praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Vrydag, 12. Maart 2010

Bygewerk op:04:57:57 PM GMT

Jy is hier: Feuilleton Algemeen
Facebook Twitter Digg Delicious Stumbleupon Google Bookmarks RSS Feed 
Aantal kere gelees: 791

Algemeen

Hoeveel kinders? Hoe Westerlinge demografies kwyn

E-pos Afdruk PDF

Het Moslems meer kinders as ander? ‘n Antwoord hierop kan verkry word deur die “Total Fertility Rate” (TFR) van die verskillende groepe te vergelyk. Die TFR van ‘n volk is die gemiddelde aantal kinders van alle vroue in die volk. Getroude vroue en ongetroude vroue wat nie kinders het nie word ook saam met die ander getel wat wel kinders het om die gemiddeld te bereken. ‘n TFR van 2.1 is die benaderde grens waar ‘n volk se getal mense net konstant sal bly. As dit kleiner is sal die getal mense mettertyd afneem. Daar word beweer dat ‘n TFR van 1.5-1.4 ‘n volk se getalle met ‘n derde sal laat afneem oor elke geslag, as alle ander faktore dieselfde bly. Wat nog van kleiner waardes!

Om nou Moslems met ander te vergelyk, word Engeland en Nederland as voorbeelde geneem. In Engeland is die verskille seker die grootste wat ‘n mens kan kry, maar dit neem daar ook darem af. Die inligting wat beskikbaar is vir ontleding, is van vroue wat van Moslemlande afkomstig is en nou in Engeland of Nederland woon. Benaderd is hierdie vroue ook almal Moslems (behalwe dié wat in Indië gebore is). Hulle is die “Elders gebore” vroue in die volgende tabelle en word vergelyk met die Engelse of Nederlandse vroue, die “tuisgebore” vroue van die tabelle.

Engeland en Wallis

TFR van vrouens in Engeland en Wallis

Tuisgebore

Elders gebore

Verskil tussen tuisgebore

en elders gebore

Jaar

 

Indië

Pakistan en

Bangladesh

Indië

Pakistan en

Bangladesh

1971

2.3

4.3

9.3

2.0

7.0

1981

1.7

3.1

6.5

1.4

4.8

1991

1.8

2.6

5.0

0.8

3.2

1996

1.67

2.21

4.9

0.54

3.23

In Indië is die Moslems 13% van die getal mense in hul land en in Pakistan  en Bangladesh is die Moslems 97% en 83% van die totale getalle in die onderskeie lande. Die “Pakistan en Bangladesh” mense is 3% van die totaal in Engeland en Wallis.

Nederland

TFR van vrouens in Nederland

Tuis gebore

Elders gebore

Verskil tussen tuisgebore

en elders gebore

Jaar

 

Morokko

Turkye

Morokko

Turkye

1990

1.55

4.90

3.15

3.35

1.60

1995

1.47

3.37

2.46

1.90

0.99

2000

1.65

3.22

2.18

1.57

0.53

2005

1.68

2.87

1.88

1.19

0.20

In Morokko en Turkye is die Moslems onderskeidelik 99% en 99.8% van elke land se totaal.

In Nederland is die Moslems 7% van die totale getal mense.

Die “tuis gebore” kolom sal ook benaderd die waardes vir Christene wees, hoewel die TFR waardes van Christene gewoonlik effens hoër is as dié van ongelowiges.

Verandering van TFR in verskillende lande

In bygaande figuur word die verandering van TFR gegee, vir alle mense in die onderskeie lande, vir (1) ‘n gemiddelde waarde vir Nederland en Engeland en (2) vir Turkye en (3) vir Pakistan. Dit gee ‘n aanduiding van Moslemlande teenoor Westerse lande.

Kindertal per vrou in 'n aantal lande

Die wêreld TFR = 2.6, met ander woorde die wêreldbevolking het nog ‘n effense toename in tempo  van vermeerdering. Afrilande het ‘n relatiewe hoë TFR, hoër as Suid Afrika s’n wat huidig 2.43 is, volgens die VSA se CIA gegewens. Hier volg die TFR van ‘n aantal lande: Indië—2.72, Sjina—1.79, Kanada—1.53; Oostenryk—1.42; Duitsland—1.41; Spanje—1.32; Italië—1.31; Japan—1.22. Almal, behalwe Indië is kleiner as die vervangingsgetal, sommige baie klein!

In Suid-Afrika lyk die TFR grafiek soos hieronder:

Kindertal per vrou in SA

 

Besinning

Uit die grafiek blyk dat die Blankes in Suid-Afrika se TFR-waardes al voor 1998 onder die vervangingsmerk van 2.1 was. In 2005 word dit gegee as 1.7. Die Christengedeelte van die Blankes sal ook maar benaderd dieselfde wees, 1.7 of miskien al 1.6.

Gaan die jong Boertjies iets daaraan doen?

Laas Opdateer op Donderdag, 11 Maart 2010 09:09

Die wind waai wes

E-pos Afdruk PDF

Normaalweg word verwag dat mense met ‘n konserwatiewer uitkyk, meer tot ideologiese nostalgie verbind sal wees as byvoorbeeld die “progressiewes” en meer in die besonder die liberale.

Om dit ‘n bietjie anders te verduidelik. In kerklike verband beteken “gereformeerd” min of meer om “deurlopend die wil van die Here te soek” en kan iemand wat dus sonder behoorlike ondersoek aan bestaande opvattings kleef per definisie nie gereformeerd wees nie, omdat hy in werklikheid ortodoks is.

Wat die politiek betref, is dit stellig so dat daar wel mense is wat konserwatief gebore is, en konserwatief sal doodgaan. Langenhoven het dit miskien die treffendste opgesom toe hy en ‘n paar ander saam met Loeloeiraai onderweg maan toe is. Ver genoeg van die aarde af sien een van die reisgenote dat die aarde inderdaad rond is, “maar ek bly ‘n SAP.”

Wat Suid-Afrika waarskynlik ‘n bietjie uniek maak is die ideologiese nostalgie aan die linkerkant. Per definisie moet die liberaal nie ontstemd wees as sy mede-liberaal weens die invloed van werklikhede ideologies verskuif nie. Die liberaal erken immers die mense se bykans onbeperkte reg tot meningsvryheid, soos spraakvryheid, politieke oortuiging en wat daarmee gepaard gaan.

Wat in die praktyk gebeur is egter ‘n reaksie wat eerder tuishoort by ‘n fundamentalistiese Moslem wat suur trek oor ‘n kameraad wat na ‘n ander godsdiens bekeer word. Die fatwah (in die populistiese sin) word as’t ware teen so ‘n persoon uitgereik.

Skeldname is een manier om op hierdie “verregsing” soos Jakes Gerwel dit noem, te reageer. Die woord wat gebruik is om waarskynlik die toppunt van kwetsing uit te beeld is “nieu-konserwatief.” Die angel lê nie so seer in die feit dat iemand konserwatief is nie, maar dat hy ‘n verloopte liberaal is.

Iemand wat bykans verseker kan wees dat hy die nieu-konserwatiewe mantel omgehang gaan word is ‘n voormalige Dakarganger wat sê die grondwet het gebreke.

Vir die tipiese liberaal bly die grondwet die liberale bybel, en bo kritiek verhewe. Hoogstens word geduld dat iemand die toepassing van die grondwet kritiseer. Die grondwet immers, kan net so min gebreke hê soos wat die edel barbaar ‘n sendeling in die kookpot sal stop.

‘n Newe-effek is dat die liberale hulle algaande tot irrelevansie rangeer. Verskeie hoofstroom-koerante dra nou gereeld artikels en rubrieke waarin die liberale outeurs mekaar oorbie oor wie die meeste onder misdaad deurgeloop het, maar liberaal bly. Hulle probeer mekaar oortref in hul foutvindery met die regering. Alles gaan goed tot hulle by die deel kom waar oplossings aangebied moet word.

Na verskeie sulke artikels en rubrieke is die somtotaal van hierdie advies eintlik in een woordjie saamvatbaar. Twak.

Sommiges besef dat minstens ‘n deel van die oplossing daarin lê dat sekere veranderings in ooreenstemming met internasionale grondwetlike praktyke aangebring moet word.

Dit weer, sou beteken dat die grondwet wat soos gister en soos eergister as die beste in die wêreld voorgehou is, toe al die tyd ‘n turksvy in die broeksak was, en nog erger, dat daar leemtes aan liberale opvattings moet wees.

By gebrek aan logiese argumente word teruggeval op geykte terme om konserwatiewer opvattings mee sleg te sê, soos laertrekkery, kappiementaliteit, dom, boers of wat ook al. Sekere hoofstroommedia doen hieraan mee.

Wat is die werklikheid?

Buite Suid-Afrika is liberalisme ‘n grootliks uitgediende ideologie wat min of meer in die 70’s en 80’s van die vorige eeu sy hoogtepunt in onder meer Wes-Europa beleef het. Die vryhede wat dit gebring het, het nie net tot sex shops op straathoeke en aborsies op aanvraag gelei nie, dit het ook die ruimte van vryheid van uitdrukking geskep waarbinne rykmanskinders die dodelike Baader-Meinhoffs van stapel gestuur het.

Kort voor lank moes die liberale wêreld die realiteit in die gesig staar van hoe om verskillende menseregte teen mekaar op te weeg. Iemand se reg tot uitdrukkingsvryheid kan immers nie die reg om bomme te plant insluit, wat my reg op lewe bedreig nie.

In Suid-Afrika word nog gespook om die begrensing van verskillende regte te vind. Dikwels bly die vertrekpunt die reg op uitdrukkingsvryheid wat die reg op spraakvryheid bykans onbeperk wil sien. In ‘n onlangse DA-mediaverklaring is die kwessie van die soeke na morele waardes selfs afgewys omdat dit spraakvryheid sou beperk. Dit is egter nie so eenvoudig nie, omdat die grondwet bv self voorskryf dat die president en kabinet aan ‘n etiese kode moet voldoen. Die staat het ook die plig om die contra bones mores-beginsel in verskeie regsvertakkings te onderhou. Hoogstens kan geargumenteer word die staat se rol is nie om die morele kode te formuleer nie, maar dit kan nie die instandhouding daarvan vryspring nie.

Terwyl ideologiese nostalgie lewend bly, is ideologiese migrasie ook baie bekend. Begeniselvastes sal waarskynlik argumenteer dat die ideologiese migrante in die eerste plek geen beginsels gehad het nie.

By geleentheid loop in raadslid van die NNP, mev. Kathy van Rhijn, oor na die DP. ‘n NNP-raadslid staan in die raad op en val haar striemend aan.

‘n Maand later het die DA gevorm en sit Kathy en haar kritikus weer in dieselfde party. Die ironie ontsnap nie die destydse Mangaungse burgemeester, Jani Mohapi nie. Mohapi wil by die kritikus weet of hy nog oor Kathy voel soos wat hy ‘n maand tevore oor haar gevoel het.

Die kritikus reageer in terme soos: “Dit is net ‘n swak mens wat nie sy oortuigings verander wanneer hy beter oortuigings opdoen nie.”

Die uwe, destyds ‘n redakteur, skryf toe hieroor, maar verswyg die raadslid se naam om hom teen homself te beskerm. In onkunde word “oortuigings” egter met “beginsels” vervang.

Die raadslid is ontstoke oor hy (naamloos) as beginselloos uitgebeeld is. Hy eis ‘n regstelling. Dit word onverwyld gedoen, maar steeds sonder om die raadslid te identifiseer. Hy bel egter steeds en skryf minstens een brief. Uiteindelik, na dit geblyk het niks sal die raadslid tevrede stel nie, word die lid in die apologie geïdentifiseer, met dié stertjie by dat volgens hom, daar ‘n verskil in die politiek is tussen oortuigings en beginsels.

Nodeloos om te sê toe het die hel éérs losgebars.

Hierdie beginselvaste raadslid skryf ‘n rukkie later ‘n brief aan Volksblad waarin hy (destyds ook streekleier van die Afrikanerbond) na die ANC oorloop waar hy nou lid van ‘n burgemeesterskomitee is.

Mnr. Inus Aucamp, laaste NNP-leier in die Vrystaat en wie se privaat sekretaris hierdie raadslid was, skryf in ‘n stadium onder meer die volgende in Volksblad: ““Nou kyk as daar ’n knaap is wat kan operate, is dit X. Sy opgang, van hy ’n paar jaar gelede as verdwaalde politieke ryloper in Bloemfontein aangekom het, tot nou, was fenomenaal.

“Dit word net oortref deur die meteoretiese (sic) spoed waarmee hy telkens aarde toe kom.

“Want sien, net my ingryping het verhoed dat hy uit die DA geskors is, hy is inderdaad as hoofsekretaris van die NNP geskors (’n eerste in meer as 90 jaar!) en lyk my hy het in die Afrikanerbond ook sy moses teëgekom.

“Hy’s ’n meester om ander te gebruik om sy nes te veer, maar maak dan die fout om dit telkens self te bevuil.

“Dit maak van hom ’n politieke rugryer en verfoeilike kruiper,” is wat hy van sy eertydse persoonlike assistent in die brief geskryf het.) ”

Hieroor is ‘n klag van strafregtelike laster teen Aucamp gelê, en Aucamp gearresteer. Die Direkteur van Openbare Vervolging weier om Aucamp te vervolg, en hy wen ‘n eis van onregmatige arrestasie teen die SAPD ter waarde van R30 000.

Politieke rylopers het so ‘n wrang smaak gelaat dat oorloopwetgewing in SA gestaak is. Ironies was die DA aan die voorpunt van die opheffing daarvan, na dit aanvanklik op versoek van die DA op die wetboek geplaas is.

Maar die politieke ryloper hierbo vermeld het wél ‘n geldige punt. Iemand kán ‘n Damaskuservaring hê, en tot nuwe insigte kom.

Liberale onvergenoegdheid met verloopte liberale en afgryse oor die “verregsing” dui daarop dat ideologiese migrasie nie noodwendig in die rigting van “verligting” lei nie.

Al verswyg die media grootliks hierdie wêreldwye verskynsel, verander dit niks aan die feit nie: Die wind waai wes.

Drie gesteelde koeie in 'n Tazz

E-pos Afdruk PDF

Die Toyota Tazz met die 3 koeie binneDie heimat van Nelson Mandela, die Oos-Kaap en Transkei, is nie net die swaks bestuurde provinsie in die land nie, maar ook die plek waar die vindingrykste skelmstreke uitgedink word.

Die 3 vasgemaakte koeie van agterDie polisiefoto's hierby toon drie gesteelde koeie in 'n Toyota Tazz. Eers is die motor self gesteel en daarna is die sitplekke verwyder om die gesteelde koeie te vervooer. Die wonderbaarlike is dat die koeie agterna bevry is en niks oorgekom het nie!

Die sitplekke is verwyder om die koeie te vervoerDit kan seker net in Suid-Afrika gebeur en ja, die foto's sirkuleer tans per e-pos onder die titel "Proudly South African".

Die 3 koeie, ongedeerd ná hul rit in die Tazz

Laas Opdateer op Maandag, 08 Maart 2010 12:38

Herrie se kerrie: Kleurryke geskiedenis

E-pos Afdruk PDF

Die afgelope naweek was die Herries by oupa Nic en Ouma Engela se goue bruilof.

Wanneer dit sulke tyd is, is dit te wagte dat daar al ‘n paar generasies sal wees, van pikkies wat buite krieket met die vreemdste reëls speel, tot oues in rolstoele en ‘n verskeidenheid kieries en ander loopgoed wat ‘n Zoeloe-optog met tradisonele wapens na ‘n kindertuinoptog teen vetkrytpryse laat lyk.

Oupa en ouma self is nog hups sonder loop-hulpmidels.

Tradisioneel is ‘n heildronk met vonkelwyn ingestel, wat Herrie aan ‘n stukkie laat dink wat vriend Hennie aangestuur het. Herrie pas dit noodwendig aan.

Die Vrystaatse LUR wat in die Wetgewer gesê het die misdadigers se voorouers het met skepe die land ingekom het (en toe vergeet het die slawe se voorouers het ook so hier aangeland) het die storie met ‘n ander verwar.

Die werklike verhaal is die storie van die drinkebroers, die Ohlsons se aankoms in Suid-Afrika. Dit lui min of meer so.

In die jaar 1672 het oudemeerster John Ohlson met die befaamde Three Ships onder die bevel van Captain Morgan uit Cape Velvet na Indië vertrek. Aan die Kaap, naby die plaas Simonvlei het die vloot gestrand, maar gelukkig kon die bemanning die passasiers deur die klipdrift aan wal kry.

Een van die bemanning, Johny Walker, is op ‘n white horse wat by die strandloper, Hanepoot, geleen is, na die castle gestuur om hulp te gaan kry. Onderweg het hy vreeslike moeilikheid met die lions gekry, maar gelukkig op ‘n ekspedisie afgekom wat gestuur is om na bouvalle van die ryk Monopotapa se hoofstad, Jeripigo te gaan soek. Die ekspedisieleier, ene Heineken, vererg hom so vir die lions en gaan blaker hulle met sy voorlaaier, Hunters Gold.

Hy stuur toe ‘n Portugese skipbreukeling, Dom Pedro, saam met Walker na die castle.

Die kommandeur was so bly oor geselskap dat die fort se bells lank gebeier het. Walker het egter die kommandeur se dogter Bernini, raakgesien, maar die kommandeur was so die mampoer in hieroor dat hy Walker ge-Martell het. Walker was egter g’n cold duck nie, maar ‘n man met die red heart van ‘n fish eagle.

John Walker en Bernini is gou getroud en hul skoonseun, Chivas Regal het later triomfanklik saam met die Ohlsons Johanneberger te midde van musiek van ‘n 100 pipers binnegetrek en die bekende kuierplek, die Amaroela, geopen.

Laas Opdateer op Maandag, 08 Maart 2010 17:05

Herrie se kerrie

E-pos Afdruk PDF

Herrie is nogal gesteld daarop om die polisiëringsforum-vergaderings by te woon.

Dan weet ‘n man nogal wat in die buurt aangaan, en kan ‘n man voorsorg tref.

Hier kom dit aan die lig waar word die meeste motors gesteel, en waar word die meeste in huise ingebreek, en so aan.

Nou een dag blom die polisie oor die onverwagse sukses. Hulle keer ‘n verdagte een oggend half vier aan wat ‘n hele boks vol motorradio’s by hom het. Iewers is motors van hul radio’s gestroop, meen hulle.

Maar nee, seg die man. Hy is eintlik nou die slagoffer van polisie-brutaliteit en vooroordeel.

Die polisie kan egter nie sommer sy storie gesluk kry oor hoe dit gekom het dat dié nagloper nou die trotse, wettige eienaar van ‘n boks vol motorradio’s is nie. Maar hy hou vol – hy het dit uit ‘n vullissak op ‘n sypaadjie gehaal.

Vullissakke wat nou oornag op sypaadjies staan is ‘n realiteit vandat die Rosestad Bethlehem se munisipale bestuurder afgerokkel het om dienslewering te verbeter. Die honde wat snags sakke stukkend skeur stem saam die diens aan hulle het inderdaad verbeter.

So gebeur dit dat die polisie die oggend vieruur ‘n vriendin van mev. Herrie en haar gesin opklop.

“Hierdie man vertel die Dianse &^%-storie dat hy ‘n sak met dié boks vol karradio’s op die sypaadjie gekry het,” lig die driftige polisieman die gesin in.

Die vrou des huises moet toe, soos sy dit stel, teenoor haar man, die polisie en die boef bieg dis haar skuld. Sy sit al maande aan manlief om sy rommel in die garage op te ruim, maar hy kom nie daarby uit nie. Toe begin sy maar so elke week ‘n boks rommel uit die garage laat verdwyn en saam met die vullis verwyder....”

Herrie het nou nie verneem wie nou met die boks ou radio’s sit nie.

Herrie verneem van die storie toe mev. Herrie verneem of sy nou maar van sy ou weermaguniforms kan ontslae raak. Tot die sakke waarin dit gebêre word, is besig om in te gee.

Toe word Herrie se gedagtes sommer verfris. Herrie het met ‘n vorige soortgelyke versoek onderneem om by die SANW uit te vind wat van daai uniforms? En gevergeet.

Want sien, aan die regte kant van 50 is dit onwaarskynlik dat Herrie nog opgeroep sal word.

Boonop, toe Herrie nog in daardie uniforms gepas het, het Herrie nog skaars meer as ‘n R-1 geweeg, en toe op patrollie gewoonlik maar die Swaarloop of LMG gedra om die verskilletjie uit te kanselleer. Nou weeg Herrie omtrent so veel soos ‘n hele vrag wapens wat op ‘n slag deur die polisie vernietig word, en amper soveel soos die wapens wat die polisie in ‘n jaar verloor.

Pure spiere ontwikkel, veral borskasspiere wat van die brute gewig daarvan effe afgesak het.

Met beide Groot Herrie en Klein Herrie wat al vergeet los by Herrie verbygegroei het, is daar ook nie eens ‘n kans dat een van hulle enige nut van hierdie klere sal vind nie.

Dus wag Herrie nou vir ‘n volgende polisiëringsvergadering waar die polisie trots vertel dat hulle iemand aangekeer het wat vermom soos ‘n soldaat met ‘n sak gesteelde karradio’s betrap is. En raai wat het dié skelm te vertelle...?

Bladsy 1 van 5