praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Friday, 10. February 2012

Bygewerk op:09:59:45 AM GMT

Jy is hier: Feuilleton Algemeen Die Soustrein

Die Soustrein

E-pos Afdruk PDF
"Wie de ongeluk dryf dié ding?"

So wil groot kokkedoor Zoempie weet wat pas van sy baie duur whiskey op sy baie duur pak klere se broek gemors het. Nogal strategies ook, sodat dit verdag baie lyk of hy 'n glipsie gehad het.

"Dis 'n êppie pas uit die treindryfkollege. Sy het die beste punte behaal," verduidelik die Minister van "Vervoer."

"Maar het sy genoeg ondervinding om die soustrein te dryf," wil Zoempie steeds verontwaardig weet terwyl hy verwoed met die servet vee om die verleentheid op te droog.

"Ondervinding? Wat is dit?" wil die Minister van "Arbeid" verbaas weet.

Intussen wieg die vyfster op wiele weer rustig, terwyl dit sy reis na Utopia voortsit. Dit vleg deur verlate, rommelbestrooide stasies, ermbarmlike plakkerskampe, kinders wat langs die spoor bakhand staan....

Dis regtig 'n unieke trein. Die vensters is dig getint – nie net sodat die mense van buite nie kan insien nie, maar die passasiers binne ook nie kan uitkyk nie. Die vorige groot kokkedoor het die weerskante toe tintwerk laat doen sodat daar nie armoede is nie.

Vir deursigtigheid is daar oral kameras, sodat die groot kokkedore se doen en late vasgelê kan word en die publiek dit op hul TV's kan kyk. Ter wille van deursigtigheid.

Terwyl Zoempie so verwoed strategies vryf, sien hy 'n kamera is ook op hom gefokus, of liewer, daar waar dit so prominent is.

"Plak toe daai kamera!" beveel hy. 'n Paar lakeie spring vervaard om te gaan plak. Gewoonlik praat Zoempie net, maar af en toe bedoel hy ook wat hy sê. Dis nou sulke tyd.

Heelparty van die kameras is al toegeplak. Trouens, die manne en vroue om die lang stinkhouttafel is juis besig om 'n resolusie op te stel wat die ander kameras ook sal laat toeplak.

"Siejy so winde laat!" raas die Minister van "Verdediging."

"Maar dit is dan 'n stinkhouttafel!" verweer die Minister van "Omgewingsake" verward.

"Net te veel dinge kom op die lappe wat 'n stok in die soustreinwiele se speke kan steek," kla Zoempie.

"Het die trein se wiele dan speke?" wil die Minister van "Onderwys" verbaas weet, en begin verwoed die naaste venster optrek om uit te kan kyk.

"My eie rekord is so blink soos my kop," sê Zoempie, maar ek is bekommerd oor van julle ander. Ek kan nie aanhou gate toestop nie."

"Is daar dan nog gaatjies wat vol geld gestop kan word?" vra die Minister van Uitgawes op Luukshede.

"Kyk, ek het my goed genoeg laat cover maar ek is bekommerd van julle gaan in die k*k beland," vervat Zoempie.

'n Vreeslike vrees pak die lotjie om die stinkhouttafel beet. Hulle is benoud en die Minister van "Verdediging" raas nou erg: "Nee sies, stinkhout beteken nie julle moet almal van benoudheid po*p nie!"

"Generaal, generaal, sal jy ons kan red?" kerm die lot. Die Minister van Propaganda skuif sy tenderdokumente eenkant en antwoord: "Vir wat kerm julle, sit aan die TV en kyk, dis klaar gedoen."

"Maar gaan die vyand nie uitvind nie?"

Zoempie brom: "Die opponente ry almal in die dog box. Ons weerhou eenvoudig die inligting van die plekke waar hulle insae kry."

Die Minister van "Verdediging" giggel. "Ek doen dit al lankal."

"Aaa, vars lug," sug die Minister van "Verdediging" verlig toe die Minister van "Onderwys" wat steeds die venster probeer opskuif het, met haar elmboë oplaas twee gate in die ruit druk.

"Volgende punt op die agenda" sê Zoempie. "Herontplooiing."

"Wie gaan herontplooi word," vra die Minister van "Grondhervorming" benoud.

"Nie julle nie, man, kaders wat uitgevang is. Skelm kaders, onbevoegde kaders... 'n Ongemaklike lot van hulle word nou deur allerlei prosesse uit hul geveerde nessies gehaal."

"Ek hersirkuleer hulle al lankal," sê die Minister van Plaaslike "Regering." "Word hulle hier uitgevang, skuif ek hulle gewoon na 'n ander plek. Ek het al 'n hele taakspan wat bestaan uit uitgevangdes om my hiermee by te staan."

"My probleem is dat sommige van julle al van die kaders die plank van die soustrein af laat loop het. Nie alleen is hulle maatjies van die ander maatjies nie, maar hulle stel die vreeslikste eise in, en naderhand sal ons die glase nie meer so vol kan gooi nie."

"Dan sal mens ook nie meer so mors as die êppie die trein so bietjie rof dryf nie," brom die Minister van "Vervoer."

"Wat hoor ek?" wil Zoempie weet.

"Nee, sommer niks krabbel die Minister terug.

"Ek stel voor ons hersien die Ministeriële herontplooingskomitee sodat die linkerhand soms weet wat die linkerhand doen," stel die Minister van "Arbeid" voor.

Almal knik koppe. Daar is nou al soveel sulke komitees. Soos die een teen korrupsie, maar daar mag nie hardop hiervan gepraat word nie.

"Volgende op die agenda: Dienslewering."

"Ek dink nie die item hoef bespreek te word nie. Dienslewering is puik. Ek hoef net my vingers te klap en die kelner maak weer my glas vol," sê die Minister van Sports en Leeglê.

Almal stem saam.

Die agenda begin einde se kant toe staan.

"Wanneer kom ons by Utopia aan?" wil Zoempie weet.

Die Minister van "Vervoer" kyk hom verbysterd aan: "Aankom? Ons ry dan daarop. Hier is 'n luukse wa vir vrou 2 en3, en 'n semi-luukse vir vrou 1. Met personeel."

Zoempie glimlag breed, en vergeet van die nat kol op sy broek.

"Die vergadering is verdaag," sê hy.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: