Hierdeur is kerklike hervorming binne die kerk in effek nek omgedraai.
Maar presies hoe dit gekom het dat Wycliff in Boheme (vandag se Tsjeggië) aanhang sou vind, is 'n interessante staaltjie op sy eie.
In 1382 het Anne, die suster van die Boheemse koning, met Richard II van Engeland in die huwelik getree. Anne het gou onder die invloed van Wycliff gestaan, en so die weg gebaan dat dié idees in Boheme neerslag vind. Spoedig was twee van Wycliff se ondersteuners in Boheme, en het hulle aktief die hervormingsaak gedien.
Hulle is mettertyd die swye opgelê, maar het subtiel voortgegaan. 'n Uitbeelding van Jesus op 'n donkie, teenoor die pous is swier, het veral hard gespreek oor hoe die kerk ontaard het.
Pous Johannes XXIII het 'n "kruistog" teen die koning van Napels uitgevaardig, en aflaatbriewe verkoop om die veldtog te finansier. Dit, en opvattings soos dat Jesus en nie die pous nie, aan die hoof van die kerk staan, het Wycliff en Hus, wat intussen Wycliff se werke in Tsjeggies vertaal het, teen die bors gestuit.
Pous Johannes, op sy beurt, was 'n omstrede en gure karakter, en baie glo dat hy voorheen 'n seerower was.
Hierdie beroeringe het gevolg op 'n eeu van 'n deurmekaarspul in die Roomse kerk. Met Johannes se ampsaanvaarding as pous, was hy byvoorbeeld een van drie pouse wat niks met mekaar te make wou hê nie.
Hierdie verwarring het gevolg na die Duitse keiser finaal sy mag verloor het, en die Franse koning die sterkste Europese leier geword het. In 1302 het Filips IV (die skone) pous Bonifacius VIII gevange laat neem. Fransgesinde pouse het gevolg en hul setel van Rome na Avignon in Frankryk verskuif. In 1377 het pous Gregorius XI na Rome teruggekeer. 'n Jaar later sterf hy, en die Franse kardinale weier om sy opvolger, Urbanus VI te erken. Die kardinale wys toe hul eie pous, Clemens VII aan en hy neem weer sy intrek in Avignon. Hierna sou twee pouse die septer swaai, elk met 'n aantal lande wat hulle volg.
In 1409 word 'n konsilie te Pisa gehou om die toedrag van sake op te ruim, maar beide dienende pouse weier om die konsilie te erken, en word afgedank. Hulle wys toe 'n nuwe pous aan, die eerbiedwaardige Alexander V. Omdat die afgedankte pouse weier om van hul ampte af te sien, neem Alexander sy intrek in Bologna.
Drie pouse is toe in die stoel.
Alexander sterf egter gou, en word deur die woeste Johannes opgevolg.
In 1414 word 'n nuwe konsilie by Konstanz byeengeroep. Johannes was egter die enigste van die drie pouse wat die uitnodiging aanvaar het om die konsilie by te woon.
Hus, wat deur die pous onder die banvloek geplaas is, het 'n uitnodiging gekry om by dié konsilie appèl aan te teken, en is selfs vrygeleide uit Boheme, waar hy weens sy gewildheid buite die bereik van sy vyande was, gekry.
By Konstanz is hy egter nie die geleentheid vir sy appèl gebied nie, en as ketter verhoor. Hy is 'n maand lank wreed gefolter, maar toe hy steeds wier om van sy standpunte af te sien, sterf hy op die brandstapel. Die as van sy liggaam asook die grond waarop dit geval het, is in die Rhyn gegooi.
Wycliff self, wat die hervormingspoging gelei het, het aan natuurlike oorsake gesterf. Hy het aanvanklik selfs die steun van die Engelse regering gehad toe Urbanus skatpligtigheid van die Engelse koning geëis het, en Urbanus moes die aftog teen dié rugstyfmakery dra.
Pous Johannes XXIII, die gewese vermeende seerower, was egter hardvogtiger.
Tydens die konsiliasie Konstanz was Wycliff, wat in 1384 gesterf het, drie dekades lank reeds begrawe. Nogtans is die banvloek oor hom uitgespreek en gelas dat sy lyk opgegrawe en verbrand moes word. Dit is in 1428 gedoen, en sy as is in die Swiftrivier gegooi.
As gekyk word na die standpunte van Wycliff (wat ook terloops aan die spits gestaan het om die Bybel in Engels te vertaal, die sg Wycliff-Bybel), en Hus soos opgesom deur Deon Snyman, kan die spore van Luther se latere standpunte duidelik gesien word.
v Die kerk bestaan uit die gemeenskap van alle gelowiges (en nie net die pous en die biskoppe nie).
v Christus (en nie die pous nie) is die hoof van die kerk.
v Die skrif is gesaghebbend vir die kerk en die preek vorm die belangrikste element van die erediens.
v Gehoorsaamheid aan Christus (en nie die pous nie) lei tot redding.
v Slegs God kan sondes vergewe (nie geld of aflaatbriewe kan vergiffenis bewerkstellig nie).
v Geen pous of biskop het die reg om in die naam van die kerk die swaard op te neem nie (die Bybel leer dat Christene vir hulle vyande moet bid en dat hulle hul vyande moet seën).
v Christene moet hulle daarvan weerhou om beelde te aanbid, in vals wonderwerke te glo of om bygelowige pelgrimstogte te onderneem.
v Die kerk moet beide tekens van die sakrament van die nagmaal aan gelowiges bedien (nie net die brood nie).
v Kerklui beskik slegs oor geestelike gesag.
v Alle mense moet toegelaat word om die Bybel in hulle eie moedertaal te lees.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





