praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Tuesday, 22. May 2012

Bygewerk op:07:38:23 AM GMT

Jy is hier: Feuilleton Algemeen Die slimste dier?

Die slimste dier?

E-pos Afdruk PDF
Elke wildboer sal seker sy eie mening hê oor watter dier op sy wildplaas die slimste is.

Nie skelmste nie, soos die slag wat daar in Donald Murraylaan in Bloemfontein jare gelede by 'n huis begin hoenders wegraak het. Elke aand een.

Destyds was Donald Murraylaan wel nog half op Bloemfontein se rand, maar die jakkalsspore by die misdaadtoneel lyk darem ewe waarskynlik afkomstig van die nabygeleë dieretuin as uit die veld afkomstig te wees.

Maar by die dieretuin makeer g'n jakkals nie.

Maar toe kom die mense agter die kap van die byl. Ta lê bedags sy siel en uitslaap, en snags haak hy sy pootjies in die ogiesdraad en klim oor sy kampdraad.

By sy "restourant" doen hy dieselfde, en "bestel" sy wegneemete a la carte.

Nee, seg neef Ferdie, en sy vroulief en kleinman beaam... die slimste dierasie waarmee hulle nog te make gehad het, is seekoeie.

Die storie van die baba-seekoei wat by Malelaan so tuis geraak het dat sy die deure self leer oopmaak en die beddens in die huis in hul maaie in gaan lê het is dus nie vir hulle eintlik iets om oor huis toe te skryf nie.

"Nee, kyk," vertel Ferdie, "presies hoe slim die dierasies is ontdek ek toe ek 'n troppie moes vang en wegry."

"Ek maak toe 'n vangkamp 'n entjie van die rivier af, en gaan gooi lekker lusern in die kamp. Maar watwou.

"Net een bul word afgevaardig om te gaan ondersoek instel, en met die terugkeer water toe dra hy vir die ander van die lusern saam.

"So gaan dit 'n paar dae, en toe begin daar darem nog 'n paar saamkom. En hulle dra vir die res die voer aan.

"Naderhand begin van die koeie saamkom, maar die kalfies bly agter in die water.

"En mens kan hulle nie pyl nie. Pyl hulle en hulle hardloop reguit water toe en gaan versuip. En haal hulle nie die water nie, vrek hulle sommer."

"Dus is dit maar geduld.

"Na drie maande meen die spulletjie egter dis veilig en versit die hele spannetjie, kalfies inkluis, na die kamp om te gaan voer haal. Maar toe hulle binne is, word die hek toegemaak.

"En toe is daai seekoeie vir jou kwaad! Ek moet toe draf om hulle met 'n kalmeerding te pyl, want hulle storm daai stawe waarmee die kamp opgerig is, en byt dat mens net sien en hoor tande breek.

"Verskriklik die m*&r in dat 'n simpel mens hulle nou so kon uitvang!"

Volgende keer word ander plan gemaak.

Die lotjie was in 'n dam, en kon maklik met die "prodder" bygekom word. Maar die dierasies is dikvellig, en draai net die agterkant weg. Versit versit hulle nie.

Neef Ferdie lei 'n negatiewe draad die water in, en druk die positiewe draad naby die naaste seekoei in.

"Dis net 'n blou vlam, maar dadelik is daar 'n houdingsverandering by daai seekoeie. Dis so asof hulle laat weet: Jy wen, ons sal saamwerk."

En sowaar, die eerste renoster draf na die sleepwaentjie, en klim in, en word weggery.

Na 'n ruk kom die trok met die leë sleepwaentjie terug, en die tweede seekoei draf, en gaan klim in.

"En so gaan dit met die hele lot."

Daai waentjie is ook nie sommer so 'n waentjie nie. Dis ook die waentjie wat gebruik word om diep duttende renosters in hul nuwe tuistes te gaan aflaai.

"Kyk, as jy by die plek kom, vat jy jou trok eers ver weg. Dan maak jy daai waentjie oop, en sorg dat jy self maar skaars is in die onmiddellike omgewing. Want as daai neushoring waker word en van daai waentjie afklim is hy m*&rig. Hy soek 'n sondebok, en al wat hy kan kry is daai waentjie. Daar is nie 'n band of flikkerlig heel, of 'n vierkante sentimeter nie geduik nie voor die renoster se bui gesak het."


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: