Normaalweg word verwag dat mense met ‘n konserwatiewer uitkyk, meer tot ideologiese nostalgie verbind sal wees as byvoorbeeld die “progressiewes” en meer in die besonder die liberale.
Om dit ‘n bietjie anders te verduidelik. In kerklike verband beteken “gereformeerd” min of meer om “deurlopend die wil van die Here te soek” en kan iemand wat dus sonder behoorlike ondersoek aan bestaande opvattings kleef per definisie nie gereformeerd wees nie, omdat hy in werklikheid ortodoks is.
Wat die politiek betref, is dit stellig so dat daar wel mense is wat konserwatief gebore is, en konserwatief sal doodgaan. Langenhoven het dit miskien die treffendste opgesom toe hy en ‘n paar ander saam met Loeloeiraai onderweg maan toe is. Ver genoeg van die aarde af sien een van die reisgenote dat die aarde inderdaad rond is, “maar ek bly ‘n SAP.”
Wat Suid-Afrika waarskynlik ‘n bietjie uniek maak is die ideologiese nostalgie aan die linkerkant. Per definisie moet die liberaal nie ontstemd wees as sy mede-liberaal weens die invloed van werklikhede ideologies verskuif nie. Die liberaal erken immers die mense se bykans onbeperkte reg tot meningsvryheid, soos spraakvryheid, politieke oortuiging en wat daarmee gepaard gaan.
Wat in die praktyk gebeur is egter ‘n reaksie wat eerder tuishoort by ‘n fundamentalistiese Moslem wat suur trek oor ‘n kameraad wat na ‘n ander godsdiens bekeer word. Die fatwah (in die populistiese sin) word as’t ware teen so ‘n persoon uitgereik.
Skeldname is een manier om op hierdie “verregsing” soos Jakes Gerwel dit noem, te reageer. Die woord wat gebruik is om waarskynlik die toppunt van kwetsing uit te beeld is “nieu-konserwatief.” Die angel lê nie so seer in die feit dat iemand konserwatief is nie, maar dat hy ‘n verloopte liberaal is.
Iemand wat bykans verseker kan wees dat hy die nieu-konserwatiewe mantel omgehang gaan word is ‘n voormalige Dakarganger wat sê die grondwet het gebreke.
Vir die tipiese liberaal bly die grondwet die liberale bybel, en bo kritiek verhewe. Hoogstens word geduld dat iemand die toepassing van die grondwet kritiseer. Die grondwet immers, kan net so min gebreke hê soos wat die edel barbaar ‘n sendeling in die kookpot sal stop.
‘n Newe-effek is dat die liberale hulle algaande tot irrelevansie rangeer. Verskeie hoofstroom-koerante dra nou gereeld artikels en rubrieke waarin die liberale outeurs mekaar oorbie oor wie die meeste onder misdaad deurgeloop het, maar liberaal bly. Hulle probeer mekaar oortref in hul foutvindery met die regering. Alles gaan goed tot hulle by die deel kom waar oplossings aangebied moet word.
Na verskeie sulke artikels en rubrieke is die somtotaal van hierdie advies eintlik in een woordjie saamvatbaar. Twak.
Sommiges besef dat minstens ‘n deel van die oplossing daarin lê dat sekere veranderings in ooreenstemming met internasionale grondwetlike praktyke aangebring moet word.
Dit weer, sou beteken dat die grondwet wat soos gister en soos eergister as die beste in die wêreld voorgehou is, toe al die tyd ‘n turksvy in die broeksak was, en nog erger, dat daar leemtes aan liberale opvattings moet wees.
By gebrek aan logiese argumente word teruggeval op geykte terme om konserwatiewer opvattings mee sleg te sê, soos laertrekkery, kappiementaliteit, dom, boers of wat ook al. Sekere hoofstroommedia doen hieraan mee.
Wat is die werklikheid?
Buite Suid-Afrika is liberalisme ‘n grootliks uitgediende ideologie wat min of meer in die 70’s en 80’s van die vorige eeu sy hoogtepunt in onder meer Wes-Europa beleef het. Die vryhede wat dit gebring het, het nie net tot sex shops op straathoeke en aborsies op aanvraag gelei nie, dit het ook die ruimte van vryheid van uitdrukking geskep waarbinne rykmanskinders die dodelike Baader-Meinhoffs van stapel gestuur het.
Kort voor lank moes die liberale wêreld die realiteit in die gesig staar van hoe om verskillende menseregte teen mekaar op te weeg. Iemand se reg tot uitdrukkingsvryheid kan immers nie die reg om bomme te plant insluit, wat my reg op lewe bedreig nie.
In Suid-Afrika word nog gespook om die begrensing van verskillende regte te vind. Dikwels bly die vertrekpunt die reg op uitdrukkingsvryheid wat die reg op spraakvryheid bykans onbeperk wil sien. In ‘n onlangse DA-mediaverklaring is die kwessie van die soeke na morele waardes selfs afgewys omdat dit spraakvryheid sou beperk. Dit is egter nie so eenvoudig nie, omdat die grondwet bv self voorskryf dat die president en kabinet aan ‘n etiese kode moet voldoen. Die staat het ook die plig om die contra bones mores-beginsel in verskeie regsvertakkings te onderhou. Hoogstens kan geargumenteer word die staat se rol is nie om die morele kode te formuleer nie, maar dit kan nie die instandhouding daarvan vryspring nie.
Terwyl ideologiese nostalgie lewend bly, is ideologiese migrasie ook baie bekend. Begeniselvastes sal waarskynlik argumenteer dat die ideologiese migrante in die eerste plek geen beginsels gehad het nie.
By geleentheid loop in raadslid van die NNP, mev. Kathy van Rhijn, oor na die DP. ‘n NNP-raadslid staan in die raad op en val haar striemend aan.
‘n Maand later het die DA gevorm en sit Kathy en haar kritikus weer in dieselfde party. Die ironie ontsnap nie die destydse Mangaungse burgemeester, Jani Mohapi nie. Mohapi wil by die kritikus weet of hy nog oor Kathy voel soos wat hy ‘n maand tevore oor haar gevoel het.
Die kritikus reageer in terme soos: “Dit is net ‘n swak mens wat nie sy oortuigings verander wanneer hy beter oortuigings opdoen nie.”
Die uwe, destyds ‘n redakteur, skryf toe hieroor, maar verswyg die raadslid se naam om hom teen homself te beskerm. In onkunde word “oortuigings” egter met “beginsels” vervang.
Die raadslid is ontstoke oor hy (naamloos) as beginselloos uitgebeeld is. Hy eis ‘n regstelling. Dit word onverwyld gedoen, maar steeds sonder om die raadslid te identifiseer. Hy bel egter steeds en skryf minstens een brief. Uiteindelik, na dit geblyk het niks sal die raadslid tevrede stel nie, word die lid in die apologie geïdentifiseer, met dié stertjie by dat volgens hom, daar ‘n verskil in die politiek is tussen oortuigings en beginsels.
Nodeloos om te sê toe het die hel éérs losgebars.
Hierdie beginselvaste raadslid skryf ‘n rukkie later ‘n brief aan Volksblad waarin hy (destyds ook streekleier van die Afrikanerbond) na die ANC oorloop waar hy nou lid van ‘n burgemeesterskomitee is.
Mnr. Inus Aucamp, laaste NNP-leier in die Vrystaat en wie se privaat sekretaris hierdie raadslid was, skryf in ‘n stadium onder meer die volgende in Volksblad: ““Nou kyk as daar ’n knaap is wat kan operate, is dit X. Sy opgang, van hy ’n paar jaar gelede as verdwaalde politieke ryloper in Bloemfontein aangekom het, tot nou, was fenomenaal.
“Dit word net oortref deur die meteoretiese (sic) spoed waarmee hy telkens aarde toe kom.
“Want sien, net my ingryping het verhoed dat hy uit die DA geskors is, hy is inderdaad as hoofsekretaris van die NNP geskors (’n eerste in meer as 90 jaar!) en lyk my hy het in die Afrikanerbond ook sy moses teëgekom.
“Hy’s ’n meester om ander te gebruik om sy nes te veer, maar maak dan die fout om dit telkens self te bevuil.
“Dit maak van hom ’n politieke rugryer en verfoeilike kruiper,” is wat hy van sy eertydse persoonlike assistent in die brief geskryf het.) ”
Hieroor is ‘n klag van strafregtelike laster teen Aucamp gelê, en Aucamp gearresteer. Die Direkteur van Openbare Vervolging weier om Aucamp te vervolg, en hy wen ‘n eis van onregmatige arrestasie teen die SAPD ter waarde van R30 000.
Politieke rylopers het so ‘n wrang smaak gelaat dat oorloopwetgewing in SA gestaak is. Ironies was die DA aan die voorpunt van die opheffing daarvan, na dit aanvanklik op versoek van die DA op die wetboek geplaas is.
Maar die politieke ryloper hierbo vermeld het wél ‘n geldige punt. Iemand kán ‘n Damaskuservaring hê, en tot nuwe insigte kom.
Liberale onvergenoegdheid met verloopte liberale en afgryse oor die “verregsing” dui daarop dat ideologiese migrasie nie noodwendig in die rigting van “verligting” lei nie.
Al verswyg die media grootliks hierdie wêreldwye verskynsel, verander dit niks aan die feit nie: Die wind waai wes.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





