Jare gelede was Herrie bevoorreg om deel van 'n kulturele uitruilspan te wees wat Nederland besoek het. 'n Uitvoering van 'n simfoniekonsert in 'n eertydse Gotiese Katedraal en nou 'n museum / deeltyds periodiek Gereformeerde kerk (na die Beeldenstorm), was 'n besliste hoogtepunt.
Daar sit ons op ons gestoeltes op 'n vloer wat grootliks bestaan uit die grafstene van lank reeds afgestorwenes. Toe die katedraal gebou is, was daar natuurlik nog nie luidsprekers nie, en die akoestiek moes net wonderlik ontwerp word sodat die priester deur die hele gebou gehoor kom word. Nou gaan sit nou 'n orkes – as Herrie reg onthou die Konsergebou-orkes - in daardie gebou en dit voel kompleet of 'n mens in die middel van die orkes sit.
En dan was dit nog 'n mooi stuk musiek ook – Herrie kan om de dood nie onthou wat nie maar dit kon die derde deel van Bach se Brandenburg Concerto gewees het – maar die hoendervleis het gehardloop, en by tye het dit kompleet gevoel 'n mens word uit die stoel gelig en sweef – baai as't ware in die musiek.
'n Dag later is ons terug, en word onder meer in 'n oneindige stel trappies tot by in die dak van die gebou geneem. Ideale vlermuiswêreld, maar daarvan was daar niks te sien nie. Silwerskoon. "Ideale moederskamer," brom Herrie gedagtig aan Suid-Afrikaanse "baby boomer"-gemeentes se gereelde gespook om plek hiervoor te kry, en amper gooi die dames Herrie daar van bo af op daai grafsteenvloer.
Maar ook Suid-Afrikaanse kerke moes vroeër sonder luidsprekers klaarkom.
Ma-Johanna het as jong onderwyseres op Tweespruit by die destydse huishoudkundeskool skoolgehou. Dié predikant het eerder as knaldemper as luidspreker nodig gehad.
Een Sondag, so met die uitstap uit die kerk, sê die een oom: "Nee, dié dominee preek darem te hard." Vroulief stamp aan hom, en hy let Mev. Dominee kom reg agter hom uit die kerk uit..."Hy sal mos sy stem seermaak," vervat die oom.
Van die ou kerke het die mooiste kandelaarligte.
By geleentheid erf dominee 'n ou haelgeweer, maar dis erg verinnewoes. Hy gee dit vir 'n diaken wat bekend is dat hy knap met sy hande is, om te kyk of hy dit nie weer soos 'n haelgeweer kan laat lyk nie.
Een Sondag, net voor die diens, stop die diaken die blinkgemaakte skietding in dominee se hande. Dominee kan net vlugtig loer, en prop dit opgewonde onder sy toga in, en bestyg die kansel.
Hier kan hy nie gou genoeg die gemeente aan 'n lied help nie, en sak agter die preekstoel weg om die blink skietding mooi te bekyk. Hy trek selfs die sneller.
"Kaboem!" en die een kandelaarlig bars in nog kleiner stukkies en begin op die gemeente neersif, wat desperaat almal gelyk by die deur probeer uit.
Die dominee steier verdwaas regop, en uit verbouereerdheid knak hy die geweer asof om te kyk of dit werklik gelaai kon wees.
Dis mooi net toe Pietie, wat saam met sy pa vir die deur skrum, omkyk.
"Stoot pa!" gil die mannetjie buite homself. "Die d*&% laai al weer!"
| < Vorige | Volgende > |
|---|





