praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Tuesday, 22. May 2012

Bygewerk op:07:38:23 AM GMT

Jy is hier: Feuilleton Algemeen Praag-onderhoud met Steve Hofmeyr

Praag-onderhoud met Steve Hofmeyr

E-pos Afdruk PDF
Wie en wat is Steve Hofmeyr?

Herbesinner van identiteit, herontdekker van grondslag, ewige bewonderaar van die lewe, gelowig maar nie bygelowig, lid van die mees dinamiese Afrikastam ooit, effe oorgretig maar nie ongeduldig, taaltrots maar nie puriteins nie en ’n softie in die aangesig van grootsheid, gediggies en melkkos. Wat ek weet, lê in die wetenskap en wat ek glo, heet geloof. Ek is die somtotaal van daardie twee aksies: kennis en Godsbeskouing. Ek is die hoëpriester van dankbaarheid. Ek is ’n lewensvraat en lees oor die plekke waar my ondervinding ophou. Ek is ’n Bloubul, ’n Afrikaner, ’n Suid-Afrikaner, ’n vader en as ek my Virgo-brein om iets kan kry, dink ek daaroor. My ure word opgeneem deur debatteer, retoriek, geselsprogramme, konserte, opnames, skryf en allerbelangrik: kreatiwiteit.

Wat is jou ideaal vir die Afrikaner?

Net sy regverdige porsie bemagtiging. Niks meer of onrealisties nie. Die vierkleur moet weer wapper, maar nie noodwendig voor die Uniegebou nie. As mense die speelveld gelykmaak, presteer die Boer in doelgerigtheid en werksetiek soos min volke wat ek ken. Selfbeskikking, die fisiese en geestelike ruimte daarvoor, Afrikaanse skole en universiteite (ten minste een!) en erkenning vir my taal as die grootste Afrika-bydraer tot die wêreld- literêre biblioteek. My ideaal is groter postmatriekvooruitsigte vir my kinders as ’n eenrigtingkaartjie Londen toe. Ek vra nie ’n onrealistiese, sondelose, misdaadvrye land nie, maar ’n land wat ten minste net gemiddelde statistiek bied eerder as hierdie patetiese gespartel op internasionale lewensverwagting-, ekonomiese, korrupsie-, moord-en-doodslagindekse.

Dink jy Afrikaanse kunstenaars en sangers sal 'n beweging vir Afrikanervryheid steun?

Te min kunstenaars sal hul gewildheid op die brandstapel van politiek waag. Ek voel tog ’n bepaalde trots aan by Afrikaanse konserte, maar op die nasionale verhoog val almal skielik vir die propaganda dat daar geen onderskeid is tussen die diverse en wonderlike nasies in een land nie. Baie kan gebeur, afhangend van presies hoe jy hierdie vraag stel.

Sedert die fameuse braaivleis met president Jacob Zuma in Houghton, het daar intussen iets gebeur?

Eintlik niks. Almal word uitgeboul deur die president se sjarme, maar soos sy voorganger het hy uiteindelik ’n toeskouer geword wie se persoonlike lewe deur die belastingbetaler gesubsidieer word. Sy laaste uitnodiging (na ‘n dinee met Afrikaners by die presidensiële ampswoning) het ek geboikot weens sy apatie en verlamming teenoor sy klein koorleiertjie se repertoire (“Skiet die Boer”). President Zuma is die model- BEE-spons en man-alleen verantwoordelik vir die klimaat van skuld wat dit onder swartes teenoor wittes skep.

Hoe hard werk jy?

My alie af. Maar dit is die probleem met passie, jy weet nie waar en wanneer om te stop nie. Ek sien steeds ten minste 3000 Suid-Afrikaanse konsertgangers weekliks en probeer tussenin balans handhaaf met my familielede, skrywe, sosiale media, verskynings, liefdadigheid. Maandae en Dinsdae is ek sokkermamma...

Dink jy die media en veral Naspers se hantering van jou persoonlike lewe was tot dusver eties?

Eties, Naspers, media, tabloids en paparazzi mag nooit in een sin genoem word nie. Teenoor die verlamming van die persombudsman verlang ek na ’n sterker orgaan om die magtigste instelling ter wêreld vandag, die media, dop te hou. ’n Tribunaal kan goed te pas kom. Daarna moet ons uitvis wat die verskil tussen “public interest” en “interesting to the public” is, sodat bekendes dieselfde grondwetlike regte as enige ander burger mag geniet.

Jy sing, skryf boeke, kommunikeer op sosiale webwerwe soos Facebook en Twitter. Wat doen jy nog wat van belang is?

Ek raak verlief. Kyk rugby. Ek slaap soms. Elke uur op die pad lees ek. Ek doen teaterproduksies en soms musikale blyspele en films. Met sosiale media en internet in die breë is daar soveel volumes meer inligting – en minder verskoning vir intellektuele isolasie – as ooit. Niks van bogenoemde is seker van landsbelang nie, maar ek probeer hard om nie te midde van alles te verdwaal nie. Ek’s eintlik ’n gewone outjie wat oulik is om ’n kampvuur met ’n koue brandewyntjie en tjoppie onder die sterre.

Wat dink jy van plaasmoorde en misdaad in die algemeen?

Ek wéét dat selfs die mees konserwatiewe statistiek in dergelike verband, my hart uitruk. Ek weier om die moordsyfer- en wreedheidpersentasie in landsbelang te versag, asof individuele volke maar aan die onderlinge uitwissing gewoond moet raak. Mý mense ken nie hierdie tipe uitwissing nie en mý mense doen dit nie aan ander nie en het nog nooit. My mense is ’n kulturele demografie en bestaan wel, ongeag die Nuwe Suid-Afrikaanse Narratief. Ons onmag en weerloosheid is die produk van staatsgeïnduseerde wetgewing. Om enige burgers se  taal-, kultuur- en vaste bates  te reguleer en hul toegang tot bronne en brood af te sny op grond van hul velkleur, met wetgewing, is volksuitwissing. Oor twintig jaar sal daar ’n Waarheids- en versoeningskommissie wees oor hoe ons hierdie land vandag deur ons gatte getrek het. Ek hoop om die ANC daar te sien.

Na watse musiek luister jy as jy dit nie self maak nie?

Afrikaanse musiek oor die algemeen, rock en pop, is te pieperig om my te maak toustaan daarvoor. Ons konfronteer die aktuele soos ons die liefde konfronteer, sagkens en resepmatig met bietjie spookasem daarom. Dit sal om dié rede baie verg om my my harde rock en klassiek te laat verloën. Maar daar is nog BeeGees, The Script en Hurts (veral) tussen my Alterbridge, The Killers en Beethoven. Ek is ook vreeslik nostalgies (Toeka), maar dit weet almal reeds.

Onder ideale omstandighede, sou jy graag in die stad, in die voorstede of op 'n plaas wou bly?

In die voorstede. Presies waar ek nou bly. Dis landelik (ek het 2 skape, 2 takbokke, 2 katte en 3 brakke!) maar Exclusive Books is minder as 20 minute weg. Ek sou later op die Weskus wou aftree en skryf. Selfs met tientalle doodsdreigemente per dag voorsien ek nog nie emigrasie nie.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: