(met apologie aan Breyten Breytenbach)
Dames en here, vergun my om u voor te stel aan haar,
nie so maer; sy dra groen oë
en trek haar gebleikte hare om by die swart
wortels vir u ’n gedig uit te grawe soos byvoorbeeld:
ek is bang om my oë uit te haal
én te sien wat aangaan
die hospitale van my land is stampvol gaterige mense
wat die vensters en die mure
die strate en die sypaadjies afgeslag
en glibberig rooi reën
my oë staar styf
ek/jy word op so ’n koeëldag begrawe
as vroue swart gesaad is rou
die blare en blomme knak nat
die lig is weggeknaag die lug sweet wit bloed
maar ek sal weier om my oë te stil
knip die benerige vingers af
té pyn vir die mond om ooit te sê
trek stewels aan vir skop
sodat die dood hoorbaar die voete soen
swart kantel die gladde bekke metaal, bloeisels knal rooi
prewel vir ons groen gebede, o monnike!
plant ons heuwels vol verskeurde oorblyfsels van die leeubekke
hulle sal op ons grafte kak
in oop riole
kranksinnig en geslepe dwaal hulle sonder siele
vrese vrese vrese deurweek koppe
en my tong sal weier om my pen te troos
Kyk, hulle is erg skadelik; reken hulle elke kwaad toe.
[Met verwysing na Breyten Breytenbach se gedig “Bedreiging van die siekes”, soos gepubliseer in die bundel Die ysterkoei moet sweet, Afrikaanse Pers-Boekhandel 1964.]
| < Vorige | Volgende > |
|---|





