Gaan die Suid-Afrikaanse massas, nou, of in die nabye toekoms, wraak neem? Dit is die vraag wat by my opkom terwyl ek vanoggend na die Mail & Guardian se webtuiste kyk.
Daar is eerstens ’n berig oor Siphiwe Nyanda, voormalige hoof van die weermag en tans minister van kommunikasie-aangeleenthede. Die geagte minister besit 50% aandele in ’n maatskappy wat kontrakte met nie minder nie as vyf regeringsinstansies aangegaan het: Transnet se spoorvragafdeling, Metrorail, Autopax (die staatbusfirma), asook twee kontrakte met die Gautengse provinisiale regering.
Nyanda se maatskappy, GNS (General Nyanda Security) Risk Advisory Services (Pty) Ltd, was in 2009 in die nuus toe dit bekend geword het dat Siyabonga Gama, as hoof van Transnet se spoorvragafdeling, ’n tender van R55 miljoen aan GNS toegestaan het, sonder dat die korrekte tenderprosedures gevolg is. Toe Gama later in die moeilikheid beland het hieroor en deur Transnet geskors is, het Nyanda hom in die openbaar verdedig en verontwaardigde vergelykings getref met Jacob Zuma en die sogenaamde heksejag teen die huidige president.
In haar Mail & Guardian-rubriek skryf Nikiwe Biktisha vandeesweek oor die fenomeen van die ryk swart juppie. Sy verwys onder andere na die partytjie wat presidensiële woordvoerder, Zizi Kodwa, onlangs by ’n duur restaurant in Sandton gehou het. Die tema van die funksie was "style and fabulous glam".
Sy gaan voort om haar mede-juppies se materialisme soos volg te kritiseer:
“The shoes and shirts are not a symbol of our discerning style or taste. They are bought and worn merely to display to those around us that we've arrived. What success is being measured, though? Is it many years of working with dogged determination at a profession? Does the success come about as a result of someone having created, built or invented something? Chances are it's not.
Research shows us that South Africa has surpassed Brazil as the most unequal society in the world. So while the shoes get pointier and shirt collars longer, the number of people with no schooling, no shirts on their backs and no shoes on their feet is growing exponentially. They will make us pay the price.”
Nou wonder ek net of sy hoegenaamd ’n punt beet het. Hier langs ons in Zimbabwe beproef Robert Mugabe al sedert 1980 sy lankmoedige burgers se geduld. Hy het in die tagtigerjare 20 000 Matabeles laat uitmoor. Verder het hy die afgelope dekade die land se landbousektor skouspelagtig in duie laat stort.
Wat uit ’n Westerse standpunt verstommend is, is dat daar nog geen opstand teen hierdie gek despoot was nie! Zimbabwiërs het letterlik nie meer kos om te eet nie, maar steeds bly Mugabe stewig in die saal en voer hy en sy vrou Grace ’n weelderige lewe waarvan hulle landsburgers maar net kan droom.
Mens dink onvermydelik aan plaaslike ANC-leiers, wat met dieselfde arrogansie as Nyanda skatte onregmatig vir hulleself toeëien. Wie sal ooit die gevleuelde woorde van Smuts Ngonyama vergeet: “Ek het nie by die struggle aangesluit om arm te bly nie...”
Kan dit wees dat die gemiddelde swartman ’n onversetlike bewondering koester vir die korrupte sakelui en politici wat so in Suid-Afrika floreer? Al wat saak maak, is om bo uit te kom. Hoe dit gebeur, is minder belangrik.
Die drie miljoen werklose jong mans in hierdie land kyk miskien met afguns na die swart rykes, maar op ’n manier is hulle trots op hierdie mense en aspireer hulle om dieselfde leefstyl te hê.
Toe Julius Malema ’n ruk terug gevra is of dit nie oneties is om sy rykdom so openlik te vertoon in ’n land waar die meeste mense arm is nie, het hy skouerophalend gesê dat dit niemand pla nie, want hy is ’n voorbeeld van hoe ’n jong persoon binne die ANC sukses kan behaal.
Net gister het daardie miljoenêr en minister van behuising in die ANC-regering, Tokyo Sexwale, ’n klap gemik teen plaaslike boere deur hulle te beskuldig dat hulle aandadig is aan die plakkersprobleem deurdat hulle “miljoene werkers” van hul plase verjaag het.
Geld wat maklik verdien word, die gevoel dat die wêreld hulle iets skuld, die totale gebrek aan eie inisiatief of prestasie en ’n afwesigheid van introspeksie - dít is die Suid-Afrika van vandag. Korrupte Afrikane beklee top-posisies oral en dit is waarna die jeug aspireer.
Verskoon my dus as ek swaar sluk aan die idee van ’n populêre rewolusie om die huidige heersers uit hulle stoele te lig. Die great unwashed is besig om te droom oor Gucci-skoene en luukse motors.
Rubrieke van Dirk Uys
Gepeupel bewonder hul swart onderdrukkers
Met die snoet diep in die trog
As Suid-Afrikaners het ons al blasé geraak oor berigte ten opsigte van korrupsie binne staatsdepartemente en ook op plaaslike regeringsvlak. Die semistaatsinstellings maak egter toenemend ’n entoesiastiese bydrae in hierdie verband en beland sodoende onder die vergrootglas.
Die huidige Eskom-krisis het sedert gister vir my ’n heel praktiese dimensie aangeneem. Die instansie in die Vaaldriehoek waar ek werk, is naamlik al van gisteroggend sonder krag. Niemand weet hoe lank dit gaan duur nie en die munisipaliteitsfone word nie beantwoord nie.
Eintlik is dit simbolies van die drama wat hom tans by Megawattpark afspeel. Die een oomblik was Jacob Maroga nog die grootbaas, die volgende oomblik het hy bedank, en so het die absurde verhaal dae voortgeduur. Volgens die nuutste inligting het senior bestuurslede die Eskom-uitvoerendehoof in ’n brief boonop daarvan beskuldig dat hy nuus oor die instansie se astronomiese tariefverhogings met opset teruggehou het tot ná die algemene verkiesing vroeër vanjaar, ten einde nie die ANC se kans by die stembus te beduiwel nie.
Sowat twee weke gelede het Maroga ’n strategiedokument vir Eskom opgestel. Hierin erken hy dat Eskom hulle kontantvloeisituasie erg onderskat het. “Die huidige realiteit van ons kontantvloei bewys dat ons siening van vier jaar gelede erg onakkuraat was. As ons nie die hoofoorsake van hierdie gebrek dissekteer en doeltreffend korrigeer nie, gaan ons dit (die fout) herhaal, tot nadeel van die land.”
In plaas van om self ten minste ’n gedeelte van die blaam te neem vir wat binne die instansie verkeerd gegaan het, kla Maroga dan in die dokument oor die gebrek aan openlikheid en deursigtigheid binne Eskom. Daar word te veel staatgemaak op konsultante om die werk gedoen te kry. “Die sienings van wit deskundiges van buite dra meer gewig in sekere kringe as die opinies van ervare swart bestuurders,” meen hy verder. Hy kla dat daar nog nie genoeg swart bestuurders aan boord is by Eskom nie en verwys na “tegnokratiese arrogansie, ’n apartheidstyl-toesighouermentaliteit, gebrek aan deursigtigheid en geheimhouding.” En dan die finale hou: “Eskom kan nie binne die nuwe demokrasie funksioneer sonder ’n fundamenteel geherstruktureerde kultuur nie.”
Dit is interessant dat Maroga nie eenmaal na homself en sy gebrekkige leierskap verwys nie. Dit is immers onder sy septer dat die land verlede jaar miljarde rande se verliese gely het weens grootskaalse kragonderbrekings. In enige Europese land of die VSA sou so ’n amptenaar uit skaamte op sy swaard geval het. Maar nee, Maroga het rustig voortgegaan en selfs verlede jaar ’n allemintige 27%-salarisverhoging vir sy onbekwaamheid ontvang.
Volgens Maroga en sy ondersteuners is die hoofsondebok hier die gerieflike verskoning van rassisme, asook Eskom se sogenaamde onvermoë om by die “nuwe demokrasie” aan te pas. Die feit dat soveel konsultante gebruik word, is vir enige leek voor die hand liggend. Die gebrek aan ervaring in die organisasie noodsaak die aanstelling van blanke deskundiges, dieselfde persone teen wie Maroga egter te velde trek. Indien Maroga ’n poging aangewend het om die ervare blanke amptenare in die organisasie te behou, was daar nie vandag ’n noodsaak vir hulp van buite nie.
Maroga het hom veral verset teen die aanbevelings van Susan Olsen, Amerikaanse energiedeskundige, wat hom ses maande voor verlede jaar se elektrisiteitskrisis gewaarsku het oor die faktore wat die instansie kon laat ineenstort. Maroga maak haar verslag in sy strategiedokument van nou die dag egter af as tipies van die “wittoesighouerfenomeen” by Eskom.
Hy is natuurlik heftig gesteun deur die Black Management Forum en die ANC-jeugliga, wat almal rassisme bygesleep het in hulle steun aan die Eskom-baas.
Binnekort moet Eskom die nodige fondse vind vir hulle R385-miljard-uitbreidingsprogram. Die feit dat die Eskom-raad en die regering nie meer ’n behoorlike verstandhouding het nie, kan ernstige gevolge vir die energieverskaffer hê. Groot instansies sal huiwerig wees om in hierdie konteks geld aan Eskom te leen.
Bobby Godsell, wat ’n onkreukbare reputasie in die sakewêreld het en op grond van sy ervaring die organisasie uit die huidige chaos kon help, het bedank omdat hy nie kans gesien het om met hierdie sirkus aan te gaan nie. Op 23 Oktober nog het hy tydens ’n vergadering met die Eskom-raad sy kommer uitgespreek oor Maroga en sy bestuur wat nie die mas opkom nie. Het iemand geluister?
Ook binne die ander semistaatsinstansies gaan dit beroerd: die afgelope paar dae berig die koerante oor moeilikheid tussen die direksie van Krygkor en Sipho Thomo, hulle arrogante uitvoerende hoof. SAA het ’n waarnemende uitvoerende hoof nadat Khaya Ngqula moes bedank weens korrupsie. Transnet het ook ’n waarnemende voorsitter én waarnemende uitvoerende hoof; Siyabonga Gama, voormalige hoof van Transnet se spoorvrag-afdeling, staar klagtes van korrupsie in die gesig en die SABC is op soek na ’n nuwe baas nadat die voormalige kaptein van die sinkende skip, Dali Mpofu, belastingbetalers R11 miljoen aan ’n sakgeldjie vir die pad gekos het. Skynbaar gaan ons boonop voortaan ekstra belasting moet betaal om te vergoed vir die miljoene wat onbekwame amptenare by die SABC gemors en gesteel het.
Dan is daar ook die geval van die mynmaatskappy Foskor, ’n filiaal van die regeringsbeheerde Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK). Alhoewel swart ekonomiese bemagtigingswette nie op die staat van toepassing is nie, verkoop die instansie tans 26% van Foskor aan swartekonomiesebemagtigingsgroepe, terwyl NOK dit 100% finansier. Die varke se snoete is al so diep in die verkrygingstrog dat hulle dit beswaarlik weer gaan uitkry.
Soos Rhoda Kadalie vroeër vandeesweek in Beeld opgemerk het toe sy ’n “kameraad” aangehaal het: “Onder Mbeki was dit korrupsie; onder Zuma is dit doodgewoon plundering.”
Al meer politieke kenners en joernaliste gebruik deesdae die uitdrukking “mislukte staat” (failed state) ten opsigte van Suid-Afrika. Die huidige onbekwame dwase wat die regering tot bankrotskap en stilstand dryf, gaan maar net keer op keer deur dieselfde soort imbesiele met identiese onbekwame optrede vervang word, natuurlik op instruksies van die ANC se interne ontplooiingskomitee. Het dit dan nie tyd geword vir “die toesighouers” om daadwerklik terug te keer tot die toneel nie?
Die kroonprins
Suid-Afrikaners kan bevoorreg voel. Nie net het ons die beste rugbyspan ter wêreld nie, maar gister het ons boonop verneem dat ons ook oor die beste jeugbeweging op die planeet beskik. Floyd Shivambu, segsman van die ANC-jeugliga, meen dié organisasie is “die mees formidabele politieke jeugbeweging, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook op die hele vasteland en in die wêreld.” Die jeugliga se “vreesloosheid, dinamika en onverbiddelike fokus op ontwikkeling” onderskei hulle van al die ander. Aldus Shivambu.
Aan die hoof van die ANC se jeugbeweging staan Julius Malema, wat eweneens deur sy lofsanger besing is, omdat hy “die armes en verdruktes” help.
Shivambu is in goeie geselskap. Oor die afgelope naweek het president Jacob Zuma besoek afgelê in Seshego in die Limpopo-provinsie, die houtwerk Wunderkind se tuisdorp. Hy het tydens hierdie geleentheid Malema geloof vir sy begrip van mense. Hy sien hom as “’n goeie leier wat mense verstaan.” Ouer ANC-leiers is volgens Zuma dankbaar om te weet dat hulle die party in mense soos Malema se bekwame hande kan laat.
Mandy Rossouw en Max du Preez het pas ’n boek oor hierdie kontroversiële jeugleier laat verskyn, getiteld The World according to Julius Malema. Du Preez meen dat Malema verteenwoordigend is van ’n nuwe generasie in die ANC en sien hom as ’n moontlike presidentsfiguur in die toekoms.
Julius Malema word dikwels deur blanke Suid-Afrikaners as ’n soort hanswors gesien. Hier is die man wat immers na Helen Zille as “’n lelike dogtertjie” verwys het, wat onderneem het dat hy en sy vriende “sal doodmaak vir Zuma” en wat verkragting skynbaar nie ernstig opneem nie. Hy meen verder dat die myne genasionaliseer moet word en dat daar geen onaansienlike vroue in die ANC is nie. En wie het nie geglimlag toe ons sy reaksie ’n tydjie gelede gelees het oor die 14 verkeersboetes wat hy nog nie betaal het nie? “Ek ken net revolusie, ek weet niks van motorbestuur nie,” het hy verontwaardig aan die joernalis gesê wat hom hieroor uitgevra het.
Dit is maklik om jou oor sulke lomp geformuleerde, banale sêgoed te verkneukel. Wat dit egter kommerwekkend maak, is om te besef hoe groot die man se aanhang is. Hy is beslis nie maar net ’n gemarginaliseerde figuur wat binne die ANC verdra word nie. Die gang voor sy kantoor is volgens koerantberigte bedags gevul met dosyne mense wat die ANC-jeugleier kom sien as hulle nêrens anders reggekom het nie, in die hoop dat die ANC-boelie met ’n paar skuiwe hulle probleme sal oplos. Hy ken skynbaar vele van die ANC-hoëkoppe se geheime en hy huiwer nie om sy “kennis” te gebruik om sy sin te kry nie.
’n Paar dae gelede het Malema aan ’n openbare debat oor die onderwerp van die moontlike nasionalisering van myne deelgeneem. Tydens hierdie byeenkoms het hy sy medesprekers, Kuseni Dlamini (voormalige uitvoerende hoof van Anglo American) en Tim Cohen (joernalis) onder die tafel ingepraat. Vir 52 minute het hy voortgeteem. Hy het soos gewoonlik vele belaglike stellings gemaak, soos om te sê dat nasionalisering meer beleggers na Suid-Afrika sal lok en dat die mynboubedryf sal aanhou belé in die land omdat dit so veilig en vreedsaam hier is.
In 2008 het die mynbedryf ’n inkomste van R405 miljard gegenereer, maar moes R409 miljard uitgee. Sal die staat bereid wees om hierdie verlies te dra? Daarop het Malema natuurlik geen antwoord nie.
Dit was egter interessant dat sy woorde opgeslurp is deur die oorwegend jong, swart studentegehoor. Waarom sal sogenaamde intelligente jongmense met openlike bewondering na sulke onsinnighede luister?
Die antwoord hierop is dat Malema die kaart van die onderdruktes meesterlik speel. Hy kan hierdie snaar vir ewig tokkel en wakker so die emosies van swartmense aan.
Tydens sy diskoers oor nasionalisering het hy byvoorbeeld na die armoede in Sekukuni verwys. Al die rykdom wat plaaslik uit platinum gemaak word, word volgens hom na elders versprei en die plaaslike bevolking trek geen voordeel uit die minerale opbrengs nie. Al wat hulle het, is paaie met slaggate, deur die mynvoertuie veroorsaak…
Hy kan die saak van die “underdog” meesterlik verdedig. Jong, gefrustreerde swartmense wat nog nie kon “skep” uit die rykdom om hulle soos die ouer generasie nie, herken hulleself in hom. Hy verdedig vir Caster Semenya en omskep dit in ’n rassesaak waarin die apartheidspook weer loop. Hy insinueer dat blankes nie in die land welkom is nie. Hierdie gewaagde taal maak hom gewild by ’n jong generasie wat toenemend gefrustreerd is omdat hulle uitgesluit word uit die formele werksektor weens gebrekkige kwalifikasies en ervaring.
Die feit dat hy in ’n oorwegend blanke woonbuurt bly, Armani-jeans dra en in ’n swart Mercedes C350 ry, pla sy aanhangers nie. Hy verteenwoordig naamlik dít waarna hulle aspireer.
Julius Malema mag dalk nie die slimste skoolleerling gewees het nie, maar dis duidelik dat hy op die politieke toneel vir homself ’n perfekte nis gevind het.
En vir diegene wat steeds dink dat ons jeugleier nie oor die nodige intellektuele kapasiteit beskik om president te word nie, wil ek net daaraan herinner dat die huidige president van Suid-Afrika ’n voormalige beeswagtertjie sonder enige formele skoolopleiding is...
Is wit en swart in Suid-Afrika geprogrammeer om in onvrede te leef?
Wat mens die meeste opval gedurende die huidige hofsaak van oudpolisiekommissaris Jackie Selebi, is die houtgeruste houding waarmee Selebi sy saak benader. Hy straal ’n soort nonchalante arrogansie uit wat mens nie noodwendig met ’n hoëprofiel beskuldigde assosieer nie.
Hy het komkommerkoel geglimlag enkele dae gelede toe sy finish & klaar vriend en dwelmbaas, Glen Agliotti, tydens ’n ondervragingsessie emosioneel geword het. “Hy gaan nog ’n hele boks snesies nodig kry tydens kruisondervraging,” het hy droogweg teenoor ’n groepie joernaliste opgemerk. Hier is ’n man wat, as nasionale polisiehoof en hoof van Interpol, skaamteloos koeverte met banknote ter waarde van R1 miljoen asook vele duur geskenke van sy dwelmhandelaarvriend ontvang het. Wat destyds saam met sy vrou gaan juwele uitsoek het in ’n juwelierswinkel in Pretoria en toe “per ongeluk” by die winkel uitgeloop het, met ’n duur halssnoer toevallig nog om sy vrou se nek...
Selebi is nie die enigste swart hoogggeplaaste wat hom aan arrogansie skuldig maak nie. Regter Nkola Motata het ons onlangs verstom met sy ontkenning dat hy dronk was, deur ’n tuinmuur gejaag het en daarna rassistiese en seksistiese opmerkings gemaak het. Die onomstootlike videogetuienis in hierdie verband het nie swaar geweeg by ons beskonke landgenoot nie.
Julius Malema, leier van die ANC se jeugliga, is nog ’n arrogante stommerik wat nie net keer op keer belaglike uitsprake maak nie, maar dieselfde stommiteite telkens verdedig sonder om ’n oog te knip.
Dan is daar Siyabonga Gama, hoof van Spoornet, wat ten spyte van oorweldigende getuienis teen hom steeds die martelaar probeer speel het en onverbiddelik voortgeveg het teen sy skorsing deur Transnet (weens onreëlmatighede met die toekenning van tenders). Daardie vet salaris wat Maria Ramos se opvolger by Transnet gaan trek, was duidelik net te aanloklik. Die hof het hom weliswaar pas in sy pogings gestuit, maar ek voorspel dat dit net ’n kwessie van tyd gaan wees voordat hy weer sy kop oplig en sy onskuld verder probeer verkondig. Sy tweede naam is nie verniet Innocent nie...
En dan is daar die meester - Leonard Chuene, president van Atletiek Suid-Afrika (ASA), wie se oggend- en aandpraatjies so verstommend van mekaar verskil. Hy het die land in die skande gesteek met sy vele liegstories, dog sien geen rede waarom hy moet bedank nie.
So kan ons voortgaan en ’n hele klompie ANC-hoës opnoem, wat ons in die afgelope paar jaar met hulle ongelooflike arrogansie verstom het. Duidelik is die Kaukasiese gebruik van openbare biegsessies, met ’n traan of twee en ’n bedanking as jy uitgevang word, ’n praktyk wat vreemd is aan die swart kultuur. Binne die swart gemeenskap word dit skynbaar as ’n teken van swakheid gesien om foute te erken.
Miskien is daar ’n les te leer uit die geskiedenis van die fenomeen négritude. Leopold Senghor, wat later president van Senegal sou word, was een van die leiers van hierdie beweging wat in die 1930s in Parys ontstaan het. Swart studente wat in Parys studeer het, het gevoel dat daar teen hulle as swartmense gediskrimineer word en het ’n politieke en letterkundige beweging gevorm om aan hulle solidariteit met mekaar en hulle trots op hulle swart identiteit uiting te gee.
In die 1960s het Steve Biko die swart bewussynsbeweging in Suid-Afrika aan die gang gesit om by swartmense in te prent dat hulle vir hul eie bevryding verantwoordelik was en dat Suid-Afrika aan swart Afrikane behoort het. Hierdie swart bewussynsideologie het natuurlik sy oorsprong in Afrika-nasionalisme en kan teruggedateer word na die 1880s. Skrywers soos Frantz Fanon (1925-1961) het ook ’n groot rol gespeel in die definisie van swart bewussyn.
Fanon het onder andere die volgende kwytgeraak:
“Die swartman is sielkundig ontmagtig, nie meer in staat tot handeling nie. Die swartman verag die wit gemeenskap, maar is ook afgunstig daarop. Die swarte besef dat sy eie vel hom verhoed om ooit dieselfde voordele in te palm en verag daarom sy swartmanskap”.
Wat Fanon, Biko en ander gedoen het, was om weer aan swartmense ’n trots op hulle identiteit terug te gee. Swartmense was volgens hulle slagoffers wat beter verdien het en grond & eiendom kon toe-eien op grond van vorige diskriminasie.
Binne hierdie konteks word kritiek op swartmense gerieflik gesien as aanvalle op hulle as ’n groep, en onbekwame individue gebruik dit dus tydig en ontydig as wapen. Om as
’n rassis getipeer te word, is immers ’n bron van groot stres vir die gemiddelde blanke en
’n seker manier om sy/haar loopbaan of reputasie te kelder.
Die probleem met ’n gerieflike, kollektiewe verskoning, is natuurlik dat daar geen insentief meer is om jou as individu te onderskei, of aanspreeklikheid vir jou dade te aanvaar nie. Daar word maar net gemaklik agter die persepsie van die verontregde groep geskuil en basta met enige kritiek.
Die geskiedenis leer ons dat arrogansie en trots op ’n kollektiewe identiteit normaalweg sterk saamhang met prestasies en uitnemendheid. ’n Gemeenskap is trots op wat hulle vermag het en dit wat hulle bereik het, wakker gesonde selfvertroue aan.
In die geval van die swartman is die selfvertroue egter gebaseer op ’n desperate poging om aan sy negatiewe beeld te ontsnap. Daar is geen luisterryke verlede nie, net ’n geskiedenis van sukkel en grootliks mislukte nabootsing van die meer suksesvolle blanke gemeenskap.
Dit is dan ook hoekom Afrikane, tot die groot frustrasie van die IMF en die Wêreldbank, nie daarin slaag om politieke en ekonomiese wasdom te bereik nie. Hulle is die ewige slagoffers en hulle foute word bloot voor die deur van kolonialisme gelê. Trots op swart wees is egter nie genoeg om ekonomieë aan die gang te kry as dit op niks tasbaar en konkreet gebaseer is nie.
Dié kloof tussen wit en swart is een van die hoofredes waarom daar nooit werklik harmonie in Suid-Afrika kan wees nie. Die blanke minderheid lê klem op doen - prestasie en sinvolle bydraes tot hulle omgewing om hulle bestaan te regverdig. Die swart gemeenskap, daarenteen, het vele appeltjies met hulle gewaande onderdrukkers te skil en baseer hulle trots op blote wees. Die gebrek aan verwesenliking van hierdie swart trots skep by albei groepe spanning. Vir die blankes perpetueer dit die negatiewe beeld wat hulle oor die algemeen van swartmense en hulle potensiaal het. Hulle hoor Julius Malema vra dat blanke boere nie die land moet verlaat nie, maar eerder hulle vaardighede met opkomende swart boere moet deel. Hulle skud hulle koppe, omdat hulle misbruik voel binne ’n parasitiese samelewing.
By swartes skep die gebrek aan prestasie in eie geledere ook frustrasie, aangesien hulle gevolglik in Fanon se woorde nie oor dieselfde verworwe voordele as blankes kan beskik nie. Waar hulle wel poog om simboliese handelinge uit te voer, soos met grondoordrag, word hulle keer op keer gekonfronteer met die onbekwaamheid van hul eie mense, wat hierdie handelinge ongedaan maak.
Tensy daar enorme denkskuiwe plaasvind, is hierdie twee gemeenskappe onvermydelik gedoem om in konflik te lewe. Van simbiose tussen ’n gewillige gasheer en parasiet is daar hier nie sprake nie. En dit wil vir my al meer voorkom of die geduld aan albei kante besig is om op te raak.
Soos Herodus in ’n crèche
Pas kom die nuus dat Mo Shaik aangewys is as die nuwe hoof van die Suid-Afrikaanse geheime diens. Ons eie kaalkop James Bond is ’n getroue vriend van president Jacob Zuma, wat beteken dat die regering sy houvas op die intelligensiedienste só verstewig het.
Die minister van staatsveiligheid, Siyabonga Cwele, het tydens die perskonferensie waar die aanstelling aangekondig is, verwys na Shaik se ervaring in die ANC se ondergrondse strukture tydens die struggle-tydperk. Hy was naamlik betrokke by die insameling en analise van koverte inligting vir die ANC.
Aan die einde van die negentigerjare het Shaik as ambassadeur in die konflikgeteisterde Algerië gedien. Tussen 2003 en 2004 was hy ’n spesiale adviseur vir die minister van buitelandse sake en hoof van die departement se beleidsafdeling. In 2005 het hy uit Buitelandse Sake bedank om hom aan Nkobi Holdings, die maatskappy van sy beleërde broer Schabir, te wy. Hy het meer onlangs ’n deurslaggewende rol gespeel in Jacob Zuma se presidensiële veldtog. Hy en sy broers het verder belange in die Mosambiekse mynbedryf.
Mo Shaik is, soos verskillende verteenwoordigers van Suid-Afrikaanse politieke partye Vrydag aangedui het, ’n kontroversiële figuur. Sy verbintenis met Zuma dateer uit die tagtigerjare, toe Jacob Zuma hoof was van die ANC se intelligensiebeen. Hy het die Shaik-broers persoonlik gewerf om in sy netwerk te dien. Mo was deel van die ANC-groep wat die omstrede Vula-operasie gelei het om aan ’n gewelddadige opsie te werk vir ingeval die Codesa-samesprekings sou misluk. Hy het ook aan die hoof van ’n eenheid gestaan wat spioene binne ANC-geledere uitgesnuffel het.
In 2003 tydens die Hefer-kommissie se ondersoek na beweringe oor Bulelani Ngcuka (destydse hoof van die nasionale vervolgingsgesag) het Shaik geklassifiseerde inligting aan die media gelek.
Mo Shaik se ewe kontroversiële broer Schabir, was vroeër Zuma se finansiële adviseur. Hy is in Maart vanjaar op mediese parool vrygelaat nadat hy 2 jaar van sy 15 jaar gevangenisstraf vir bedrog en korrupsie uitgedien het.
Chippy Shaik, jongste broer van Schabir en Mo, het in 2007 na Australië uitgewyk. Hy was tydens die besluitneming oor die wapenkontrakte verantwoordelik vir wapenaankope binne die Suid-Afrikaanse weermag. Hy sou na bewering omkoopgeld van ’n Duitse firma ontvang het en het homself verder onderskei het deur plagiaat in sy doktorale verhandeling vir die Universiteit van KwaZulu Natal te pleeg. Voordat hy egter oor al hierdie bewerings ondersoek kon word, het hy die land verlaat.
Die Demokratiese Alliansie het in hulle reaksie op Shaik se aanstelling as hoof van die Geheime Diens gesê dit is soos om Herodus in ’n crèche los te laat.
Dit is bekend dat die arrogante Moe Shaik al geruime tyd gelede die posisie aangebied is. Hy het dit egter aanvanklik geweier, nadat hy ’n negatiewe reaksie ontvang het op sy voorwaarde dat hy alleen, en sonder inmenging, besluite wou neem. Die vraag kan nou tereg gevra word wat hom enkele weke later van mening laat verander het. En hoe gesond dit kan wees vir iemand met sy sluwe manier van optrede en kontroversiële verlede om nou aan die hoof van ’n intelligensie-agentskap te staan. Hy is alles behalwe die spreekwoordelike grysbroekmannetjie wat tevrede is om op die agtergrond te bly. Dit kort geen vernuf om te voorspel dat hy kort voor lank die armsalige Geheime Diens in nog erger polemieke en verleentheid as sy voorgangers gaan dompel.
JPAGE_CURRENT_OF_TOTAL








