Deesdae, so lyk dit vir Herrie, is die term “polisiehond” ook nie meer heeltemal wat dit was nie.
Langenhoven het in ‘n hekelgediggie al geskryf oor die polisiehond wat die inbreker agtergenagesit het, en in sy gedagtes sien Herrie ‘n Duitse Herdershond, of te wel, ‘n wolfhond, flink op die spoor.
Net nie “Alsatian” soos die Engelse dit verander het nie net omdat hulle met die Duitsers in ‘n oorlog gewikkel was. So moeilik was die Engelse met die Duitsers, dat die Huis van Hanover verengels is na “House of Windsor.” Selfs Queen Victoria se huistaal was glo eintlik Duits.
Maar terug na die honde. Een aand by die polisieëringsforum-vergadering daag die bekende taalkundige, Corlietha Swart, met haar hond Polka op. Sy het van die vergadering vergeet, en eers onthou toe sy daar verbydraf. Daar is toe nie ander genade nie, sy moet maar vra of die hond kan saam vergadering hou, en Herrie sê dis goed so, nou is Polka sommer ‘n polisiehond ook.
Polka het na ‘n rukkie belangstelling verloor, op sy sy gaan lê, en na ‘n ruk stewige snorke weggepak. Presies net soos die sersant in sy kantoor wat herrie laas oor iets moes gaan spreek het.
Die polisie gebruik lank ook nie meer net Duitse Herdershonde nie, en verskillende soorte word vir verskillende funksies ingespan, soos dwelms in tasse op lughawens uitsnuffel.
Tog, so lyk dit vir Herrie, is dit nie net die polisie wat van honde gebruik maak nie. Misdadigers maak ook so soos dié foto van vriend Hennie bewys.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





