praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Tuesday, 22. May 2012

Bygewerk op:07:38:23 AM GMT

Jy is hier: Feuilleton Algemeen Herrie se kerrie: Sokkerkoors

Herrie se kerrie: Sokkerkoors

E-pos Afdruk PDF
Sokkerkoors het die land beet. Nie almal kry die koors om dieselfde rede nie. Terwyl sommiges euforitis onder lede het, met die vernaamste kenmerk 'n onbeteulbare lus om fufuzelas ongeag die plek of tyd te blaas, het buurman dalk gatvolitis onder lede en voel hy om buurman se f%&kenzêla by 'n deel van die anatomie in te druk.

'n Klomp mense het skynbaar ook dollaritis onder lede. Dié pasiënte het drome en hallusinasies oor groot geld, met die vernaamste simptoom om hulself met prysbelading in die voet te skiet.

Nog 'n klomp het apiesitis onder lede. Dis nou soos daai apies wat hul oë en ore toedruk en van niks weet nie. Hulle wil nie hoor van die slaggate in die paaie nie, hulle wil nie hoor van geweldsmisdaad nie, hulle wil nie weet van vervalste kaartjies in omloop wat tot teleurstelling of woede by hekke gaan lei as die kaartjie "hop" nie. Hulle wil nie van Julius Malema se sangtalent weet nie. Hierdie siekte is die gevaarlikste, want dit kan ander mense 'n vals gerustheid verskaf.

Dan is daar die kennerisitis-weergawe. Dit is nou die mense, onder andere joernaliste, wat steeds niks van sokker weet nie maar van die Konfederasiebeker af hul lywe kenners hou. Hul vernaamste simptoom is dat hulle op sterkte van die Bafana se vertoning in daardie toernooi meen die Bafana het 'n sterk kans. So min weet hulle dat hulle nie opgelet het van die besoekende spanne het bitter teen hul sin kom deelneem en dat hul grootste inspanning was om beserings te probeer voorkom nie.

Nee, die wêreldbeker is 'n heel ander "ball game." Nee, nie oor die ander bal, die Jabulani met sy nuk om 'n eie wil te hê nie, maar omdat die spelers wat nou kom strate beter gaan speel. Gelukkig, skynbaar ook, die Bafana.

Maar vir 'n groot deel van die bevolking is sokker dié sport.

As Fifa so oor die speeloppervlaktes van die wêreldbeker-sokkerstadions fief, sal hulle stellig hartaanvalle kry as hulle die "sokkervelde" sien waarop baie van die land se mense verwoede wedstryde speel. Of dit nou twee plaasskole is wat mekaar die stryd aansê, of die werkers van twee plase. In Qwaqwa is 'n veld of twee waar dit 'n ramp is as die bal aan een kant van die veld uit is, want dit is ver na doer onder in die vallei om die bal weer te gaan haal. En nog verder as die stroompie onder in die vallei loop.

By geleentheid jare gelede het Komops 'n spannetjie by Gariepdam leer rugby speel – op die span se gereelde sokkerveld. Die kannetjies het mekaar met mening platgeduik, maar as die stof gaan lê en die gevolge van so 'n duikslag gesien word, is daar gewoonlik 'n lelike besering of twee. Dis klipharde gruis.

Maak nie saak hoe klein nie, in 'n sokkermal-omgewing sal selfs die jongste hul helde se toorwerk met die voete en bal probeer naboots, soms met verbluffende vernuf. Bykans enigiets is ook geskik om as sokkerbal te dien, of dit nou 'n tennisbal met 'n gat in is, of 'n vlugbal wat by die skool voete gekry het. Omtrent net krieketballe deug nie, want straatsokker word gewoonlik kaalvoet gespeel as mens jonk is, of met verslete skoeisel as mens ouer is.

Oor 'n paar weke skop 'n ander soort sokkerkoors in, naamlik werklikheidsitis. Dit het baie ooreenkomste met babelas.

Die belangrikste is egter dat dit aan onse mense die geleentheid bied om die beste sokkervoetjie voor te sit, want dit is die beeld wat die besoekers terug buiteland toe gaan neem. Dan gaan 'n gemeenskap se lojaliteit nie gemeet word aan hoe groot sy sokkereuforie was nie, maar hoe skoon sy woongebied, hoeveel mense Sondae opruk kerk toe, hoe veilig so 'n omgewing is...

Smeer aan en kom! Wat Herrie betref, net sonder die f*&kenzêlas.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: