Op sommige plase is nog regte ou Aga-stowe, wat nog sulke kenmerkende reuke deur die opstalle laat trek, afhangende van waarmee die vuur gestook word. Die vuur van droë mieliestronke, antrasiet en die hout van doringbome het elk sy eie reuk. Vroeg-oggende ruik dit nog lekkerder wanneer die reuk van krummelpap, spek en eiers, en 'n pangebraaide worsie op daai einste Aga gaargemaak word. En dan prut daar nog 'n lekker kan moerkoffie op die stoof ook – regte, egter Boeretroos.
G'n wonder nie die Aga was die saamtrekplek in die winter nie. Vir mens en dier. Soms staan die stoof ver genoeg van die muur sodat die honde lekker daaragter kan nesskop. Maar dis nie net honde en katte wat so by die Aga of kaggelvuur kom saamtrek nie. Op plase is daar soms die interessantste troetel- en hans diere wat saam met die huismense 'n warmtetjie koester. Van meerkatte tot muskeljaatkatte, hier en daar 'n rooikat ook, tot skilpaaie.
Oom Nico-hulle had weer 'n half-mak haas wat sy enigste winter tuis agter die Aga deurgebring het. Die vinnigste om hom te laat oë wys was om te begin biltong kerf. Dié deurmekaar haas was absoluut dol oor biltong, en enige stukke, selfs die taai senings, wat op die vloer beland het, is blitsvinnig opgeknibbel. Toe dit somer word het die natuur haas se kind geroep.
Ma-Johanna-hulle had weer 'n mak ouvolk, maar kuiermense moes vooraf gewaarsku word oor dié vieslike bakkies wat dalk kon kom oë wys. Anders was daar chaos en 'n klomp kombuismeubels daarmee heen.
Saans, veral as daar oorslaap-kuiermense was, is heerlik stories vertel. Dikwels het die kinders dan daar voor die kaggel krismisbed gemaak.
'n Verwarmer kan die ding net nie so lekker doen nie, soos die slag daar langs die rivier in Kroonstad waar Herrie die aand voor inkruip gesit en werk het, een kant styf teen die muurverwarmer. Na 'n ruk moes Herrie omdraai sodat die wegkant weer ontdooi kan word. Soos 'n malvalekker wat oor die kole gesmelt word.
Mak of nie, die koms van die mens het dinge onherroeplik vir die diere verander. So was ouma Engela by geleentheid dik van die lag toe sy by die stoor kom en sien hoe 'n kleinerige waaierstert met 'n gebuite aartappel die aftog probeer blaas.
Die Vrystaatse winter is so erg, tot die bekende gesegde: "Die oggendstond het goud in die mond," moes spesiaal vir die Vrystaat aangepas word: "Die oggendstond het ryp op die grond."
Nou begin die winter einde se kant toe staan....
Mag die goeie Vader gee dat die reuke wat ons eersdaags in die lug gaan adem, dié gaan wees van reën op die veld, en die reuk van nat grond wat deur ploeë omgedolwe word.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





