Winter in die Vrystaat en Sidderland beteken ook dat 'n mens snags plan moet maak met die waterpype.
Herrie het ook, na skade, vir die pyp bokant die kombuis wat gereeld begin groet het, 'n spesiale geïnsuleerde baadjie wat deesdae te koop is, aangetrek. Maar wat, kort hierna was daai pyp weer tot hoe laat toegevries.
Dus is dit maar weer al die soort planne, soos om saans net voor inkruip die warm water 'n slag te laat deurloop, en dan die kraan effe te laat drup.
Word 'n man snags om die een of ander rede wakker (soos Pumba wat 'n kat iewers hoor kattemaai het en verwoed aan blaffe gaan), gaan draai weer die warm kraan oop, en laat dit weer drup.
En vroeg die oggend moet die eerste een op maar weer die kraan laat loop.
Dis die teorie.
Die praktyk behels om almal in die huis se samewerking te kry. Dit help nie om die heel somer vir die huismense te preek om die krane behoorlik toe te draai, en dan in die winter onaangekondig self 'n kraan te laat drup nie.
Herrie was met die eerste koue houtpopgerus die kraan drup. Die volgende oggend het iemand daai kraan iewers deur die nag mooi styf toegedraai gehad.
Een van Groot Herrie se landboudosente is juis onpopulêr in sy huis. Plaaskind gewees, en as hy 'n kraan toegedraai het, kry niemand in die huis dit weer oop nie. En dan het hy nie eens probeer snaaks wees nie. Deesdae moet 'n man juis versigtig wees. Met die kwaliteit bouwerk wat mens deesdae beleef, is dit nie snaaks om as 'n man 'n kraan wat vassit, losdraai die wasbak en pyp uit die muur te draai nie. Dan het daai *&^% pyp gewoonlik ook binne of teenaan die muur afgebreek.
Herrie het self 'n loodgieterkursus agter die blad, maar daar het hulle die studente nie geleer waarom die toegevriesde pyp gewoonlik Sondae bars as 'n mens in die kerk is nie. Deesdae is dit minder van 'n krisis, want 'n man kan Sondae by allerhande plekke pype en laste gekoop kry. Maar vroeër dae was dit 'n krisis as 'n mens nie "spaaronderdele" tuis gehad het nie. Of die gereedskap voete gekry het. Met kinders in die huis is gereedskap mos nooit gereed nie, dis wegskap.
En as jou pyp gebars het, kan jy maar weet daar is baie ander in dieselfde bootjie en vat dit tyd vir die loodgieters om by jou uit te kom. G'n wonder nie, toe 'n dokter een nag laat die loodgieter bel en sê hy het 'n krisis met 'n gebarste pyp, die loodgieter vir die dokter sê: "Gee hom twee disprins en hou hom stil. As hy môre nog probleme lewer, bel my weer."
| < Vorige | Volgende > |
|---|





