praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Tuesday, 22. May 2012

Bygewerk op:07:38:23 AM GMT

Jy is hier: Feuilleton Algemeen Herrie se kerrie

Herrie se kerrie

E-pos Afdruk PDF

Herrie is nogal gesteld daarop om die polisiëringsforum-vergaderings by te woon.

Dan weet ‘n man nogal wat in die buurt aangaan, en kan ‘n man voorsorg tref.

Hier kom dit aan die lig waar word die meeste motors gesteel, en waar word die meeste in huise ingebreek, en so aan.

Nou een dag blom die polisie oor die onverwagse sukses. Hulle keer ‘n verdagte een oggend half vier aan wat ‘n hele boks vol motorradio’s by hom het. Iewers is motors van hul radio’s gestroop, meen hulle.

Maar nee, seg die man. Hy is eintlik nou die slagoffer van polisie-brutaliteit en vooroordeel.

Die polisie kan egter nie sommer sy storie gesluk kry oor hoe dit gekom het dat dié nagloper nou die trotse, wettige eienaar van ‘n boks vol motorradio’s is nie. Maar hy hou vol – hy het dit uit ‘n vullissak op ‘n sypaadjie gehaal.

Vullissakke wat nou oornag op sypaadjies staan is ‘n realiteit vandat die Rosestad Bethlehem se munisipale bestuurder afgerokkel het om dienslewering te verbeter. Die honde wat snags sakke stukkend skeur stem saam die diens aan hulle het inderdaad verbeter.

So gebeur dit dat die polisie die oggend vieruur ‘n vriendin van mev. Herrie en haar gesin opklop.

“Hierdie man vertel die Dianse &^%-storie dat hy ‘n sak met dié boks vol karradio’s op die sypaadjie gekry het,” lig die driftige polisieman die gesin in.

Die vrou des huises moet toe, soos sy dit stel, teenoor haar man, die polisie en die boef bieg dis haar skuld. Sy sit al maande aan manlief om sy rommel in die garage op te ruim, maar hy kom nie daarby uit nie. Toe begin sy maar so elke week ‘n boks rommel uit die garage laat verdwyn en saam met die vullis verwyder....”

Herrie het nou nie verneem wie nou met die boks ou radio’s sit nie.

Herrie verneem van die storie toe mev. Herrie verneem of sy nou maar van sy ou weermaguniforms kan ontslae raak. Tot die sakke waarin dit gebêre word, is besig om in te gee.

Toe word Herrie se gedagtes sommer verfris. Herrie het met ‘n vorige soortgelyke versoek onderneem om by die SANW uit te vind wat van daai uniforms? En gevergeet.

Want sien, aan die regte kant van 50 is dit onwaarskynlik dat Herrie nog opgeroep sal word.

Boonop, toe Herrie nog in daardie uniforms gepas het, het Herrie nog skaars meer as ‘n R-1 geweeg, en toe op patrollie gewoonlik maar die Swaarloop of LMG gedra om die verskilletjie uit te kanselleer. Nou weeg Herrie omtrent so veel soos ‘n hele vrag wapens wat op ‘n slag deur die polisie vernietig word, en amper soveel soos die wapens wat die polisie in ‘n jaar verloor.

Pure spiere ontwikkel, veral borskasspiere wat van die brute gewig daarvan effe afgesak het.

Met beide Groot Herrie en Klein Herrie wat al vergeet los by Herrie verbygegroei het, is daar ook nie eens ‘n kans dat een van hulle enige nut van hierdie klere sal vind nie.

Dus wag Herrie nou vir ‘n volgende polisiëringsvergadering waar die polisie trots vertel dat hulle iemand aangekeer het wat vermom soos ‘n soldaat met ‘n sak gesteelde karradio’s betrap is. En raai wat het dié skelm te vertelle...?


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: