praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Tuesday, 22. May 2012

Bygewerk op:07:38:23 AM GMT

Jy is hier: Feuilleton Gedigte Bedreiging van die lewendes

Bedreiging van die lewendes

E-pos Afdruk PDF

(met apologie aan Breyten Breytenbach)

 

Dames en here, vergun my om u voor te stel aan haar,

nie so maer; sy dra groen oë

en trek haar gebleikte hare om by die swart

wortels vir u ’n gedig uit te grawe        soos byvoorbeeld:

ek is bang om my oë uit te haal

én te sien wat aangaan

die hospitale van my land is stampvol gaterige mense

wat die vensters en die mure

die strate en die sypaadjies afgeslag

en glibberig rooi reën

 

my oë staar styf

ek/jy word op so ’n koeëldag begrawe

as vroue swart gesaad is        rou

die blare en blomme knak nat

die lig is weggeknaag die lug sweet wit bloed

maar ek sal weier om my oë te stil

 

knip die benerige vingers af

té pyn vir die mond om ooit te sê

trek stewels aan vir skop

sodat die dood hoorbaar die voete soen

swart kantel die gladde bekke metaal, bloeisels knal rooi

prewel vir ons groen gebede, o monnike!

 

plant ons heuwels vol verskeurde oorblyfsels van die leeubekke

hulle sal op ons grafte kak

in oop riole

kranksinnig en geslepe dwaal hulle sonder siele

vrese vrese vrese deurweek koppe

en my tong sal weier om my pen te troos

 

Kyk, hulle is erg skadelik; reken hulle elke kwaad toe.

[Met verwysing na Breyten Breytenbach se gedig “Bedreiging van die siekes”, soos gepubliseer in die bundel Die ysterkoei moet sweet, Afrikaanse Pers-Boekhandel 1964.]

 


blog comments powered by Disqus