan ontvang.
Die Engelse veg egter nie oorlog volgens sulke beskaafde reëls nie. Trouens, al die oorlogsmisdade wat die Engelse later in die twintigste eeu voor Hitler en die Nazi's se deur sou lê, pleeg hulle reeds tussen 1900 en 1902 in Suid-Afrika. Onder Roberts en Kitchener volg die verskroeide-aardebeleid wat niks ontsien nie. Alles wat Afrikaners besit of in die Vrystaat en Transvaal opgerig het, word voor die voet afgebrand - kerke ingesluit - en die vroue en kinders word in die middel van die winter op goederetreine na die konsentrasiekampe vervoer.
Hoewel volksmoord nie die verklaarde bedoeling van dit Britse leër in Suid-Afrika was nie, kan mens tog uit hul handelinge en hul herhaalde pogings om ons taal, kultuur, vryheid en volkskap te vernietig, aflei dat dit by verstek wel om volksmoord gegaan het.
In die kampe het die sterftesyfer op 'n stadium 34% behaal. Selfs tydens die oorlog word die verengelsing van die oorblywende kinders in die vooruitsig gestel in 'n brief van Sargent aan Milner.
Ná 1902 volg Milner dit op met sy verengelsingsbeleid in die skole. Die trotse Gimnasium of hoërskool wat in Pretoria deur Paul Kruger opgerig is, word verander na Pretoria Boys' High, wat tot vandag toe 'n Engelse skool sou bly.
By Uniewording in 1910 word "tweetaligheid" as beginsel in die grondwet aanvaar, maar dit sou eers veel later onder Hertzog in 1925 toegepas word. Toe die eerste aansoeke om Afrikaanse hoërskole aan die Rand by die onderwysdepartement ingedien word, skryf The Star in 'n hoofartikel: "There is something rotten in the state of Denmark." Die Engelse pers is met afgryse vervul deur die gedagte dat daar Afrikaanse hoërskole sou ontstaan en dat die "winste" van die oorlog om Engels as landstaal te vestig daarmee in die gedrang sou kom.
Uit die Britse beleid tydens die negentiende en vroeë twintigste eeue kan ons dus die volgende gevolgtrekkings maak:
Engeland sou voor niks stuit om sy wil op die Afrikaner af te dwing nie. Oorlog teen vroue en kinders, terreur, verstekoorlog, haatspraak, die verspreiding van leuens en halwe waarhede, die belastering van Afrikaners, is alles metodes wat na willekeur gebruik kan word om Engelse strategiese, ekonomiese, godsdienstige en militêre doelwitte te bereik. 'n Geval van "die doel heilig die middele". Afrikaans, die Afrikaneridentiteit, Afrikanergrondbesit en -landbouproduksie, asook Afrikaanse instellings soos skole, kerke en universiteite, word as ongewens beskou omdat dit tot weerstand teen die Britse totaaloorheersing aanleiding kan gee. Die aanspraak van die Afrikaner op taalregte, menseregte, selfbeskikking en volksvryheid word deur Engelse as ewe lastig gesien. Waar sulke regte tydelik erken of eerbiedig word, geskied dit halfhartig en verteenwoordig bloot 'n voorspel op 'n volgende hoofstuk waarin oorlog, etniese suiwering of verdrukking gaan volg.
Deur die gebruik van sendelinge, vyandige stamhoofde, verraaiers en hensoppers in eie geledere, het die Engelse dit reggekry om vir die grootste deel van die afgelope 200 jaar in Suider-Afrika die Afrikanervolk te onderdruk en so byna-byna te vernietig.
Volksmoord volgens sy twee definisies: etnoside (uitwissing van die vyandelike volk se taal, kultuur en identiteit) of selfs genoside (die fisieke uitwissing van die vyand se bevolking) is reeds 200 jaar lank Britse beleid jeens Afrikaners en die huidige bestel verteenwoordig bloot die voortsetting daarvan.
Kort ná die tweede wêreldoorlog het die Nasionale Party egter op 26 Mei 1948 'n merkwaardige oorwinning by die stembus behaal. Vir die eerste keer ná 1902 het Afrikaners gedeeltelik aan Engelse oorheersing ontkom en het Afrikaans as taal veral in die sestigerjare 'n geweldige opbloei beleef, met 'n opbloei in die ekonomie en nywerheidsontwikkeling.
Die aanloop tot daardie verkiesing, asook die Engelse reaksie daarna, sal die tema van 'n volgende aflewering van my beknopte geskiedenis van die Britse rol in die Afrikanergeskiedenis uitmaak. Ek sal ook uitwys in watter mate Britte en Brittanje 'n sleutelrol gespeel het om De Klerk tot oorgawe te dwing en ons permanent van alle politieke mag of inspraak in Suid-Afrika te stroop. Dit verteenwoordig die Endlösung of "finale oplossing" wat Brittanje vir die "Afrikanerprobleem" in Suid-Afrika in die vooruitsig stel. Soos 'n BBC-kommentator teenoor Tony Leon tydens die program "Hard Talk" opgemerk het: "Indien die Afrikaners nie tevrede is (met permanente tweedeklasburgerskap, asook diskriminasie op grond van ras en taal) nie, het hulle die keuse om te emigreer."
2. 1910-1948
In die tydperk 1910-1948 voer die Afrikaner 'n ekonomiese en kulturele stryd om oorlewing. As gevolg van Milner se verengelsingsbeleid via die skole word die sogenaamde CNO-skole gestig. Hoewel daar steeds Afrikaanse laerskole was, bestaan daar min of geen Afrikaanse hoërskole. Dr. William Nicol, wat 'n groot rol aan die Rand gespeel het in die beweging vir Afrikaanse onderwys, sou praat van die "verlore geslag" wat weens 'n gebrek aan Afrikaanse skole eenvoudig verengels het. Trouens, in 'n hoë mate - en met die uitsondering van Natal - bestaan daar nie iets soos "Suid-Afrikaanse Engelse" nie, aangesien 'n groot persentasie van hulle Afrikaners is wat oor die afgelope 200 jaar verengels is. Tydens verskeie tydperke van Britse bewind of Britsgesinde bewind, is verdeeldheid tussen Afrikaners gesaai, met die mees Britsgesindes wat na die Britse kultuur oorgegaan en gewoon verengels het. Sommige van hulle het hul Afrikaanse vanne behou, ander weer het weens ondertrouery hul Afrikaanse vanne verloor.
Net voor 1920 begin die gedagte van Afrikaanse hoërskole sterk momentum verkry. Oor die volgende twintig jaar sou letterlik honderde Afrikaanse hoërskole regoor die land tot stand kom.
Ook die Viktoria-kollege word danksy die erflating van Jannie Marais van Stellenbosch 'n universiteit waar Afrikaans gou-gou die voertaal word. Op Potchefstroom het die Universiteitskollege wat uit 'n Teologiese Skool en 'n "Literariese Departement" bestaan het, vanuit Nederlands in Afrikaans ontwikkel. In 1905 is die kollege van Burgersdorp na Potchefstroom verskuif en in 1919 word die "Literariese Departement" vir subsidiedoeleindes van die Teologiese Skool geskei en onstaan "Het Potchefstroom Universiteitskollege voor Christelike Hooger Onderwijs".
Vandag kan ons ons nouliks die opwinding van die twee dekades 1920-1940 voorstel toe Afrikaans as't ware uit die niet as skool-, universiteits- en wetenskapstaal na vore tree. Dit is ook die tyd van die Tweede Taalbeweging en van die Dertigers soos N.P. van Wyk Louw en Uys Krige wat die poësie tot groot hoogtes voer. In die prosa verskyn 'n hele aantal romans oor die armblankevraagstuk deur Van Bruggen en ander. Van Melle publiseer sy klassieke roman, "Bart Nel" oor die rebellie. In C.M. van den Heever se roman "Laat vrugte" word 'n naturalistiese beeld van die Afrikanerboer op die platteland gegee en soos by Emile Zola is hy onderworpe aan die kragte van die natuur, aan groei, wasdom en uiteindelike verswakking en verval.
Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 kies Botha en Smuts kant vir Engeland teen Duitsland en Suid-Afrika veg aan die kant van dieselfde moondheid wat net 'n dekade vantevore 'n kwalik bedekte beleid van volksmoord teen die Afrikaner gevoer het. Dit lei tot die Rebellie, waartydens Koos de la Rey in 'n skietvoorval sterf, verskeie Afrikaners in die tronk beland en Jopie Fourie voor die vuurpeleton sterf. Voor sy teregstelling sê Jopie Fourie:
"Nou moet ek sterwe, omdat ek getrou gebly het aan die dinge waaronder ek gebore is en waarvoor ek altyd geveg het. Aan my word geen genade betoon nie, hoewel ek toevalligerwyse die seun was wat onder die wit vlag uitgegaan het om die oorgawe van dr. Jameson te aanvaar, en nou is hy sir Starr Jameson, terwyl ek doodgeskiet moet word."
En ook: "Die boompie wat vandag geplant en met my bloed benat word, sal groei en groot word, en heerlike vrugte vir ons volk dra."
In G.D. Scholtz se "Ontwikkeling van die politieke denke van die Afrikaner" wat 8 bande en meer as 3000 bladsye en byna twee miljoen woorde beslaan, skryf hy in deel VIII (1939-1948) dat die stryd om oorlewing vir, soos hy dit noem, "die Afrikaanse volk", nie so fel sou gewees het indien dit nie vir genl. J.C. Smuts was nie. 'n Bekende tema in die Suid-Afrikaanse geskiedenis is "nasiebou en eeheid" en nadat hy aanvanklik as staatsprokureur onder Paul Kruger en Boeregeneraal geveg het, wy Smuts hom geheel en al aan die Britse ryksideaal, asook
Van 1919-1924 is hy eerste minister van Suid-Afrika en tree hy genadeloos teen die stakende mynwerkers in 1922 op. Dit lei tot 'n koalisie tussen J.B.M. Hertzog se Nasionale Party en die Arbeidersparty sodat eersgenoemde in 1924 by Smuts oorneem. Onder Hertzog kry die beweging van Afrikaner-nasionalisme en vir 'n eie taal en kultuur verder momentum. In 1928 word die oranje-blanje-blou vlag en "Die Stem" van C.J. Langenhoven in die plek van die Union Jack en God Save the King aangeneem, hoewel die twee vlae en twee volksliedere nog vir baie jare naas mekaar sou bestaan.
In die dertigerjare neem die druk vir Afrikaanse universiteite in Pretoria en op Bloemfontein toe. Die digter Eitemal (W.J. du P. Erlank) verbrand uit protes teen die Engelse taalbeleid 'n Britse vlag op die kampus van die destydse Transvaalse universiteitskolleg, waarna hy geskors word. Maar die beweging kan nie gestuit word nie en die UP word 'n Afrikaanse universiteit, asook die UOVS ietwat later.
Sowel Hertzog as Smuts glo dat 'n vorm van apartheid die beste stelsel is om die blanke beskawing in Suid-Afrika te beskerm. Wit en swart moet hul eie geografiese gebiede hê en dit bekommer Hertzog veral dat swartes deur hul vinniger bevolingsgroei uiteindelik die blankes en Afrikaners in hul eie gebied mag verdring.
Maar in 1934 vind een van daardie periodieke episodes van broedertwis onder Afrikaners plaas toe Hertzog besluit om met Smuts se Suid-Afrikaanse Party saam te smelt en die Verenigde Party te vorm. Die Nasionale Party skeur in twee en vier LV's onder D.F. Malan vorm die Gesuiwerde Nasionale Party. In die Transvaal beskik hulle oor net een LV, die latere eerste minister J.G. Strijdom, die lid vir Waterberg. By sommige vergaderings wat hy toespreek, daag net vier mense op, maar hy gooi nie tou op nie.
By hierdie punt sou die pro-Britse beweging in die land, wat oor die jare ook baie nou met die mynhuise verbind was, waarskynlik geseëvier het. Die Gesuiwerde Nasionale Party het oënskynlik geen steun nie, nie veel geld nie en al die koerante in die land - Engels en Afrikaans - ondersteun die sogenaamde Smelterbeweging.
In die redaksiekantoor van 'n enkele Afrikaanse koerant word daar egter indringend oor die Smelterkwessie gedebatteer, te Keeromstraat, Kaapstad. Die redakteur van Die Burger, dr. A.L. Geyer, is op die oog af geen joernalis nie, het in Europa gestudeer en stel nie vreeslik in nuus belang nie. Hy is ook 'n ywerige versamelaar en kenner van orgideë. Die Burger, anders as Die Vaderland of Die Volksblad, besluit om sy gewig agter die Gesuiwerdes in te werp, stroomop. A.L. Geyer en sy spotprentkunstenaar, die talentvolle D.C. Boonzaaier wat self verkies om Engels te praat, werp alles in die stryd om Smuts se Verenigde Party te bestry. Rondom 1939 stig H.F. Verwoerd en drie ander op die parlementêre trein op pad Kaap toe nog 'n pro-Nasionale koerant, Die Transvaler.
Onder die Smuts-regering poog die Engelssprekendes en die pro-Britse Afrikaners om alles wat die Afrikaane beweging onder Hertzog tot stand gebring het, af te takel. Allerlei maatreëls word bespreek en getref om "tweetaligheid" in die skole terug te bring. Die ongeskrewe wet van tweetaligheid was dat Engels as taalmedium in Afrikaanse skole teruggebring moes word, terwyl die Engelse skole natuurlik in Engels sou voortgaan.
D.F. Malan verwys na die veertigerjare as die "derde taalstryd". In Natal, waar Afrikaanse skole net met groot moeite opgerig kon word aangesien die provinsie nie onafhanklike beheerrade by skole toegelaat het nie en alles sentraal afgedwing het, is die getal leerlinge by die Afrikaanse skole beperk. As 'n skool dus "vol" was, moes 'n kind desnoods na 'n Engelse skool gaan. In die res van die land word 'n bedrag van 100 000 pond ingesamel om die Afrikaanse skole in Natal te hulp te snel.
"Tweetaligheid" word ook vir die Afrikaanse universiteite aanbeveel, wat sou beteken dat Engels weer die oorheersende taal aan die vier Afrikaanse universiteite sou word.
Tydens die tweede wêreldoorlog woed 'n verbete stryd tussen die pro-Duitse Ossewabrandwag en soldate van die Smutsregering. Nie net word Afrikaners (soos B.J. Vorster) krygsgevangenes nie, maar in Pretoria word pro-Duitse Afrikaners in die tronk doodgemartel.
Ná vredesluiting in 1945 woed die stryd tussen Nat en Sap voort. In een berugte geval breek gevegte met knuppels tussen soldate en O.B.-lede by die kantore van Die Transvaler in Braamfontein, Johannesburg uit.
Indien Smuts, soos hy verwag het, die 1948-verkiesing sou gewen het, sou die vele maatreëls om Afrikaanse skole en universiteite weer te verengels waarskynlik geslaag het. Onder 'n pro-Britse regering sou Suid-Afrika nooit weer 'n republiek geword het nie. En indien die liberales of progressiewes soos mev. Helen Suzman en mnr. Harry Oppenheimer hul sin gekry het, sou Suid-Afrika, soortgelyk aan die ander Britse kolonies soos Kenia, Zambië en die oud-Rhodesië, waarskynlik veel vroeër tot eenvoudige swart meerderheidsregering ingestem het. Moontlik sou Nelson Mandela, Bram Fischer en ander lede van die ANC-SAKP-alliansie nooit tronk toe gegaan het, maar Suid-Afrika sou net soos die ander Britse kolonies vandag 'n derdewêreldstaat gewees het wat van Britse voedselhulp afhanklik is. Maar die myne sou nog steeds hul grondstowwe gelewer het, wat al is wat ooit vir die Britte van belang was.
By Jalta het Churchill die Westerse wêreld uitverkoop, net soos wat Brittanje die blankes van die oud-Rhodesië en Suid-Afrika, wat hulle in twee wêreldoorloë ondersteun het, in die rug sou steek.
Deur Brittanje se strategiese besluit om die hele Oos-Europa, waaronder Oos-Duitsland, aan Stalin van Rusland oor te dra, het hy die Koue Oorlog moontlik gemaak. Die Koue Oorlog, of die einde daarvan, sou ook uiteindelik tot die val van Suid-Afrika en die Afrikaner aanleiding gee.
Soos die linkse skryfster Nadine Gordimer in haar gevleuelde prosa iewers geskryf het, het sy nooit in haar wildste drome op die Oosrandse dorp Springs waar sy grootgeword het, kon dink dat die armoedige kaalvoet-"Japies" soos sy hulle noem, ooit die land sou regeer nie. Ook die Britsgebore historikus aan Wits, Arthur Kepple Jones, het in sy satiriese toekomsroman "When Smuts goes" 'n donker toekoms vir die land onder die Nasionale Party voorspel. Indien dit sou gebeur, sou die land teen 1977 heeltemal in duie stort weens rassekonflik en 'n fascistiese regering wat al hoe dommer en ongenaakbaarder sou optree.
Die 1948-verkiesing het beswaarlik oor die woord "apartheid" gegaan. In elk geval was Smuts geen voorstander van swart meerderheidsregering nie. Trouens, hy het verskeie kere in sy lewe gesê dat "politiek vir die swartman" net tot sy nadeel sou wees en tot die ondergang van die blanke beskawing in Suid-Afrika aanleiding sou gee.
Die Boer-Britstryd, asook die taalstryd en die toenemende bedreiging vir Afrikaanse skole en universiteite, het waarskynlik 'n veel groter rol gespeel om die Afrikanerkiesers in 1948 te oorreed om vir die Nasionale Party te stem. Dit het alles 'n bietjie futiel gelyk, want onder die Smutsregering is daar beplan om 2 000 000 Britte na Suid-Afrika te laat immigreer, wat die skamele 1 350 000 Afrikaners demografies sou oorspoel en hulle vir altyd polities magteloos sou laat, min of meer soos ná 1994. Die Johannesburgse koerant The Star het na die Afrikaners se teenkanting teen grootskaalse Britse immigrasie in 1947 as "Middeleeus" verwys.
Onder andere het die Smutsregering alle staatsamptenare verbied om aan die Broederbond te behoort. Een so 'n Broederbonder, W.C. du Plessis, het verkies om eerder sy betrekking te laat vaar as om te bedank. Hy was heeltemal onbekend, maar het hom in die kiesafdeling Standerton teen die wêreldberoemde veldmaarskalk Smuts, gesogte raadgewer van die Britse kabinet en koninklike familie, as kandidaat gestel. Waarskynlik is hy in sy oormoed uitgelag. Wie sou ooit kon dink dat hy teen Smuts kon wen?
In sy boek "Stryd om ewewig" vergelyk C.M. van den Heever, die aantrekkingskrag van die Britse kultuur met dié van lig. Soos die mot die kers aantrek, so trek die Engelse kultuur ander na hom aan. Vir vele Afrikaners oor die afgelope twee eeue was dit so en in die laat veertigerjare van die vorige eeu het die glorie van die Britse ryk nog steeds vir baie Afrikaners helder geskyn. Deels omdat hy gevoel het dat die Verenigde Party se aanhang besig is om te taan, het Smuts in 1947 die Britse koningsgesin na Suid-Afrika genooi in die hoop dat die besoek sy party se aansien sou laat styg.
Terwyl die Engelse pers oor die koninklikes geswymel het, het Verwoerd se Transvaler op die tweede bladsy verwys na verkeersopeenhopings wat Britse toeriste in Johannesburg veroorsaak het. Ná sy terugkeer in Brittanje het die Britse koning egter gesê: "if he had to single out the most stirring of the many recollections of his tour, it would be his realisation that the faith of South Africans in Britain is not only unimpaired, but has become stronger on account of her unflagging effort in war and peace".
Op 26 Mei 1948 het Suid-Afrika na die stembus gegaan in 'n verkiesing wat aardskuddende gevolge vir Suid-Afrika, asook die land se koloniale verhouding tot Groot Brittanje, sou hê. Dit sou ook die radikales met nuwe ywer vervul om dit wat hulle nie deur die stembus kon verkry nie, met geweld en terreur op die land af te dwing. Sowel Bram Fischer as sy vrou Molly het in Johannesburg vir die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty in werkersklasbuurte probeer staan, maar kon geen hond haaraf maak nie.
Die onbekende staatsamptenaar en Broederbonder wat eerder bedank het as om sy organisasie vaarwel te roep ('n mens wonder hoeveel Afrikaners vandag enige Afrikaanse organisasie bokant hul betrekking of posisie sou verkies), Wentzel du Plessis, beskryf die aankondiging van die uitslag op Standerton soos volg:
"Toe die landdros die klein groepie in die hofsaal (dit was onmiddellik nadat die stemtellery afgelope was) sê dat ek die oorwinnaar was, kon die atmosfeer met 'n mes gesny word. Daar was geen kabaal nie. Daar was stilte, want die lotsbestemming het gepraat - met 'n diep stem. Die geluid is weerkaats in die grot van die tyd en daarom was dit stil, vir eers... Die landdros moes die proklamasie uitskryf, maar hy kon nie skryf nie vanweë die bewing van sy hand. 'Landdros, jy moet skryf,' het ek gemaan, 'hier staan meer as duisend mense voor die deur en die uitslag kan nou uitlek na hulle toe.' Die landdros... het sy regterhand met sy linkerhand vasgehou en bewend geskryf.
Nou moes dit aangekondig word buite, maar nog nie afgekondig word oor die radio nie, want iemand moes eers na Irene (die woonplek van Smuts) gestuur word om die berig aan genl. Smuts persoonlik oor te dra. Die bietjie van die groot leed wat ons kon bespaar, sou bespaar word.
Die voordeur (van die landdroskantoor) word oopgesluit en 'n yslike stilte daal neer oor die groot skare. Vrae skiet soos vonke uit meer as twee duisend oë. Die landdros begin lees, maar kom net tot by my naam... en toe breek die opgelaaide spanning los in 'n kabaal soos ek nog nooit beleef het nie."
Smuts was 'n gebroke man en het nie te lank na die verkiesing nie, op 11 September 1950 gesterf.
D.F. Malan het die Nasionale Party se onverwagse oorwinning as 'n "wonderwerk" beskryf.
Vir baie Engelse en Britsgesindes in die land was dit egter geen wonderwerk nie, maar 'n ramp. Sekerlik in die huis van advokaat Bram Fischer en ander lede van die Kommunistiese party, was dit geen blye dag nie. Die Engelse pers in Suid-Afrika het 'n atmosfeer van rou geskep en in Natal was daar dreigemente van afstigting van die Unie.
Bram Fischer was 'n Rhodes-beurshouers aan Oxford en is tydens 'n Europese studentekongres in die vroeë dertigerjare tot die kommunisme bekeer. 'n Britse tydgenoot van hom het in die gees van Britse sosialisme, die "Fabiaanse sosialisme" grootgeword en hom as priester in die Anglikaanse kerk bekwaam.
Kort voor die einde van die tweede wêreldoorlog in 1945 het dié jong, sosialistiese Britse kerklike, sy gasmasker tydens die uitvaart van die skip uit Southampton oorboord gegooi en begin uitsien na sy nuwe lewe in Suid-Afrika. Ook hy is geskok deur die NP-oorwinning by die stembus in 1948 en hy sou die res van sy lewe daaraan wy om dit ongedaan te maak.
Dié man se naam was Trevor Huddleston. Kort ná 1948 sou hy hom midde-in 'n magstryd rondom die beheer oor swart onderwys in Suid-Afrika bevind teen die Nasionale Partyminister vir Naturellesake en voormalige redakteur van Die Transvaler, die bekende H.F. (Hendrik) Verwoerd. Nie net het hy Desmond Tutu op die ouderdom van 13 onder sy vlerk geneem en vir hom sekere boeke gegee om te lees nie, maar by die eerste protesvergadering wat hy teen Verwoerd se beleid in die destydse Sophiatown sou organiseer, sou hy 'n swart prokureur van Johannesburg vra om saam met hom op die verhoog te verskyn, ene Nelson Mandela.
Hoe minder die Britse invloed in Suid-Afrika, hoe meer sou die verhouding tussen die Afrikaner en Brittanje versleg. Die Koue Oorlog wat Churchill ontketen het deur Rusland tot in Wes-Europa toe te laat, het enorme druk op Suid-Afrika geplaas wat in Suider-Afrika feitlik alleen gestaan het en in sy naïwiteit die "Westerse belang" in Angola en elders verdedig het. Afrikanerbloed is gestort vir die Weste in sy konflik met Rusland, maar uiteindelik is die Afrikaner deur sowel Amerika as Brittanje verraai en op die ashoop van die geskiedenis gegooi waar hy hopelik spoedig sou vergaan.
Brittanje sou voortaan 'n dubbele spel teenoor Suid-Afrika speel. Enersyds sou sy haar bande met Suid-Afrika probeer behou en andersyds die radikale beweging steun wat sou poog om die NP-regering met geweld omver te werp en sosialisme of kommunisme in te stel. Hierin sou die Arbeidersparty en die Anglikaanse kerk 'n sleutelrol speel, met Vader Trevor Huddleston vooraan.
Vir 'n dekade of twee ná 1948 sou die Afrikaner gedra word deur die ywer van 'n nuwe geslag wat sonder die vreemde juk van Brittanje en Engelse instellings sou grootword. Die eens verdrukte taal Afrikaans het begin bloei en vroeg in die sewentigerjare het die destydse redakteur van die Sunday Times, Ken Owen, die vrees uitgespreek dat Engels uiteindelik in Suid-Afrika sou verdwyn omdat dit nie meer in die parlement, in die kabinet, in die staatsdiens, in die weermag en selfs in die tuislandadministrasies deur swartmense gepraat word nie. Die wêreldtaal, Engels, het in Suid-Afrika 'n taal sonder mag geword en daar is aan sy voortbestaan hier te lande getwyfel. Terwyl "tweetaligheid" voorheen gebruik is om Afrikaans dood te maak, is die Nasionale Party se tweetaligheid aangewend om Engels lewend te hou. 'n Strategiese fout deur die goedhartige, naïewe Afrikaners.
Elke keer as Engelse of Britsgesindes in Suid-Afrika aan die mag gekom het, selfs al was dit in 'n koalisie met Afrikaners soos in die veertigerjare, het hulle - soos tans - feitlik onmiddellik probeer om Afrikaans uit te roei en die Afrikaner se identiteit te vernietig. Hierteenoor het die goeie, ordentlike Afrikaner Engels tydens die jare van Afrikanerregering lewend gehou en rojaal gesubsidieer.
In die Koue Oorlog wat tussen Brittanje en die Afrikaner tussen 1948 en 1994 sou woed, sou die Britte geen genade betoon nie. Dit was weer 'n verskroeide-aardebeleid, net in 'n ander vorm.
In 'n derde aflewering, sal ek enkele minder bekende aspekte van die Boer-Britstryd oor die afgelope sestig jaar onthul, soos byvoorbeeld: Wie het Verwoerd vermoor? Waar het die geld vir die ANC se sogenaamde "struggle" vandaan gekom? Wie het gesorg vir sanksies teen Suid-Afrika? Het PW Botha regtig beroerte gekry?
Gaan voort na deel II.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





