Oudste is die vakansie op 'n wildsplaas, en moet nou die fort hou terwyl die bestuurder en sy gesin 'n rukkie by die Groot Dam gaan uitspan het.
Wil nog vra van wanneer af hanskallers nou so 'n handvol is dat 'n mens nie sommer gou-gou by 'n hek uitgejaag kry nie.
Maar ..dis g'n gewone kallers nie. Dis buffelkallers, en die hans goed is boonop oorlams ook.
Hans diere kan geniepsig wees.
Eendag vertel 'n oom wat 'n stalletjie oorkant my by die boeremark gehad het 'n staaltjie van sy geboorteplek, Brandvlei.
Nou vir diegene wat so oningelig is om nie te weet waar Brandvlei is nie, dis naby Verneukpan. As dit nog nie 'n stofduiwel laat dwarrel nie, dis aan die Sakrivier. Eintlik is "Sakrivier" vreeslik misleidend, daai rivier sak niks. Omdat hy so min loop, het die loop opdraande begin loop toe die aardkors gelig het. As die rivier die slag wél opkom (hy kan immers nie afkom nie), dan is die hele wêreld onder water.
Op 'n dag skenk 'n lidmaat 'n bokram en twee ooie aan die kerk op Brandvlei. Die kerkraad is half opgeskep met dié skenking, en besluit naderhand die kerkerf is groot genoeg. Die bokke is hans grootgemaak en die skenkers sal erg eksepsie neem as die oorlamse goed op die kole beland. Hulle moet maar daar loop. Dan is onkruid en ander goed wat bokke vreet darem nie 'n probleem nie.
Nou moet 'n mens darem bysê, die koster het tydens die dienste by 'n oop deur gesit, sodat hy presies om half tien die trappe kon uit om die klok te loop lui. Daar waar hy sit, is hy in sig van 'n groot deel van die gemeente, en so was die gemeente bewus van die koster se gewoonte om te dut en in die proses lekker vis te vang.
Die een dag, vertel die oom, sien hy weer hoe die koster se kop knik-knik, maar hy sien verder, verby die koster tot by die oop deur. Die oorlamse bokram het in die deur kom staan, en daar sien hy hoe die koster kop knik. Knik die koster, knik die bok.
So gaan dit aan. Die oom sê hy ken 'n bok, en hy het geweet hier kom 'n ding.
Die koster knik nog 'n slag, en die bok knik en storm.
Stamp die koster skoon poer van sy stoel af.
Dominees wat ook die ding sien kon het, had moeite om sy lag in te hou so met die bok en die koster se kop-kopspelery. Hy het gewoon nie kans gesien om die sports vooraf nek om te draai nie, en heimlik was hy dalk bly dat die bok die koster se visvangery so onder die preek genees het.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





