Jaco en Jacomien is twee mooi groot kransduiwe en kom al omtrent van Oktober 2008 af saam met ons. Hulle het ons huis uitgesoek het om hul nes te kom maak. Die twee het op die huis se dak en toe op die Wendy se dak gesit en vir mekaar gekoer.
Die eerste poging om nes te maak was op die geyser wat buite die huis is, maar dit het nie lekker gewerk nie want die takkies wat hulle met moeite aangevlieg het - een-een op 'n slag - het van die geyser afgegly omdat die oppervlak baie glad is en ook nie plat nie (die geyser is rond bo).
Die deursettingsvermoë en al die stokkies wat op die grond beland het, het gemaak dat ek en Johan jammer vir hulle gevoel het. Johan het een van die kassies waarin tamaties kom bo-op die geyser aan die waterpyp vasgemaak. Die twee was blykbaar beïndruk en hulle het weer stokkies begin aangedra - of is dit aangevlieg?- en Jacomien het al begin om die stokkies reg te skuif en het selfs agtergekom dat sy uit die kassie op 'n veranda - dit is nou op die geyser - kan loop wat onderdak is .
Die nessie was vir Jaco en Jacomien nie beskore nie want Indiese spreeus het hulle daar uitgedryf en dit het vir my gevoel of ek saam met Jacomien kan huil. Sy wil so graag broei en kinders hê. Ek dink Jaco het dit ook so ervaar en het maar net aanhou koer vir Jacomien - so asof hy haar wou troos en verseker dat hulle 'n ander nessie sal kry.
Die groot vraag: gaan Jaco en Jacomien hul nuwe huis goedkeur? Dit het 'n klompie dae geneem, maar tot ons groot vreugde het ons hulle eendag op 'n balk van die stoep sien sit. Vandat hulle hul huisie gewaar het, was daar geen teken van ingaan nie en hulle het dit net wantrouig dopgehou - die huisie met die dak. So het dit vir 'n paar dae aangehou - die huis is van alle kante beskou en op 'n dag het ons een van die twee op hul huisie se dak sien sit. Die twee het later ingevlieg en alles baie mooi geënspekteer en ondersoek totdat hulle tevrede was.
Wat 'n blye dag toe ons sien dat Jacomien haar in die huis tuismaak en Jaco begin om stokkies aan te vlieg. Jacomien het in die huisie gebly en die stokkies mooi georganiseer en reggepak om net die beste nessie vir haar kinders te maak - nou nie die sagste bed vir babavoëltjies nie, maar as hulle so dink, dan is dit reg met ons. Dit was 'n gekoer van 'n ander wêreld en ons was saam met hulle bly - waaroor hulle ook al bly was. Met die tyd het hulle nie eers weggevlieg wanneer ons op die stoep gekom het nie en hulle het aan ons stemme gewoond geraak en het met skewekoppies na ons sit en luister. Gaia en Herculus se geblaf het hulle later ook nie meer gehinder nie,
Jacomien het al hoe langer in die huis en op die nes gebly en ons het aangeneem dat sy broei - ons het gedink dat sy nie eet of water drink nie en haar opreg jammer gekry. Toe die eiertjies eers daar was, het ons gesien hoe die twee mekaar aflos. Die een spring die een kant van die huis in - deur die venster - en die ander een vlieg die anderkant - by die ander venster - uit. Die een wat aan diens gekom het, het dan die eiertjies bymekaar geskrop en weer op hulle gaan sit. Die eiers is nooit alleen gelaat nie.
So het ons gewoond daaraan geraak om die kamera by die deur te hou vir foto's wanneer die geleentheid hom voordoen. Die duifies het al ouliker geword en op 'n dag is daar begin om hulle te voer, maar nog steeds was Pa of Ma altyd op die nes. Ná voertyd is Julia en Julian onder die krop geskuif en dan is daar heerlik geslaap. Wanneer dit aand geword het en die effense koue ook aangekom het, was daar altyd een aan diens en is die twee kleintjies weer onder die kropvere ingeskuif - die duvet is dan lekker oor die kleintjies gevou. In die aand het een van die ouers in die huisie op die nessie geslaap en die een op die balk - seker om die nessie te kan beskerm teen gevaar.
Die kleintjies het vinnig gegroei en Ma en Pa Duif het die huisie, die nessie en die twee kinders vir langer tye alleen gelaat. Ek en Johan was bang dat die duifies gaan uitval wanneer hulle begin beweeg en Johan het 'n stoep aan die nessie vasgesit. Met verloop van tyd het die geel voëltjies al meer in die huisie beweeg en dit was 'n blye dag vir ons toe hulle al by die venster kon uitkyk en dit het gevoel soos 'n kind wat begin loop toe die twee vir die eerste keer op die stoepie sit. Die geel wolletjies het al meer plek gemaak vir grys vere en later het ons net stert en vlerkvere in die nessie gesien soos wat die tweetjies hul vere gestrek en gekam het.
Ons het baie gelag vir die twee se manewales wanneer Jaco of Jacomien met kos opgedaag het - in die krop en die kleintjies het dit uit die krop geëet. Die twee kleintjies het in en uit die huisie gehardloop wanneer Ma of Pa na die kante van die balk beweeg het. Die ouers het altyd op die balk naaste aan die nessie gesit en het dan by die een venster ingevlieg, kos gegee en by die ander venster uitgevlieg.
Die tweetjies sal seker een van die dae saam met Ma en Pa begin vlieg. Op die oomblik lyk dit nie asof Julia en Julian planne het om die wêreld daar buite te gaan verken nie - ek dink hulle bly te lekker. Die twee sal seker later begin koer want op die oomblik maak hulle nog klein voëljiegeluidjies. Die maskertjie om die oë - die rooi en wit - ontbreek ook nog.
Ek en Johan hoop dat hulle nog by ons gaan kom slaap. Ons gaan dit mis om die heel dag die nessie dop te hou, te gesels en foto's te neem. Dit was egter 'n belewenis om twee duifies te sien groei.
| < Vorige |
|---|





